NUMERI 16:41-50
NUMERI 16:41-50 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!” Toe die gemeente teen Moses en Aäron bymekaarkom en na die tent van ontmoeting toe draai, het die wolk die tent bedek en het die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar geword. Moses en Aäron het toe na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gegaan, en die Here het vir Moses gesê: “Gee pad tussen die gemeente uit dat Ek hulle in 'n oogwink kan verdelg.” Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid. Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n vuurpan, sit vuur van die altaar af daarin en plaas wierook daarop en gaan gou na die gemeente toe en doen vir hulle versoening. Die toorn van die Here het reeds ontvlam en Hy het hulle met 'n plaag begin straf.” Aäron het gedoen soos Moses gesê het en tussen die gemeente in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder die volk begin woed, maar Aäron het die wierook geoffer en vir die volk versoening gedoen. Hy het gaan staan tussen dié wat al dood was en dié wat nog geleef het, en die plaag het opgehou. Daar het veertien duisend sewe honderd deur die plaag omgekom, afgesien van dié wat deur Korag se toedoen gesterf het. Aäron is toe terug na Moses toe by die ingang van die tent van ontmoeting. Die plaag was verby.
NUMERI 16:41-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Net die volgende dag het die Israeliete weer teenoor Moses en Aäron begin kla. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die HERE vermoor!” Toe die Israeliete om hulle begin saamdrom, het Moses en Aäron omgedraai na die tabernakel toe. Die wolk het oor die tabernakel kom hang. Die magtige teenwoordigheid van die HERE het verskyn. Moses en Aäron het toe by die ingang van die tabernakel gaan staan. Die HERE het vir Moses gesê: “Staan weg van hierdie mense. Ek wil hulle in ’n oogwink vernietig.” Moses het op die grond neergeval. Hy het vir Aäron geskreeu: “Vat gou ’n vuurpan en sit vuur daarop van die altaar af. Strooi wierook daaroor en beweeg vinnig tussen die mense in. Doen versoening vir hulle. Die HERE se woede het onder hulle losgebreek. Die plaag het al klaar begin.” Aäron het gemaak soos Moses vir hom gesê het. Hy het tussen die mense in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder hulle losgebreek. Aäron het egter die wierook laat brand en versoening begin doen vir die volk. Hy het tussen dié wat reeds dood was en dié wat nog gelewe het, gaan staan. Die plaag het toe opgehou. In die plaag is daar egter 14 700 mense dood. Dit is nou bo en behalwe dié wat in die Koraggebeure dood is. Toe die plaag ophou, het Aäron teruggegaan na Moses by die ingang van die tabernakel.
NUMERI 16:41-50 Bybel vir almal (ABA)
Die volgende dag het die hele volksvergadering van die Israeliete vir Moses en Aäron beskuldig. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die Here doodgemaak!” Die Israeliete het opstandig geword teen Moses en Aäron, maar toe hulle kyk na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, toe was die wolk oor die tent en toe sien hulle die lig wat om die Here, die Koning, is. Toe Moses en Aäron by die tent kom, het die Here vir Moses gesê: “Julle moet weggaan van die volksvergadering, Ek wil hulle nou dadelik laat sterf.” Moses en Aäron het gaan lê met hulle gesigte teen die grond. Toe sê Moses vir Aäron: “Neem 'n pan en sit daarin van die kole wat op die altaar is. Sit dan wierook bo-op en gaan gou na die volksvergadering toe en doen versoening vir hulle. Die Here is baie kwaad, en daar is mense wat begin sterf.” Aäron het gedoen wat Moses gesê het. Die mense het begin sterf, maar Aäron het tussen hulle ingehardloop en hy het die wierook gebrand en versoening gedoen vir hulle. Terwyl hy daar staan tussen die mense wat gesterf het en die mense wat nog gelewe het, het daar nie meer mense gesterf nie. Daar was 14 700 mense wat gesterf het. Korag en sy vriende het ook gesterf. Aäron het teruggegaan na Moses by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Daar het nie nog mense gesterf nie.
NUMERI 16:41-50 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die HERE gedood. En terwyl die vergadering teen Moses en Aäron bymekaarkom, het hulle hul na die tent van samekoms gedraai, en meteens het die wolk dit oordek en die heerlikheid van die HERE het verskyn. En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom, het die HERE met Moses gespreek en gesê: Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in 'n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig, en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die HERE se aangesig uitgegaan, die plaag het begin! Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk. En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou. En die wat deur die plaag gesterf het, was veertienduisend-sewehonderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil. Daarop gaan Aäron na Moses terug by die ingang van die tent van samekoms; en die plaag is gestuit.
