Hier volg nou die woorde van koning Lemuel van Massa se ma: My kind, wat sal ek vir jou sê? Jy wat ek in die lewe gebring het. Jy, my gebedskind, wat ek van die Here afgesmeek het. Luister mooi wat ek vir jou wil sê: Moenie jou liggaam vir ’n los vrou gee nie. Moenie dat sy jou lewe vernietig nie. Sulke vroue bring konings tot ’n val. Pas op vir te veel wyn. Dit pas nie by ’n koning nie. Mense wat regeer, moet nie heeltyd na drank ruik nie. Netnou drink hulle te veel en vergeet hulle hulle pligte. Kort voor lank dink hulle nie meer aan die arm mense wat hulle moet help nie. Gee eerder ’n bietjie drank aan mense wat op hulle laaste is, wyn aan hulle met wie dit bitter sleg gaan. Laat hulle drink sodat hulle hulle ellende kan vergeet, sodat hulle nie meer aan hulle swaarkry dink nie. Help liewer die mense wat nie self hulle saak kan stel nie. Wees jy hulle stem. Kom op vir die hulpeloses. Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes. Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom. Wat nodig is vir die huis, dit kry sy. Sy verrig haar dagtaak met vreugde. Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg. Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag. Sy het ’n oog vir ’n winskopie, maar sy dink mooi voor sy koop. Die geld wat sy so spaar, belê sy versigtig. Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar. Die kanse wat die lewe haar bied, gryp sy met albei hande. Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen. Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy. As die winter kom, voel sy gerus. Sy weet haar gesin het genoeg warm klere vir die koue. Baie van die mooi goed in haar huis het sy self gemaak. Haar pragtige klere is ook handgemaak. Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is. Met vaardigheid maak sy klere en verkoop dit. Mense koop graag haar handewerk. Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie. Haar wyse woorde help ander om reg te leef. Sy het goeie raad vir ’n gelukkige lewe. Sy is in volle beheer van haar huishouding. Luiheid ken sy nie. Haar kinders is dankbaar vir so ’n ma. Haar man oorlaai haar met komplimente. In hierdie lewe is daar baie goeie vroue, maar hierdie vrou oortref almal. Mooiheid bedrieg, skoonheid vergaan, maar ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. Eer haar vir wat sy doen. Almal sal haar lof besing.
Lees Spreuke 31
Deel
Vergelyk alle weergawes: Spreuke 31:1-31
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's