NUMERI 16:1-40

NUMERI 16:1-40 Bybel vir almal (ABA)

Korag, Datan, Abiram en On het opstandig geword teen Moses. Korag was die seun van Jishar seun van Kehat seun van Levi, Datan en Abiram was die seuns van Eliab, en On was die seun van Pelet. Hulle was uit die nageslag van Ruben. Saam met hulle was daar 250 manne van Israel, manne wat leiers van die volk was. Die volksvergadering het hulle voorheen gekies, en almal het hulle geken. Hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en vir hulle gesê: “Julle wil alles self doen. Almal in die volk is gewyd, en die Here is by hulle. Hoekom wil julle regeer oor die volk van die Here?” Toe Moses dit hoor, het hy gaan lê met sy gesig teen die grond. Hy sê toe vir Korag en al sy vriende: “Die Here sal môre wys wie aan Hom behoort en gewyd is. Hy sal wys vir wie Hy gekies het om vir Hom offers te bring. Korag, jy en al jou vriende, dit is wat julle moet doen: Julle moet panne neem, en julle moet kole in die panne sit. Dan moet julle wierook bo-op die kole sit en julle moet die panne na die altaar bring. Julle moet dit môre doen. Die Here sal self kies wie gewyd is. Leviete, julle moenie alles self wil doen nie.” Moses het vir Korag en sy vriende gesê: “Leviete, luister na wat ek sê: Die God van Israel het vir julle uit die volk Israel geneem om naby Hom te kom. Julle moet die werk in die tempel-tent van die Here doen, julle moet dit doen vir die volk. Wat wil julle nog meer hê? Korag, die Here het jou en al die ander Leviete saam met jou naby Hom laat kom. Wil julle nou ook priesters wees? Julle moet dit weet, jy en al jou vriende is opstandig teen die Here self. Hoekom beskuldig julle nou vir Aäron?” Moses het toe vir Korag en vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie. Jy het ons weggeneem uit 'n vrugbare land om ons in 'n woestyn te laat sterf. Is dit nie genoeg nie? Wil jy ons nog meer laat swaarkry? Jy het ons nie na 'n vrugbare land geneem en vir ons koringlande en wingerde gegee wat aan ons kan behoort nie. Wil jy aanhou om hierdie manne te bedrieg? Ons sal nie kom nie.” Moses het baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “U moenie die offers neem wat hulle vir U wil gee nie. Ek het niks van hulle gevat nie en ek het niks verkeerd gedoen aan hulle nie.” Toe sê Moses vir Korag: “Môre moet jy en al jou vriende voor die Here kom staan, jy en hulle en Aäron. Elkeen van julle moet 'n pan neem en wierook daarin sit en hy moet dit vir die Here bring. Elkeen moet sy eie pan hê, daar moet 250 panne wees, en jy en Aäron moet ook elkeen 'n pan hê.” Die volgende oggend het elkeen toe sy pan geneem, en kole daarin gesit en wierook bo-op. Hulle het by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aan die Israeliete verskyn. Moses en Aäron het ook daar gestaan. Korag het die hele volksvergadering bymekaargeroep by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy het die volksvergadering opstandig gemaak teen Moses en Aäron. Maar toe sien die hele volksvergadering die lig wat om die Here, die Koning is. En toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Julle moet weggaan van hierdie volk, Ek wil hulle dadelik laat sterf.” Maar Moses en Aäron het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het gesê: “O God, U gee vir almal die lewe. Net een persoon het sonde gedoen, hoekom is U nou kwaad vir die hele volk?” Die Here sê toe vir Moses: “Sê vir die volk hulle moet weggaan van Korag, Datan en Abiram se tente.” Moses het opgestaan en hy het na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het saam met hom gegaan. Moses het vir die volk gesê: “Asseblief, gaan weg van die tente van hierdie slegte mense en moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, sodat julle nie verdwyn omdat hulle sonde gedoen het nie.” Die volk het toe weggegaan van die tente van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgekom en hulle het by die ingange van hulle tente gaan staan saam met hulle vroue en hulle kinders en hulle ander mense. Toe sê Moses: “Julle sal nou weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen, julle sal weet dat ek nie self besluit het om dit te doen nie. As hierdie mense sterf soos mense gewoonlik sterf, as dieselfde met hulle gebeur wat met al die mense gebeur, dan het die Here my nie gestuur nie. Maar as die Here iets anders laat gebeur, en as die aarde sy mond oopmaak en