NUMERI 16:41-50 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die hele volksvergadering van die Israeliete het die volgende oggend teenoor Moses en Aäron gemor: “Dit is julle wat die volk van die HERE doodgemaak het.” Toe die volksvergadering teenoor Moses en Aäron stelling inneem, het hulle in die rigting van die Tent van Ontmoeting gedraai. Skielik het die wolk dit bedek, en het die heerlikheid van die HERE verskyn. Moses en Aäron het toe tot voor die Tent van Ontmoeting gegaan. Toe het die HERE met Moses gepraat en gesê: “Gaan weg van hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval, en Moses het vir Aäron gesê: “Vat die vuurpan, sit gloeiende kole van die altaar daarop en gooi reukwerk daaroor. Gaan dadelik na die volksvergadering en doen vir hulle versoening, want 'n oordeel uit toorn het van die HERE uitgegaan; die plaag het begin.” Aäron het dit geneem, soos Moses gesê het, en tot in die middel van die byeenkoms gehardloop; en inderdaad, die plaag het reeds onder die volk begin! Maar hy het die reukwerk op die kole gegooi en vir die volk versoening gedoen. Hy het tussen die dooies en die lewendes gaan staan en die plaag het opgehou. Dié wat deur die plaag omgekom het, was veertienduisend sewehonderd, naas dié wat oor die saak van Korag dood is. Aäron het na Moses toe teruggegaan by die ingang van die Tent van Ontmoeting, en so is die plaag gestuit.
NUMERI 16:41-50 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Julle het die volk van die HERE gedood. En toe die vergadering teen Moses en Aäron vergader het, het hulle na die tent van samekoms gekyk; en kyk, die wolk het dit oordek, en die heerlikheid van die HERE het verskyn. En Moses en Aäron het voor die tent van samekoms gekom. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Staan julle op uit hierdie vergadering, dat Ek hulle kan verteer soos in 'n oomblik. En hulle het op hul aangesig geval. Toe sê Moses vir Aäron: Neem 'n wierookbak en gooi vuur van die altaar af daarin, en sit reukwerk op, en gaan gou na die vergadering en doen vir hulle versoening, want daar het toorn van die HERE uitgegaan; die plaag het begin. En Aäron het geneem soos Moses beveel het en in die middel van die vergadering ingehardloop; en kyk, die plaag het onder die volk begin, en hy het reukwerk opgesit en vir die volk versoening gedoen. En hy het tussen dooies en lewendes gestaan; en die plaag is opgehou. En die wat in die plaag gesterf het, was veertien duisend sewe honderd, buiten die wat gesterf het in die saak van Korag. En Aäron het na Moses teruggekeer na die ingang van die tent van samekoms, en die plaag is opgehou.
NUMERI 16:41-50 Die Boodskap (DB)
Net die volgende dag het die hele volk teen Moses en Aäron in opstand gekom en vir hulle gesê: “Julle het die Here se volk uitgemoor!” Terwyl die klomp mense nog besig was om met Moses en Aäron te stry, het iets hulle aandag getrek daar by die tent waar die Here aanbid word. Die wolk van die Here het oor die tent neergesak en die verblindende helder lig van die Here se teenwoordigheid het daaruit geskyn. Moses en Aäron het toe by die ingang van die tent gaan staan, en die Here het vir Moses gesê: “Gee pad voor hierdie mense, want Ek wil hulle in ’n oogwink van die aarde af wegvee!” Moses en Aäron het op hulle knieë voor die Here neergeval. Toe sê Moses vir Aäron: “Maak gou! Vat jou bak en skep van die kole van die altaar af en gooi van die wierook daarin. Hardloop dan daarmee na die volk toe en vra namens hulle dat die Here hulle sonde sal vergeef. Want die Here se woede het al klaar oor hulle losgebars. Kyk, Hy straf hulle met ’n dodelike siekte wat oral onder die mense uitbreek.” Aäron het toe tussen die mense ingehardloop met sy vuurbak. Alhoewel die siekte al begin toeslaan het, het hy ter wille van hulle die wierook geoffer om by die Here vir hulle in te tree en vergifnis vir hulle sondes te bewerk. Terwyl hy nog so tussen die mense, die lewendes en die dooies, staan, het die epidemie skielik opgehou. Behalwe die mense wat in Korag se opstand dood is, is daar daardie dag nog 14 700 mense dood. Toe die epidemie opgehou het, is Aäron terug na Moses toe waar hy by die ingang van die tent gestaan het waar die Here aanbid word.