Spreuke 1:1-33

Spreuke 1:1-33 AFR20

Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel: om vertroud te raak met wysheid en vermaning, om woorde van insig te verstaan; om vermaning wat begrip kweek, te ontvang, begrip vir wat regverdig en billik en reg is; om onkundiges vernuf aan te leer, jongmense kennis en goeie oordeel – 'n wyse sal luister en geleerdheid vermeerder, en 'n verstandige sal leierskap verwerf – om 'n spreuk en 'n gesegde te begryp, die woorde van wyses en hulle raaisels. Ontsag vir die HERE is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit. My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie; want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek. My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie. As hulle sê: “Gaan saam met ons; laat ons 'n hinderlaag opstel vir bloedvergieting; laat ons 'n onskuldige voorlê sonder rede; laat ons, soos die •doderyk, hulle lewend verslind, volledig, soos dié wat afdaal in die put. Allerlei kosbare besittings sal ons vind; ons sal ons huise vol maak met buit. Deel jou lot met ons; ons sal almal net een beursie hê.” My seun, moenie saam met hulle op die pad gaan nie, hou jou voet terug van hulle paaie; want na die kwaad hardloop hulle voete; hulle is haastig om bloed te vergiet. Ja, tevergeefs word 'n net uitgesprei, waar elke voël met vlerke dit sien; maar hierdie manne stel 'n hinderlaag op vir hulle eie bloedvergieting; hulle stel 'n lokval vir hulleself! So verloop die lewenspad van elkeen wat onregverdige wins maak – dit kos die een wat dit verkry, sy lewe. Wysheid roep opgewonde op straat, op die stadspleine laat sy haar stem hoor. Aan die bopunt van 'n rumoerige straat roep sy uit, by die ingange na die stadspoorte klink haar woorde op: “ Hoe lank nog gaan julle, onkundiges, onkunde liefhê, gaan spotters 'n geklets waardevol ag, en gaan dwase kennis haat? Julle moet reageer op my teregwysing. Kyk, ek sal my gees vir julle laat uitstroom, ek sal my woorde aan julle bekend maak. Omdat ek geroep, maar julle geweier het, ek my hand uitgesteek, maar julle geen aandag gegee het nie, julle al my raad in die wind geslaan het, my teregwysings nie aanvaar het nie, sal ek op my beurt lag oor julle teenspoed, die spot dryf wanneer julle verskrikking kom, wanneer julle verskrikking kom soos 'n stormwind, en julle teenspoed losbreek soos 'n orkaan, wanneer benoudheid en angs julle oorval. “ Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Aangesien hulle kennis gehaat het, ontsag vir die HERE nie gekies het nie, my raad nie aanvaar het nie, al my teregwysings versmaai het, sal hulle die vrug van hulle optrede moet eet, sal hulle genoeg kry van hulle eie planne. Ja, die ongeërgdheid van onverstandiges kos hulle dood; die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle. Maar wie na my luister, sal veilig woon; hulle sal rustig wees, sonder die verskrikking van onheil.”