hy sluk hulle in saam met alles wat aan hulle behoort, en as hulle lewendig afgaan na die doderyk, dan moet julle weet dat hierdie mense gewys het dat die Here nie vir hulle belangrik is nie.” Nadat Moses dit gesê het, het die grond onder daardie mense oopgeskeur. Die aarde het sy mond oopgemaak en dit het hulle huisgesinne ingesluk, elkeen wat saam met Korag was, en alles wat aan hulle behoort het. Hulle en almal wat aan hulle behoort het, het lewendig afgegaan na die doderyk. Die aarde het hulle toegemaak. Hulle het verdwyn uit die volk. Al die Israeliete naby hulle het gevlug toe hulle hoor hoe skree die mense. Die Israeliete was bang dat die aarde hulle ook sal insluk. Daarna het die Here 'n vuur gestuur, en die 250 mans wat die wierook wou offer, het verbrand. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die panne optel en die kole weggooi, want die panne van hierdie sondaars wat gesterf het, is nou gewyd. Julle moet die panne plat slaan en die plate teen die altaar vasmaak. Die manne het die panne naby die altaar gebring, daarom is die panne gewyd, en die plate moet vir die Israeliete 'n teken wees.” Die priester Eleasar het toe die brons panne geneem en hy het hulle plat geslaan en die plate teen die altaar vasgemaak. Wanneer die Israeliete die plate sien, dan moes hulle onthou dat net iemand van die nageslag van Aäron by die altaar mag kom om wierook te brand. As iemand anders daar wierook brand, dan sal dieselfde met daardie persoon gebeur wat met Korag en sy vriende gebeur het. Die Here het vir Moses gesê hy moet dit vir die Israeliete sê.

NUMERI 16:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval; en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom. Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende, en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi! Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi! Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie, en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou — dat julle nou ook die priesteramp begeer? Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. Is dit nie genoeg dat jy ons uit 'n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie? Ook het jy ons nie gebring in 'n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie. Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die HERE gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie. Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die HERE is, jy en hulle en Aäron. En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die HERE elkeen sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan. Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron. En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele vergadering. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in 'n oomblik verteer. Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: O God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word? En die Here het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram! Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan. Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie. En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies. Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie: as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die HERE my nie gestuur nie. Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het. En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. So het hulle dan met alles wat hulle s'n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering. En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons! Toe het 'n vuur van die HERE uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig — naamlik die vuurpanne van die wat gesondig het ten koste van hulle lewe; en daarvan moet dun plate geslaan word as 'n oortreksel vir die altaar. Want hulle het dié voor die aangesig van die HERE gebring — daarom is hulle heilig; en hulle sal vir die kinders van Israel 'n teken wees. Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as 'n oortreksel vir die altaar — 'n aandenking vir die kinders van Israel, sodat 'n onbevoegde wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nie sal nader kom om reukwerk voor die aangesig van die HERE aan die brand te steek nie; sodat hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos die HERE aan hom deur die diens van Moses gesê het.

