Numeri 16:41-50

Numeri 16:41-50 AFR20

Die hele volksvergadering van die Israeliete het die volgende oggend teenoor Moses en Aäron gemor: “Dit is julle wat die volk van die HERE doodgemaak het.” Toe die volksvergadering teenoor Moses en Aäron stelling inneem, het hulle in die rigting van die Tent van Ontmoeting gedraai. Skielik het die wolk dit bedek, en het die heerlikheid van die HERE verskyn. Moses en Aäron het toe tot voor die Tent van Ontmoeting gegaan. Toe het die HERE met Moses gepraat en gesê: “Gaan weg van hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval, en Moses het vir Aäron gesê: “Vat die vuurpan, sit gloeiende kole van die altaar daarop en gooi reukwerk daaroor. Gaan dadelik na die volksvergadering en doen vir hulle versoening, want 'n oordeel uit toorn het van die HERE uitgegaan; die plaag het begin.” Aäron het dit geneem, soos Moses gesê het, en tot in die middel van die byeenkoms gehardloop; en inderdaad, die plaag het reeds onder die volk begin! Maar hy het die reukwerk op die kole gegooi en vir die volk versoening gedoen. Hy het tussen die dooies en die lewendes gaan staan en die plaag het opgehou. Dié wat deur die plaag omgekom het, was veertienduisend sewehonderd, naas dié wat oor die saak van Korag dood is. Aäron het na Moses toe teruggegaan by die ingang van die Tent van Ontmoeting, en so is die plaag gestuit.