SPREUKE 1:1-33
SPREUKE 1:1-33 Bybel vir almal (ABA)
Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. Spreuke leer vir jou wysheid. Dit leer vir jou om te weet wanneer mense verstandige dinge sê, en dit leer vir jou om te luister wanneer iemand vir jou die regte dinge leer oor wat goed en reg en regverdig is. Spreuke maak jong mense wat baie min weet, verstandig, sodat hulle sal weet wat die regte dinge is om te doen. Wyse mense moet ook luister na die spreuke, sodat hulle nog meer sal weet. Verstandige mense moet leer, sodat hulle die spreuke en die slim dinge wat wyse mense sê, sal verstaan. Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim. Dit is dwase wat dink dit is nie belangrik om wysheid te hê en om te leer nie. My kind, jy moet luister na wat jou pa en jou ma vir jou wil leer, jy moenie vergeet wat hulle vir jou leer nie. As jy dit nie vergeet nie, dan sal jy 'n mooi lewe hê. My kind, wanneer sondaars jou verkeerd wil laat doen, dan moet jy nie luister na hulle nie. Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons, dan wag ons totdat iemand verbykom, en dan maak ons hom dood, dit maak nie saak of hy niks verkeerd gedoen het aan ons nie. Hy is nog lewendig en gesond wanneer ons hom vang, maar ons sal hom laat sterf en laat afgaan na die doderyk, na die graf. Dan sal ons baie kosbare goed kry en ons sal ons huise volmaak met die goed wat ons vat. Jy sal een van ons wees en ons sal almal kry van die goed wat ons vat.” My seun, jy moenie dan saam met daardie mense gaan nie, want hulle wil verkeerde dinge gaan doen, hulle wil mense vermoor. Wanneer 'n voël 'n vangnet sien wat mense vir hom styfgetrek het, dan vlieg die voël nie vas in die net nie. Maar hierdie mense trek 'n net styf vir hulleself, hulle sal in hulle eie net sterf. Elke mens wat ander mense se goed wil vat, sal sterf. Dit is wat met hom sal gebeur. Die wysheid is soos 'n vrou wat langs die straat staan en roep. Sy skree op die oop stukke grond in die stad, sy skree by die plekke waar die mense bymekaarkom, sy staan voor die poorte van die stad en sy sê: “Julle wat baie min weet, hoe lank sal julle tevrede wees om min te weet? Hoe lank sal dit lekker wees vir mense om aan te hou spot, hoe lank sal dwase dit haat om dinge te weet? Julle moet weer kom luister na wat ek vir julle wil leer. Ek sal vir julle alles sê wat ek weet, ek sal julle help om te verstaan wat ek sê. Toe ek geskree het, wou julle nie luister nie, toe ek my hand uitgesteek het om julle te roep, het niemand gekyk nie. Julle het gemaak of julle nie hoor wat ek alles gesê het nie, julle wou nie dat ek vir julle leer nie. Daarom sal ek ook lag en spot wanneer dit sleg begin gaan met julle, wanneer julle skrik. Julle sal skrik soos wanneer daar 'n stormwind kom, soos wanneer 'n sterk wind alles verwoes en julle baie bang word. Dan sal julle skree en vra dat ek moet help, maar ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek, maar julle sal my nie kry nie. Dit sal gebeur omdat julle dit haat om dinge te weet, en omdat julle nie gehoorsaam wou wees aan die Here en Hom nie wou eer nie. Julle wou nie luister na wat ek vir julle sê nie, ek wou vir julle leer, maar julle het gedink dit is onbelangrik. Nou sal julle swaarkry oor wat julle gedoen het, julle sal baie probleme kry oor julle eie planne. Ja, mense wat min weet, sterf omdat hulle nie wil luister nie, dwase gaan dood omdat hulle tevrede is met hulleself. Maar die mense wat na my luister, woon veilig, hulle is nie bekommerd nie, hulle is nie bang dat dit sleg sal gaan nie.”
SPREUKE 1:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. HERE DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals. My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak, laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal; allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê — my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet; want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls: so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor. So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe. DIE Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde: Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat? Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak. Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; as julle verskrikking kom soos 'n onweer, en julle ondergang soos 'n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne. Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde; maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.