NUMERI 16:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Korag seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saam met die Rubeniete Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On seun van Pelet teen Moses in opstand gekom. Saam met hulle was twee honderd en vyftig Israelitiese mans, leiers van die gemeenskap wat deur die volksvergadering aangewys is, manne van aansien. Hulle het as 'n groep teen Moses en Aäron saamgekom en vir hulle gesê: “Dit is nou genoeg. Die hele gemeente, elke lid daarvan, is gewyd, en die Here is by hulle. Waarom verhef julle julle dan bo die gemeente van die Here?” Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom. Korag, jy en almal by jou moet dít doen: vat môre vir julle vuurpanne, sit vuur daarin, plaas wierook daarop en bring dit altaar toe. Die man vir wie die Here verkies, is die gewyde. Julle Leviete matig julle te veel aan!” Verder het Moses vir Korag-hulle gesê: “Luister, Leviete! Is julle nie daarmee tevrede dat die God van Israel júlle uit die gemeente van Israel afgesonder het om in die heiligdom diens te doen en om die dienswerk in die tabernakel van die Here te verrig in belang van die gemeente vir wie julle bedien nie? Hy het jóú, Korag, en al jou Levitiese ampsgenote saam met jou laat diens doen in die heiligdom, maar nou wil julle ook nog die priesterskap inpalm! Dat julle julle teen Aäron verset, is niks nie, maar jy en jou hele bende het 'n komplot teen die Here gesmee.” Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie. Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel! Bowendien het jy ons nie gebring na 'n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!” Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie 'n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.” Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron. Elkeen moet wierook in 'n vuurpan sit en dit na die altaar toe bring, elkeen van die twee honderd en vyftig man met sy eie vuurpan, en ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.” Almal het toe hulle vuurpanne gevat, vuur daarin gesit en wierook daarop geplaas, en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron. Net toe Korag die hele gemeente teenoor Moses-hulle by die ingang van die tent van ontmoeting laat saamkom, word die magtige teenwoordigheid van die Here vir die hele gemeente sigbaar. Die Here sê toe vir Moses en Aäron: “Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?” Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!” Daarna het Moses na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het hom gevolg. Hy sê toe vir die gemeente: “Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie.” Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan. Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie. As hierdie manne 'n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie! Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.” Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings. Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn. Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in! Toe het die Here 'n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer. Daarna het die Here vir Moses beveel: “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy. Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.” Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek. Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie 'n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so 'n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.

NUMERI 16:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Korag, seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On, seun van Pelet, uit die nageslag van Ruben, geneem. Hulle en tweehonderd-en-vyftig mans van die Israeliete, leiers van die volksvergadering wat vir die geleentheid opgeroep is, manne van aansien, het voor Moses gaan staan. Hulle het hulle teen Moses en Aäron opgestel en vir hulle gesê: “Julle gaan nou te ver! Want die hele volksvergadering, hulle almal, is heilig, en die HERE is in hulle midde. Waarom verhef julle julleself bo die geloofsgemeenskap van die HERE?” Toe Moses dit hoor, het hy op sy gesig neergeval. Hy het met Korag en sy hele bende gepraat en gesê: “Môreoggend sal die HERE bekend maak wie aan Hom behoort en wie heilig is; Hy sal daardie persoon na Hom laat nader kom. Die een wat Hy kies, sal Hy na Hom laat naderk om. Julle moet die volgende doen: Korag, jy en jou hele bende, vat vir julle vuurpanne. Sit môre kole vuur daarin; gooi reukwerk daarop in die teenwoordigheid van die HERE. Die man wat deur die HERE gekies word, hy is die heilige. Julle het nou te ver gegaan, Leviete!” Moses het ook vir Korag gesê: “Luister nou, nageslag van Levi! Is dit nie vir julle genoeg nie dat die God van Israel julle afgesonder het van die volksvergadering van Israel om julle na Hom te laat nader kom om tabernakeldiens vir die HERE te doen, en om diensbaar te wees aan die volksvergadering deur hulle by te staan? Hy het jou en al jou broers, die Leviete, saam met jou tot Hom laat nader; maar nou eis julle ook die priesterskap. Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE saamspan. Maar Aäron, wie is hy dat julle oor hom mor?” Moses het iemand gestuur om Datan en Abiram, seuns van Eliab, te roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie gaan nie. Is dit nie genoeg nie dat jy ons uit die land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn te laat sterf, dat jy ook nog voortdurend oor ons wil baasspeel? Daarby het jy ons nie na 'n land gebring wat oorloop van melk en heuning nie, en jy het nie vir ons 'n erfdeel van lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie manne se oë verblind? Ons sal nie gaan nie!” Moses het baie kwaad geword en vir die HERE gesê: “U moet nie ag slaan op hulle offergawe nie. Ek het nie 'n enkele donkie van hulle geneem nie, en ek het nie een van hulle kwaad aangedoen nie.” Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die HERE is, jy en hulle en Aäron. Elkeen van julle moet sy vuurpan neem en reukwerk daarop sit. Dan moet julle nader kom voor die HERE, elkeen met sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.” Elkeen van hulle het toe sy vuurpan geneem, kole vuur daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Hulle het by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron. Korag het die hele volksvergadering teenoor hulle laat stelling inneem by die ingang van die Tent van Ontmoeting; en toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele volksvergadering. Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “Onttrek julle aan hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval en gesê: “O God, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, gaan U vir die hele volksvergadering vertoornd wees wanneer een man sondig?” Daarop het die HERE vir Moses gesê: “Sê vir die volksvergadering, ‘Gee pad rondom die blyplekke van Korag, Datan en Abiram!’ ” Moses het opgestaan en na Datan en Abiram gegaan, en die oudstes van Israel het hom gevolg. Toe praat hy met die volksvergadering en sê: “Kom tog weg van die tente van hierdie bose manne! Moenie aan enigiets raak wat aan hulle behoort nie, anders word julle meegesleur oor al hulle sonde.” Hulle het toe padgegee rondom die woonplek van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgegaan en by die ingang van hulle tente gaan staan, saam met hulle vroue, kinders en kleuters. Moses het gesê: “Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat dit nie uit my eie is nie. As hierdie mense soos elke ander mens sterf, die lot van elke mens hulle ook tref, het die HERE my nie gestuur nie. Maar as die HERE iets nuuts skep, as die aarde sy mond oopsper en hulle verswelg met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend na die •doderyk afdaal, sal julle weet dat hierdie mense die HERE geminag het.” Net toe hy al hierdie woorde klaar gesê het, het die grond onder hulle oopgeskeur. Die aarde het sy mond oopgemaak en hulle en hulle huisgesinne verswelg – ja, al die mense wat aan Korag behoort, en al hulle besittings. Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend afgedaal na die doderyk. Die aarde het oor hulle toegegaan en hulle het verdwyn uit die midde van die geloofsgemeenskap. Die hele Israel wat om hulle was, het gevlug oor hulle geskreeu, omdat hulle gedink het, anders verswelg die aarde hulle ook! 'n Vuur het van die HERE af uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk nadergebring het. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Sê vir Eleasar, seun van die priester Aäron, hy moet die vuurpanne uit die brand haal en die kole vuur ver weg uitstrooi, want hierdie dinge is heilig. En die vuurpanne van daardie sondaars wat met hulle lewens betaal het – maak uitgeklopte plate daarvan, plaatwerk vir die altaar. Omdat hulle dit in die teenwoordigheid van die HERE gebring het, is dit heilig. Dit sal dien as 'n teken vir die Israeliete.” Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat die mense wat verbrand is, nadergebring het, en hulle het dit uitgeklop as plaatwerk vir die altaar. Dit dien as 'n herinnering aan die Israeliete, sodat geen onbevoegde persoon wat nie uit die nageslag van Aäron is, sal nader kom om reukwerk in die teenwoordigheid van die HERE te brand nie, en hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos wat die HERE by monde van Moses vir hom gesê het.

