NUMERI 16:41-50

NUMERI 16:41-50 AFR83

Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!” Toe die gemeente teen Moses en Aäron bymekaarkom en na die tent van ontmoeting toe draai, het die wolk die tent bedek en het die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar geword. Moses en Aäron het toe na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gegaan, en die Here het vir Moses gesê: “Gee pad tussen die gemeente uit dat Ek hulle in 'n oogwink kan verdelg.” Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid. Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n vuurpan, sit vuur van die altaar af daarin en plaas wierook daarop en gaan gou na die gemeente toe en doen vir hulle versoening. Die toorn van die Here het reeds ontvlam en Hy het hulle met 'n plaag begin straf.” Aäron het gedoen soos Moses gesê het en tussen die gemeente in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder die volk begin woed, maar Aäron het die wierook geoffer en vir die volk versoening gedoen. Hy het gaan staan tussen dié wat al dood was en dié wat nog geleef het, en die plaag het opgehou. Daar het veertien duisend sewe honderd deur die plaag omgekom, afgesien van dié wat deur Korag se toedoen gesterf het. Aäron is toe terug na Moses toe by die ingang van die tent van ontmoeting. Die plaag was verby.