SPREUKE 1:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid. Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word, jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree. Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer om spreuke en sinspelings, woorde en raaisels van wyse mense te begryp. Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals. As sondaars jou wil verlei, my seun, moenie toegee nie. Hulle sal vir jou sê: “Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom, ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie; kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen, ons maak gesonde mense dood! Ons vat al wat waardevol is en ons maak huise vol met wat ons roof. Jy kan deel in die buit, dit sal ons almal s'n wees.” Moenie met hulle saamgaan nie, my seun, bly van hulle pad af; hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle wil gaan moord pleeg. 'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is, vlieg nie daarin vas nie, maar hierdie mense span vir hulleself 'n net, hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet. So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie: rowery kos hom sy lewe. Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: “Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape 'n afkeer hê van kennis? As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. “Ek het geroep en julle wou nie luister nie, ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie. Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval, wanneer daar nood en kwelling oor julle kom. Die angs sal soos 'n storm oor julle kom, die ongeluk sal julle tref soos 'n orkaan. Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek en my nie kry nie. Julle het 'n afkeer van kennis gehad, julle het geweier om die Here te dien, julle het my raad verontagsaam en elke teregwysing van my geminag. Julle sal die vrugte van julle optrede pluk, julle sal van julle eie planne walg. “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.”
SPREUKE 1:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel: om vertroud te raak met wysheid en vermaning, om woorde van insig te verstaan; om vermaning wat begrip kweek, te ontvang, begrip vir wat regverdig en billik en reg is; om onkundiges vernuf aan te leer, jongmense kennis en goeie oordeel – 'n wyse sal luister en geleerdheid vermeerder, en 'n verstandige sal leierskap verwerf – om 'n spreuk en 'n gesegde te begryp, die woorde van wyses en hulle raaisels. Ontsag vir die HERE is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit. My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie; want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek. My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie. As hulle sê: “Gaan saam met ons; laat ons 'n hinderlaag opstel vir bloedvergieting; laat ons 'n onskuldige voorlê sonder rede; laat ons, soos die •doderyk, hulle lewend verslind, volledig, soos dié wat afdaal in die put. Allerlei kosbare besittings sal ons vind; ons sal ons huise vol maak met buit. Deel jou lot met ons; ons sal almal net een beursie hê.” My seun, moenie saam met hulle op die pad gaan nie, hou jou voet terug van hulle paaie; want na die kwaad hardloop hulle voete; hulle is haastig om bloed te vergiet. Ja, tevergeefs word 'n net uitgesprei, waar elke voël met vlerke dit sien; maar hierdie manne stel 'n hinderlaag op vir hulle eie bloedvergieting; hulle stel 'n lokval vir hulleself! So verloop die lewenspad van elkeen wat onregverdige wins maak – dit kos die een wat dit verkry, sy lewe. Wysheid roep opgewonde op straat, op die stadspleine laat sy haar stem hoor. Aan die bopunt van 'n rumoerige straat roep sy uit, by die ingange na die stadspoorte klink haar woorde op: “ Hoe lank nog gaan julle, onkundiges, onkunde liefhê, gaan spotters 'n geklets waardevol ag, en gaan dwase kennis haat? Julle moet reageer op my teregwysing. Kyk, ek sal my gees vir julle laat uitstroom, ek sal my woorde aan julle bekend maak. Omdat ek geroep, maar julle geweier het, ek my hand uitgesteek, maar julle geen aandag gegee het nie, julle al my raad in die wind geslaan het, my teregwysings nie aanvaar het nie, sal ek op my beurt lag oor julle teenspoed, die spot dryf wanneer julle verskrikking kom, wanneer julle verskrikking kom soos 'n stormwind, en julle teenspoed losbreek soos 'n orkaan, wanneer benoudheid en angs julle oorval. “ Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Aangesien hulle kennis gehaat het, ontsag vir die HERE nie gekies het nie, my raad nie aanvaar het nie, al my teregwysings versmaai het, sal hulle die vrug van hulle optrede moet eet, sal hulle genoeg kry van hulle eie planne. Ja, die ongeërgdheid van onverstandiges kos hulle dood; die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle. Maar wie na my luister, sal veilig woon; hulle sal rustig wees, sonder die verskrikking van onheil.”