NUMERI 16:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, en Datan en Abiram, die seuns van Eliab, en On, die seun van Pelet, die seuns van Ruben, het manne geneem. En hulle het opgestaan voor Moses, saam met sommige van die kinders van Israel, twee honderd en vyftig owerstes van die vergadering, bekendes in die vergadering, bekendes; En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en vir hulle gesê: Julle neem te veel op julle, aangesien die hele vergadering heilig is, elkeen van hulle, en die HERE in hulle midde is; daarom verhef julle julle dan bo die gemeente van die HERE? En toe Moses dit hoor, val hy op sy aangesig. En hy het met Korag en met sy hele menigte gespreek en gesê: Môre sal die HERE te kenne gee wie syne is en wie heilig is; en hom tot hom laat nader kom; ook hom wat hy uitverkies het, sal hy tot hom laat nader kom. Doen dit; Neem vir julle wierookpanne, Korag, en sy hele menigte; En gooi vuur daarin en gooi reukwerk daarin voor die aangesig van die HERE, en die man wat die HERE uitkies, hy moet heilig wees; julle neem te veel op julle, seuns van Levi. Toe sê Moses vir Korag: Hoor tog, seuns van Levi! Is dit vir julle maar 'n geringe ding dat die God van Israel julle van die vergadering van Israel afgesonder het, om julle nader aan Homself te bring om die diens van die tabernakel van die HERE te verrig en voor die vergadering te staan om hulle te dien? En Hy het jou nader gebring en al jou broers, die seuns van Levi, saam met jou; en soek julle ook die priesterskap? Waarom is jy en jou hele menigte teen die HERE versamel, en wat is Aäron dat julle teen hom murmureer? En Moses het gestuur om Datan en Abiram, die seuns van Eliab, te roep, en hulle het gesê: Ons sal nie optrek nie. Is dit 'n geringe ding dat U ons laat optrek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning, om ons in die woestyn dood te maak, as U Uself nie geheel en al 'n vors oor ons maak nie? Verder het U ons nie gebring in 'n land wat oorloop van melk en heuning nie, of ons 'n erfdeel van lande en wingerde gegee nie; sal U die oë van hierdie manne blus? ons sal nie opkom nie. Toe het Moses baie kwaad geword en aan die HERE gesê: Moenie ag gee op hulle offer nie; Toe sê Moses vir Korag: Wees môre jy en jou hele menigte voor die aangesig van die HERE, jy en hulle en Aäron. En neem elkeen sy vuurpan en gooi reukwerk daarin, en bring voor die aangesig van die HERE, elkeen sy vuurpan, twee honderd en vyftig vuurpanne; ook jy en Aäron, elkeen van julle sy vuurpan. En hulle het elkeen sy wierookpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gelê en saam met Moses en Aäron in die ingang van die tent van samekoms gaan staan. En Korag het die hele vergadering teen hulle versamel by die ingang van die tent van samekoms, en die heerlikheid van die HERE het aan die hele vergadering verskyn. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Skei julle uit hierdie vergadering uit, dat Ek hulle in 'n oomblik kan verteer. En hulle het op hul aangesig geval en gesê: O God, God van die geeste van alle vlees, sal een mens sondig, en sal U toornig wees op die hele vergadering? En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die vergadering en sê: Staan op van rondom die tabernakel van Korag, Datan en Abiram. Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abiram gegaan; en die oudstes van Israel het hom gevolg. En hy het met die vergadering gespreek en gesê: Gaan tog tog weg van die tente van hierdie goddelose manne en raak niks van hulle aan nie, sodat julle nie in al hulle sondes omkom nie. Hulle het toe opgetrek van die tabernakel van Korag, Datan en Abíram, rondom, en Datan en Abíram het uitgegaan en in die ingang van hulle tente gaan staan, en hulle vroue en hulle seuns en hulle kindertjies. Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen; want ek het dit nie uit my eie gemoed gedoen nie. As hierdie manne die gewone dood van alle mense sterf, of as hulle besoek word na die besoek van alle mense; dan het die HERE my nie gestuur nie. Maar as die HERE iets nuuts maak en die aarde sy mond oopmaak en hulle verslind, met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewend in die kuil neerdaal; dan sal julle verstaan dat hierdie manne die HERE geterg het. En toe hy klaar was met die spreek van al hierdie woorde, het die grond wat onder hulle was, uitmekaar gekloof. En die aarde het haar mond oopgemaak en hulle verslind en hulle huise en al die manne wat aan Korag behoort het, en al hulle besittings. Hulle en almal wat aan hulle behoort het, het lewendig in die kuil neergedaal, en die aarde het hulle toegesluit, en hulle het omgekom onder die vergadering uit. En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir die geroep van hulle, want hulle het gesê: Dat die aarde ons nie ook verslind nie. En daar het 'n vuur van die HERE uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat reukwerk gebring het. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand opneem en die vuur daar oorkant uitstrooi; want hulle is geheilig. Laat die vuurpanne van hierdie sondaars teen hulle eie siele vir hulle breë plate maak as 'n bedekking van die altaar; want hulle het dit voor die aangesig van die HERE geoffer, daarom word hulle geheilig; en dit sal 'n teken wees vir die kinders van Israel. En die priester Eleasar het die koper wierookpanne geneem waarmee die wat verbrand is, geoffer het; en daar is breë plate gemaak vir 'n bedekking van die altaar. Om 'n gedagtenis te wees vir die kinders van Israel, dat geen vreemdeling wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nader kom om reukwerk voor die aangesig van die HERE te bring nie; dat hy nie wees soos Korag en soos sy menigte nie, soos die HERE deur die hand van Moses aan hom gesê het.

