Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel.
Die doel van hierdie spreuke
is om mense wysheid te leer
en hulle te onderrig.
Dit sal hulle help
om wyse woorde te verstaan.
Deur hierdie woorde
sal hulle dissipline leer
en weet hoe om regverdig,
reg en billik op te tree.
Iemand wat nog onervare is,
sal verstandig word.
Die spreuke sal jongmense
kennis gee
en onderskeidingsvermoë.
Laat selfs hulle wat wys is,
luister na die spreuke
sodat hulle
tot dieper insig kan kom.
Wie reeds die nodige kennis het,
kan die lewenskuns aanleer
om die spreuke en sinspelings,
die woorde en raaisels
van wyse mense te begryp.
Kennis begin met eerbied
vir die HERE,
net dwase verag wysheid
en dissipline.
My seun, luister
na wat jou pa jou leer.
Moenie wat jou ma vir jou sê
in die wind slaan nie.
Wat jy by hulle leer,
sal jou lewe
met goedheid kroon
en ’n versiering wees
om jou nek.
My seun, as goddelose mense
jou wil ompraat,
moenie na hulle luister nie.
Hulle sal miskien vir jou sê:
“Kom saam met ons!
Kom ons gaan lê iemand voor
en vermoor hom.
Kom ons oorval iemand,
al het hy niks
aan ons gedoen nie.
Ons wil hulle
lewendig laat verdwyn,
net soos in ’n graf,
soos gesonde mense
wat in die dood wegsink.
Ons wil baie waardevolle dinge
bekom,
ons huise vol maak
met alles wat ons buit.
Word een van ons!
Dan deel ons in die buit.”
My seun, met hulle
moet jy nie saamgaan nie.
Bly ver van die pad
waarop hulle loop.
Hulle loop agter kwaad aan.
Hulle kan skaars wag
om iemand te vermoor.
Wanneer ’n voël sien
daar is vir hom ’n wip gestel,
dan vlieg hy mos weg.
Maar hierdie mense
stel vir hulleself ’n hinderlaag op.
Hulle soek self na hulle dood.
So gaan dit met elkeen
wat met geweld ryk wil word:
sulke rykdom verwoes die lewe
van die een wat dit verkry.
Wysheid staan
en roep op die straat.
Op die stadspleine roep sy hardop.
Sy roep by die plekke
waar mense bymekaarkom.
Sy praat by die ingange
van die stadspoorte.
Haar boodskap is:
“Hoe lank
gaan julle domkoppe
nog bly klou
aan julle domheid?
Hoe lank gaan die spotters
aanhou met hulle gepratery?
Hoe lank gaan die swape
kennis bly verwerp?
“As julle reageer
op my berisping,
sal ek my gees
op julle uitstort.
Ek sal my woorde
aan julle bekendmaak.
Ek het na julle geroep,
maar julle wou nie luister nie.
Ek het my hand uitgesteek
na julle,
maar julle het dit nie gevat nie.
My raad het julle
geïgnoreer.
Julle wou nie toelaat
dat julle reggehelp word nie.
Daarom gaan ek lag
wanneer ongeluk julle tref.
Ek gaan met julle spot
wanneer angs julle oorval.
Ek gaan vir julle lag
wanneer angs
soos ’n storm oor julle losbreek,
wanneer benoudheid julle tref
soos ’n stormwind
en julle in swaarmoedigheid
verval.
Dan sal hulle
na my begin roep om hulp,
maar ek sal my nie
daaraan steur nie.
Hulle sal desperaat na my soek,
maar hulle sal my nie vind nie.
Van my kennis
wou hulle mos niks weet nie.
Respek vir die HERE
wou hulle mos nie betoon nie.
Hulle het my raad geïgnoreer.
Omdat ek hulle wou reghelp,
het hulle my mos verag.
Hulle sal moet sluk
aan die gevolge
van hulle optrede.
Hulle sal maar moet saamleef
met die gevolge
van hulle eie dade.
“Dwase draai van my af weg
na die dood toe.
Die gekke se dwaling
kos hulle die dood.
Deur hulle selfvoldaanheid
word die dwase vernietig.
Elkeen wat na my luister,
sal veilig wees.
Vir rampe
hoef hy nie bang te wees nie.”