SPREUKE 27:1-14

SPREUKE 27:1-14 NLV

Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie. Moenie jouself op die skouer klop nie. Laat iemand anders jou liewer prys. Dit is swaar om klip en sand aan te dra, dit is nog swaarder om die ergernis te verdra wat ’n dwaas jou veroorsaak. Woede kan wreed wees en toorn ’n onstuitbare vloed, maar teen jaloesie is daar geen verweer nie. ’n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Die wonde veroorsaak deur iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee. As jy genoeg geëet het, is heuning nie meer lekker nie. Wanneer iemand honger is, is selfs ’n bitter ding lekker. Iemand wat wegloop van sy huis af, is soos ’n voël wat sy nes verlaat. Eerlike raad van ’n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook. Moenie jou rug draai op jou vriend of op iemand wat jou pa se vriend was nie. Wanneer jy moeilikheid het, hoef jy nie na jou broer se huis te gaan nie. ’n Buurman wat naby is, is baie meer werd as ’n broer wat ver is. As jy wys is, my seun, sal dit my gelukkig maak. Dan sal ek kan terugantwoord wanneer ek bespot word. ’n Verstandige mens sien onheil kom en kruip daarvoor weg. Onverstandige mense loop oopoë daarin en betaal die prys daarvoor. Vat iemand se klere as hy borg staan vir ’n vreemdeling. Hou dit as pand wanneer hy borg staan vir ’n vreemde vrou. As iemand vroegoggend sy buurman luidrugtig môre-sê, kan dit lyk of hy hom eerder vervloek.

Video vir SPREUKE 27:1-14