NUMERI 16:1-40 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het Korag die seun van Jishar, een van die afstammelinge van Kehat die seun van Levi, na Datan en Abiram toe gegaan en ’n plan met hulle bespreek om teen Moses se leierskap in opstand te kom. Hulle twee was die seuns van Eliab en hulle was lede van die stam van Ruben. Hulle het ook Pelet se seun On by hierdie sameswering betrek. Hulle het toe met 250 ander prominente leiers van die gemeenskap kragte saamgesnoer om van Moses as leier ontslae te raak. Hierdie groep het na Moses en Aäron toe gegaan en vir hulle gesê: “Julle het nou te ver gegaan! Hierdie hele volk is vir die Here kosbaar en Hy het hulle almal vir Hom uitgekies. Wie dink julle is julle om te maak asof julle belangriker is as enigiemand anders?” Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë neergeval en begin bid. Daarna het hy vir Korag en sy trawante gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat Hy uitgekies het om die leier van hierdie volk te wees asook die persoon wat Hy afgesonder het om namens die volk offers op die altaar te bring. Die Here sal die persone wat Hy uitgekies het, toelaat om Hom by sy altaar te ontmoet. Korag, jy en jou trawante moet so maak: Kry vir julle elkeen ’n bak met warm kole in waarop julle wierook vir die Here kan brand. Bring dit dan môre na die altaar toe. Daar sal ons sien wie die Here kies as die persoon wat Hom verteenwoordig. Dis nie ons wat te ver gegaan het nie, maar eerder julle klomp Leviete wat julle te veel aanmatig.” Moses het verder vir Korag en dié wat by hom was, gesê: “Julle klomp Leviete moet mooi luister! Is julle nie tevrede daarmee dat die God van Israel julle tussen al die ander mense uitgekies het om in die tent van aanbidding namens die volk op te tree en hulle te bedien nie? Korag, is dit nie genoeg van ’n eer vir julle nie? Wil julle nou die priesterskap ook inpalm? Julle dink dit is Aäron teen wie julle in opstand kom, maar besef julle nie dat dit eintlik teen die Here is wat julle rebelleer nie? Wie is Aäron na alles?” Daarna het Moses vir Datan en Abiram, die seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het geweier om na hom toe te kom. “Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n vrugbare land soos Egipte laat wegtrek het om ons hier in die woestyn te laat doodgaan nie?” het hulle gevra. “Dink jy jy kan nou nog baasspeel ook oor ons? Wat meer is, jy het ons beslis nie na ’n vrugbare land toe gebring nie en hier is ook nie lande of wingerde wat ons kan erf nie. Dink jy jy kan ons aanhou mislei? Ons sal nie na jou toe kom nie!” Moses het baie kwaad geword vir hulle. Toe sê hy vir die Here: “Moenie hulle offers aanvaar nie. Ek het nooit enigeen van hulle te na gekom of selfs ’n eenvoudige dier soos ’n donkie van hulle gevat nie.” Vir Korag het hy gesê: “Sorg jy dat al jou volgelinge môre hier is sodat julle voor die Here kan kom staan. Aäron moet ook hier wees. Maak seker dat elkeen van jou 250 volgelinge ’n bak met warm kole het waarop julle wierook vir die Here kan brand. Aäron sal ook sy bak met kole en wierook bring.” Hulle het almal toe hulle bakke gevat, kole en wierook daarin gesit en saam met Moses en Aäron by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aanbid word. Intussen het Korag ook die res van die Israeliete teen Moses en Aäron opgestook en hulle het ook daar by die tent kom staan. Die volgende oomblik het die verblindende lig van die Here se teenwoordigheid vir almal sigbaar geword. Die Here sê toe vir Moses en Aäron: “Staan eenkant toe, weg van hierdie klomp mense af, want Ek wil hulle hier en nou van die aarde afvee.” Maar Moses en Aäron het op hulle knieë neergeval en begin bid: “O God, U is die bron van alles wat lewe. Gaan U nou al hierdie mense doodmaak omdat U kwaad is oor een man se sonde?” Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir al die mense om pad te gee van Korag, Datan en Abiram se tente af.” Moses en die leiers van die volk is toe haastig na Datan en Abiram se tente toe. Daar aangekom, sê hy vir die mense wat daar bymekaargekom het: “Gee dadelik pad van hierdie goddelose mense se tente af. Moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, want as julle dit doen, sal julle saam met hulle oor hulle sonde doodgemaak word.” Die volk het toe dadelik van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het saam met hulle gesinne uit hulle tente uitgekom en by die ingang gaan staan. Toe sê Moses: “Julle sal nou self sien of die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en of ek dit uit my eie doen. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, soos enigiemand anders, het die Here my nie gestuur nie. Maar as die Here nou ’n wonderwerk doen en die aarde laat oopskeur, sodat hulle met hulle gesinne en al hulle besittings in die skeur inval en lewendig begrawe word, sal julle weet dat hierdie mense die rug vir die Here gedraai het.” Moses se woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe skeur die aarde oop sodat Datan, Abiram en hulle gesinne daarin kan val. Dieselfde lot het ook vir Korag en sy ondersteuners getref. Hulle is almal lewendig in die skeur begrawe. Daar het niks oorgebly wat iemand aan hulle kon herinner nie. Die ander mense wat daar naby was en hulle gille gehoor het, het dadelik weggehardloop omdat hulle bang was dieselfde lot tref hulle ook. Daarna het die Here die ander 250 leiers wat met hulle vuurpanne en wierook by die tent gestaan het waar Hy aanbid word, met ’n groot vuur verbrand. Toe het die Here vir Moses gesê: “Sê nou vir die priester Eleasar, Aäron se seun, hy moet die kopervuurbakke wat in die vuur beland het, daar gaan uithaal, want hulle behoort aan My. Die kole wat daarin is, moet hulle iewers gaan weggooi. Daardie bakke behoort nou aan die Here. Al die manne aan wie dit behoort het, het sonde gedoen en met hulle lewe daarvoor geboet. Slaan dan al hierdie koperbakke plat en maak ’n deksel daarmee wat bo-oor die altaar kan pas. Elke keer as die Israeliete hierdie deksel sien, sal dit hulle aan hierdie verskriklike gebeurtenis herinner.” Die priester Eleasar het toe die kopervuurbakke gevat, hulle laat platslaan en ’n deksel vir die altaar daarmee gemaak. Dit moes die Israeliete daaraan herinner dat iemand wat nie ’n afstammeling van Aäron was, nie die reg gehad het om ooit die wierookoffer na die altaar van die Here toe te bring nie. As iemand dit wel sou waag, sou dieselfde lot hom tref as wat Korag en sy volgelinge getref het.

NUMERI 16:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Korag, die seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saamgesweer met Datan en Abiram, die seuns van Eliab en met On, die seun van Pelet. Hulle was van Ruben se stam. Hulle het saam met 250 mans uit die Israeliete teen Moses in opstand gekom. Hulle was almal bekende leiers wat deur die gemeenskap aangewys is. Hulle het by Moses en Aäron bymekaargekom en vir hulle gesê: “Julle dink te veel van julleself. Almal van die gemeenskap is tog vir God afgesonder. Die HERE is onder ons almal. Waarom beskou julle julleself belangriker as die res van die HERE se volk?” Toe Moses hoor wat hulle sê, het hy op die grond neergeval. Hy het vir Korag en almal wat met hom saamgespan het, gesê: “Môre-oggend sal die HERE wys wie aan Hom behoort en wie vir Hom afgesonder is. Hy sal dié vir wie Hy verkies het, toelaat om naby Hom te kom. Korag, jy en jou meelopers moet vir julle vuurpanne kry. Môre moet julle dan vuurkole daarin sit en voor die HERE kom en wierook daaroor sprinkel. Die een vir wie die HERE kies, sal die een wees wat vir Hom afgesonder is. Dit is eerder julle Leviete wat te veel van julleself dink!” Moses praat toe weer met Korag: “Luister tog, julle Leviete! Beteken dit dan niks vir julle dat die God van Israel julle vir Hom uit die gemeenskap van Israel eenkant gesit het nie? Hy het dit gedoen sodat julle naby Hom kan wees om Hom namens die gemeenskap by sy tabernakel te dien! Hy het vir jou en jou Levietebroers by jou, naby Hom laat kom. Wil julle dan nou vir julle ook die priesterdiens inpalm? Wat het julle teen Aäron? Dis teen die HERE wat jy en jou trawante saamsweer.” Moses het toe Datan en