SPREUKE 1:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel; Om wysheid en tug te ken; om die woorde van begrip waar te neem; Om die onderrig van wysheid, geregtigheid en oordeel en billikheid te ontvang; Om aan die eenvoudiges listigheid te gee, aan die jongman kennis en oorleg. 'n Wyse man sal hoor, en hy sal meer geleerdheid; en 'n man van verstand sal tot wyse raadslae kom. Om 'n spreekwoord en die uitlegging te verstaan; die woorde van die wyses en hulle donker woorde. Die vrees van die HERE is die begin van kennis, maar dwase verag wysheid en tug. My seun, hoor die tug van jou vader, en versaak die wet van jou moeder nie. Want hulle sal 'n sierlike versiering vir jou hoof wees en kettings om jou nek. My seun, as sondaars jou verlei, stem jy nie in nie. As hulle sê: Kom saam met ons, laat ons wag op bloed, laat ons sonder oorsaak in die geheim vir die onskuldiges loer. Laat ons hulle lewendig verslind soos die graf; en heel, soos die wat in die kuil neerdaal; Ons sal alle kosbare goed vind, ons sal ons huise met buit vul. Werp u lot onder ons; laat ons almal een beursie hê: My seun, wandel jy nie saam met hulle op die weg nie; weerhou jou voet van hulle pad: Want hulle voete hardloop na die onheil, en maak gou om bloed te vergiet. Waarlik, tevergeefs word die net uitgesprei voor die oë van enige voël. En hulle het op hul eie bloed gelê en wag; hulle loer in die geheim vir hul eie lewens. So is die weë van elkeen wat winsgewend is; wat die lewe van die eienaars daarvan wegneem. Die wysheid roep buite; sy uiter haar stem op die strate: Sy roep in die voorste plek van samekoms, by die openinge van die poorte; in die stad spreek sy haar woorde en sê: Hoe lank, julle eenvoudiges, sal julle die eenvoud liefhê? en die spotters verlustig hulle in hulle spot, en die dwase haat kennis? Bekeer julle tot my teregwysing: kyk, Ek sal my Gees oor julle uitgiet, Ek sal my woorde aan julle bekend maak. Omdat Ek geroep het, en julle het geweier; Ek het my hand uitgesteek, en niemand het dit gesien nie; Maar julle het al my raad verontagsaam en wou niks van my teregwysing hê nie. Ek sal ook lag oor jou rampspoed; Ek sal spot as jou vrees kom; Wanneer jou vrees kom soos 'n verwoesting, en jou ondergang kom soos 'n stormwind; wanneer benoudheid en benoudheid jou oorval. Dan sal hulle My aanroep, maar Ek sal nie antwoord nie; hulle sal My vroeg soek, maar My nie vind nie; Want hulle het kennis gehaat en die vrees van die HERE nie gekies nie; Hulle het niks van my raad gehoor nie; hulle het al my teregwysing verag. Daarom sal hulle eet van die vrug van hul eie manier en versadig word met hul eie planne. Want die afkeer van die eenvoudiges sal hulle doodmaak, en die voorspoed van die dwase sal hulle vernietig. Maar wie na My luister, sal veilig woon en stil wees van vrees vir die onheil.
SPREUKE 1:1-33 Die Boodskap (DB)
Die boek Spreuke is in die tyd van Dawid se seun Salomo geskryf. Al die spreuke wil ons wys hoe om te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: dit wil jou die kuns van die lewe aanleer, jou met ’n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil jou leer wat reg en billik is. Dit wil jou insig gee. Dan sal jy ’n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in elke omstandigheid waarin jy beland. Dit wil onervare gelowiges leer hoe om reg te leef. Vir jongmense ook. Dit wil die gelowiges wat klaar weet hoe om reg te leef, nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede. So sal hulle al die spreuke nog beter verstaan. Hulle sal snap wat wyse mense sê. Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke. ’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie. Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier. As glibberige mense jou deel wil laat hê aan hulle gekonkel, moet jy weier. Pas op as hulle vir jou sê: “Kom ons kul onskuldige mense. Ons laat goeie mense niksvermoedend in ons strikke inloop. Dan gaan hulle onder. Dan vat ons hulle goed en verryk onsself. Kom, wees deel daarvan.” Jongmens, moet tog nooit met sulke mense meng of met hulle saamwerk nie. Hulle doen altyd wat sleg is. Hulle is altyd haastig om ander seer te maak. Hulle gee nie om om iemand dood te maak nie. ’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg. Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel. Hulle draai hulle vaster in hulle eie sonde. En op ’n dag is dit klaarpraat met hulle. Sonde kos hulle hulle lewe. Lewenswysheid is soos ’n predikant wat in die strate en die groot bymekaarkomplekke preek. Sy loop die stad plat en verkondig haar boodskap oral: “Hoe lank sal julle, geestelik onvolwassenes, met julle onvolwassenheid aanhou; sal julle, ligsinniges, met ’n gelukkige lewenswandel spot; sal julle, dommes, ware kennis vertrap? “Bekeer julle! Luister na my woorde! Dan sal ek julle met al die spreuke wys hoe om reg te leef. Ek sal julle vertel hoe om geluk te vind. “Waarom luister julle nie as ek praat nie? Waarom steek ek die hand van vriendskap na julle uit en julle verwerp dit? Al my goeie raad oor die lewe het julle in die wind geslaan. Aan my woorde het julle julle nie gesteur nie. “Omdat julle, dommes, julle eie ondergang bewerk, sal ek julle nog eendag uitlag en met julle spot. As vrees julle beetpak, as paniek julle soos ’n magtige stormwind oorweldig, as ellende julle soos ’n onverwagse warrelwind tref, as angs julle deel word, sal ek met julle spot. “Dan sal julle skielik by my wil weet hoe om te leef, maar ek sal julle nie sê nie. Vinnig sal julle by my insig soek, maar niks kry nie. “Omdat julle egte lewenskennis verag het, die Here nie liefgehad het nie, alle raad vir ’n gelukkige lewe in die wind geslaan het; daarom sal julle die vrot vrugte van julle verskriklike dade proe. Julle slim ou plannetjies sal julle nog walg. Dom mense loop hulle in die dood vas. Hulle is so selfversekerd, maar hulle word vernietig. “Wie die wysheid ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Hy sal veilig voel en geen angs vir die lewe hê nie.”
