SPREUKE 27:1-14

SPREUKE 27:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Jy moenie spog oor wat jy môre sal doen nie, want jy weet nie wat môre sal gebeur nie. Jy moenie jouself prys nie, iemand anders kan dit doen, iemand van 'n ander plek kan jou prys, jy moenie dit self doen nie. Klip en sand is swaar om te dra, maar wanneer 'n dwaas jou kwaad maak, dan is dit nog swaarder. Wanneer iemand kwaad is, dan is hy wreed, dit is soos baie water wat oor jou spoel. Wanneer 'n man jaloers is, dan kan jy nie teen hom bly staan nie. Dit is beter om eerlik vir iemand te sê wat hy verkeerd doen, beter as om vir hom lief te wees maar dit nie te wys nie. Wanneer 'n vriend jou seermaak, dan doen hy dit omdat hy jou vriend wil bly. Wanneer iemand jou die hele dag wil aanhou soen, dan haat hy jou. Wanneer iemand genoeg geëet het, dan is heuning nie meer lekker nie, wanneer iemand honger is, dan proe 'n bitter ding ook soet. Iemand wat sy huis los en weggaan, is soos 'n voël wat wegvlieg van sy nes. Olyf-olie en wierook laat jou lekker voel, maar 'n goeie vriend weet beter as jyself wat goed sal wees vir jou. As jy 'n vriend het, dan moet jy hom nie los nie, ook nie iemand wat jou pa se vriend was nie. Wanneer dit sleg gaan met jou, dan kan jou buurman wat naby is, vir jou beter help as jou broer wat ver is. My seun, jy moet 'n wyse mens word. Dit sal my bly maak, en dan sal ek kan antwoord wanneer iemand wys dat hy dink ek is nie belangrik nie. 'n Verstandige mens sien wanneer daar probleme kom, en hy vlug, mense wat baie min weet, vlug nie, en hulle kry swaar. Wanneer iemand borg gestaan het vir 'n mens wat hy nie ken nie, wanneer hy belowe het om te betaal wat iemand uit 'n ander land skuld, dan moet jy sy klere vat as jý iets van hom wil terugkry. Wanneer 'n persoon vroeg in die oggend hard skree om iemand te groet, dan sal mense miskien dink hy is besig om die man te vervloek.

SPREUKE 27:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie. Laat dit aan 'n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit 'n ander se mond kom, nie uit joune nie. Klip en sand is swaar om te dra, maar die ergernis wat 'n dwaas veroorsaak, is swaarder as altwee. Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is 'n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemand opgewasse nie. 'n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene. As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet. Soos 'n voël wat sy nes net so los, so is 'n man wat sy gesin in die steek laat. Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry. Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: 'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is. As jy wysheid leer, my seun, sal dit my gelukkig maak en sal ek kan terugantwoord as ek weer skimpe oor jou hoor. 'n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor. As 'n vreemde vir iemand borg staan, vat sy klere van hom af; hou dit as pand, al staan hy borg vir 'n slegte vrou. As iemand sy buurman vroegdag met 'n geskreeu môre-sê, kan mense dink hy is besig om hom te vervloek.

SPREUKE 27:1-14 Die Boodskap (DB)

Moenie te seker oor môre en oormôre wees nie, want jy weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie. Moenie jou eie beuel blaas nie. Moenie vir almal vertel hoe goed jy is nie. Laat ander mense dit liewer doen. Daar is iets wat erger is as ’n swaar klip of ’n vrag sand. Dit is om saam met ’n dom mens te bly. Daar is iets wat nog verskrikliker is as ’n vinnige humeur. Dit is ’n jaloesie wat ’n mens verteer. Dit is beter dat iemand jou uit liefde berispe as dat iemand jou liefhet, maar dit nooit wys nie. Harde woorde van ’n goeie vriend is goed bedoel. Oordrewe vriendelikheid van mense van wie jy nie hou nie, is oneg. Iemand wat genoeg geëet het, is vir niks meer lus nie. Vir iemand wat baie honger is, is selfs die slegste kos lekker. Soos ’n voëltjie van sy nes verjaag word en verlore rondvlieg, so is ’n mens wat sy familie en vriende verlaat en eensaam rondswerf. Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe. Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie. As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het. ’n Slim mens sien probleme ver aankom en hy tref die nodige voorsorg. ’n Dom mens karring net aan en beland in groot ellende. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge. Veral as die ander party diep in die skuld is. Iemand wat vroeg in die môre, terwyl almal nog slaap, sy buurman wakker maak om hom te groet is baie dom. Hy het geen gevoel vir die regte ding wat op die regte tyd gedoen moet word nie. Niemand wil iets met hom te doen hê nie.

SPREUKE 27:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie. Moenie jouself op die skouer klop nie. Laat iemand anders jou liewer prys. Dit is swaar om klip en sand aan te dra, dit is nog swaarder om die ergernis te verdra wat ’n dwaas jou veroorsaak. Woede kan wreed wees en toorn ’n onstuitbare vloed, maar teen jaloesie is daar geen verweer nie. ’n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Die wonde veroorsaak deur iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee. As jy genoeg geëet het, is heuning nie meer lekker nie. Wanneer iemand honger is, is selfs ’n bitter ding lekker. Iemand wat wegloop van sy huis af, is soos ’n voël wat sy nes verlaat. Eerlike raad van ’n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook. Moenie jou rug draai op jou vriend of op iemand wat jou pa se vriend was nie. Wanneer jy moeilikheid het, hoef jy nie na jou broer se huis te gaan nie. ’n Buurman wat naby is, is baie meer werd as ’n broer wat ver is. As jy wys is, my seun, sal dit my gelukkig maak. Dan sal ek kan terugantwoord wanneer ek bespot word. ’n Verstandige mens sien onheil kom en kruip daarvoor weg. Onverstandige mense loop oopoë daarin en betaal die prys daarvoor. Vat iemand se klere as hy borg staan vir ’n vreemdeling. Hou dit as pand wanneer hy borg staan vir ’n vreemde vrou. As iemand vroegoggend sy buurman luidrugtig môre-sê, kan dit lyk of hy hom eerder vervloek.