Abiram, die seuns van Eliab, na hom toe laat roep. Hulle het laat weet: “Ons sal nie kom nie! Is dit nie alreeds erg genoeg dat jy ons uit die vrugbare land weggevat het om hier in die woestyn dood te gaan nie? Nou wil jy jouself nog as baas oor ons aanstel! Jy het ons glad nie na ’n vrugbare land toe laat kom nie. Jy het ons nie landerye en wingerde gegee om te besit nie. Probeer jy hierdie mense ’n rat voor die oë draai? Ons sal nie kom nie!” Moses het toe baie kwaad geword. Hy het vir die HERE gesê: “Moenie hulle graanoffers aanvaar nie. Ek het nie eers ’n donkie by een van hulle gevat nie. Ek het nooit enigeen van hulle benadeel nie.” Moses het vir Korag gesê: “Jy en al jou kamerade moet môre hier voor die HERE kom. Aäron moet by wees. Laat jy en Aäron en elkeen van jou 250 handlangers ’n vuurpan dra en wierook om daaroor te gooi en kom dan na die HERE toe.” Elkeen het toe ’n vuurpan gevat, vuur daarin gesit, wierook daaroor gestrooi en by Moses en Aäron by die ingang van die tabernakel gaan staan. Korag het die volk teen hulle opgesweep. Hulle het by die ingang van die tabernakel kom staan. Toe het die hele gemeenskap bewus geword van die HERE se magtige teenwoordigheid. Die HERE het vir Moses gesê: “Staan weg van hierdie mense af dat Ek hulle met een slag kan vernietig!” Moses en Aäron het toe op die grond neergeval. Hulle het gesmeek: “O God, die God wat asem gee vir alles wat lewe. Moet U nou vir die hele gemeenskap kwaad word net oor een mens wat oortree het?” Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die mense dat hulle moet padgee van Korag, Datan en Abiram se tente af.” Moses het toe opgestaan en na Datan en Abiram toe gegaan. Die leiers het agter hom aan getou. Hy het met die mense gepraat en vir hulle gesê: “Staan terug van hierdie slegte mans se tente af! Moet aan niks vat wat aan hulle behoort nie sodat julle nie ook saam vernietig word deur al hulle oortredings nie.” Hulle het toe van die tente van Korag, Datan en Abiram padgegee. Datan en Abiram het uitgekom en saam met hulle vroue, seuns en kindertjies by die ingang van hulle tente gaan staan. Toe het Moses gesê: “Julle sal hieraan weet dat ek nie uit my eie optree nie, maar dat die HERE my gestuur het om hierdie dinge te doen. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, dan het die HERE my nie gestuur nie. As die HERE egter iets eienaardigs laat gebeur en die grond skeur oop en sluk hulle met al hulle besittings in en hulle sink lewendig in die grond weg, dan sal julle weet dat hierdie mans die HERE getart het.” Hy het dit skaars gesê of die aarde het onder hulle oopgeskeur. Die aarde het oopgegaan en hulle en hulle huisgesinne ingesluk. Dit het ook Korag en sy trawante en alles wat hulle besit het, ingesluk. Hulle het met alles wat hulle besit net so lewendig in die grond verdwyn. Die grond het bo hulle toegegaan. Hulle het heeltemal uit die gemeenskap verdwyn. Toe hulle hoor hoe hierdie mense gil, het al die Israeliete wat rondom hulle gestaan het, op die vlug geslaan. Hulle was bang die grond gaan hulle ook insluk. Vuur het toe van die HERE af gekom en dit het die 250 mans verteer wat nadergekom het om die wierook te brand. Die HERE sê toe vir Moses: “Sê vir die priester Eleasar, Aäron se seun, dat hy die vuurpanne met wierook uit die brand moet herwin, want hulle behoort aan God. Hy moet die kole gaan weggooi. Hy moet die vuurpanne van die mans wat met hulle lewens vir hulle oortredings betaal het, uitrol om daarvan ’n deksel vir die altaar te maak. Die vuurpanne is in die teenwoordigheid van die HERE gebruik en behoort dus nou aan Hom. Hierdie deksel sal vir die Israeliete ’n waarskuwingsteken wees.” Eleasar, die priester, het toe die bronsvuurpanne wat die mans gebruik het toe hulle in die vuur dood is, bymekaargemaak. Hy het daaruit ’n deksel vir die altaar gemaak. Dit sou vir die Israeliete ’n waarskuwing wees dat niemand wat nie uit die nageslag van Aäron kom, sommer mag naderkom om wierook voor die HERE te brand nie. Anders sal so ’n persoon soos Korag en sy meelopers word waarteen die HERE deur Moses gewaarsku het.