SPREUKE 1:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel. Die doel van hierdie spreuke is om mense wysheid te leer en hulle te onderrig. Dit sal hulle help om wyse woorde te verstaan. Deur hierdie woorde sal hulle dissipline leer en weet hoe om regverdig, reg en billik op te tree. Iemand wat nog onervare is, sal verstandig word. Die spreuke sal jongmense kennis gee en onderskeidingsvermoë. Laat selfs hulle wat wys is, luister na die spreuke sodat hulle tot dieper insig kan kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die lewenskuns aanleer om die spreuke en sinspelings, die woorde en raaisels van wyse mense te begryp. Kennis begin met eerbied vir die HERE, net dwase verag wysheid en dissipline. My seun, luister na wat jou pa jou leer. Moenie wat jou ma vir jou sê in die wind slaan nie. Wat jy by hulle leer, sal jou lewe met goedheid kroon en ’n versiering wees om jou nek. My seun, as goddelose mense jou wil ompraat, moenie na hulle luister nie. Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons! Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom. Kom ons oorval iemand, al het hy niks aan ons gedoen nie. Ons wil hulle lewendig laat verdwyn, net soos in ’n graf, soos gesonde mense wat in die dood wegsink. Ons wil baie waardevolle dinge bekom, ons huise vol maak met alles wat ons buit. Word een van ons! Dan deel ons in die buit.” My seun, met hulle moet jy nie saamgaan nie. Bly ver van die pad waarop hulle loop. Hulle loop agter kwaad aan. Hulle kan skaars wag om iemand te vermoor. Wanneer ’n voël sien daar is vir hom ’n wip gestel, dan vlieg hy mos weg. Maar hierdie mense stel vir hulleself ’n hinderlaag op. Hulle soek self na hulle dood. So gaan dit met elkeen wat met geweld ryk wil word: sulke rykdom verwoes die lewe van die een wat dit verkry. Wysheid staan en roep op die straat. Op die stadspleine roep sy hardop. Sy roep by die plekke waar mense bymekaarkom. Sy praat by die ingange van die stadspoorte. Haar boodskap is: “Hoe lank gaan julle domkoppe nog bly klou aan julle domheid? Hoe lank gaan die spotters aanhou met hulle gepratery? Hoe lank gaan die swape kennis bly verwerp? “As julle reageer op my berisping, sal ek my gees op julle uitstort. Ek sal my woorde aan julle bekendmaak. Ek het na julle geroep, maar julle wou nie luister nie. Ek het my hand uitgesteek na julle, maar julle het dit nie gevat nie. My raad het julle geïgnoreer. Julle wou nie toelaat dat julle reggehelp word nie. Daarom gaan ek lag wanneer ongeluk julle tref. Ek gaan met julle spot wanneer angs julle oorval. Ek gaan vir julle lag wanneer angs soos ’n storm oor julle losbreek, wanneer benoudheid julle tref soos ’n stormwind en julle in swaarmoedigheid verval. Dan sal hulle na my begin roep om hulp, maar ek sal my nie daaraan steur nie. Hulle sal desperaat na my soek, maar hulle sal my nie vind nie. Van my kennis wou hulle mos niks weet nie. Respek vir die HERE wou hulle mos nie betoon nie. Hulle het my raad geïgnoreer. Omdat ek hulle wou reghelp, het hulle my mos verag. Hulle sal moet sluk aan die gevolge van hulle optrede. Hulle sal maar moet saamleef met die gevolge van hulle eie dade. “Dwase draai van my af weg na die dood toe. Die gekke se dwaling kos hulle die dood. Deur hulle selfvoldaanheid word die dwase vernietig. Elkeen wat na my luister, sal veilig wees. Vir rampe hoef hy nie bang te wees nie.”