Numeri 16:1-40

Numeri 16:1-40 AFR20

Korag, seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On, seun van Pelet, uit die nageslag van Ruben, geneem. Hulle en tweehonderd-en-vyftig mans van die Israeliete, leiers van die volksvergadering wat vir die geleentheid opgeroep is, manne van aansien, het voor Moses gaan staan. Hulle het hulle teen Moses en Aäron opgestel en vir hulle gesê: “Julle gaan nou te ver! Want die hele volksvergadering, hulle almal, is heilig, en die HERE is in hulle midde. Waarom verhef julle julleself bo die geloofsgemeenskap van die HERE?” Toe Moses dit hoor, het hy op sy gesig neergeval. Hy het met Korag en sy hele bende gepraat en gesê: “Môreoggend sal die HERE bekend maak wie aan Hom behoort en wie heilig is; Hy sal daardie persoon na Hom laat nader kom. Die een wat Hy kies, sal Hy na Hom laat naderk om. Julle moet die volgende doen: Korag, jy en jou hele bende, vat vir julle vuurpanne. Sit môre kole vuur daarin; gooi reukwerk daarop in die teenwoordigheid van die HERE. Die man wat deur die HERE gekies word, hy is die heilige. Julle het nou te ver gegaan, Leviete!” Moses het ook vir Korag gesê: “Luister nou, nageslag van Levi! Is dit nie vir julle genoeg nie dat die God van Israel julle afgesonder het van die volksvergadering van Israel om julle na Hom te laat nader kom om tabernakeldiens vir die HERE te doen, en om diensbaar te wees aan die volksvergadering deur hulle by te staan? Hy het jou en al jou broers, die Leviete, saam met jou tot Hom laat nader; maar nou eis julle ook die priesterskap. Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE saamspan. Maar Aäron, wie is hy dat julle oor hom mor?” Moses het iemand gestuur om Datan en Abiram, seuns van Eliab, te roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie gaan nie. Is dit nie genoeg nie dat jy ons uit die land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn te laat sterf, dat jy ook nog voortdurend oor ons wil baasspeel? Daarby het jy ons nie na 'n land gebring wat oorloop van melk en heuning nie, en jy het nie vir ons 'n erfdeel van lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie manne se oë verblind? Ons sal nie gaan nie!” Moses het baie kwaad geword en vir die HERE gesê: “U moet nie ag slaan op hulle offergawe nie. Ek het nie 'n enkele donkie van hulle geneem nie, en ek het nie een van hulle kwaad aangedoen nie.” Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die HERE is, jy en hulle en Aäron. Elkeen van julle moet sy vuurpan neem en reukwerk daarop sit. Dan moet julle nader kom voor die HERE, elkeen met sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.” Elkeen van hulle het toe sy vuurpan geneem, kole vuur daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Hulle het by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron. Korag het die hele volksvergadering teenoor hulle laat stelling inneem by die ingang van die Tent van Ontmoeting; en toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele volksvergadering. Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en gesê: “Onttrek julle aan hierdie volksvergadering, sodat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.” Hulle het op hulle gesigte neergeval en gesê: “O God, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, gaan U vir die hele volksvergadering vertoornd wees wanneer een man sondig?” Daarop het die HERE vir Moses gesê: “Sê vir die volksvergadering, ‘Gee pad rondom die blyplekke van Korag, Datan en Abiram!’ ” Moses het opgestaan en na Datan en Abiram gegaan, en die oudstes van Israel het hom gevolg. Toe praat hy met die volksvergadering en sê: “Kom tog weg van die tente van hierdie bose manne! Moenie aan enigiets raak wat aan hulle behoort nie, anders word julle meegesleur oor al hulle sonde.” Hulle het toe padgegee rondom die woonplek van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgegaan en by die ingang van hulle tente gaan staan, saam met hulle vroue, kinders en kleuters. Moses het gesê: “Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat dit nie uit my eie is nie. As hierdie mense soos elke ander mens sterf, die lot van elke mens hulle ook tref, het die HERE my nie gestuur nie. Maar as die HERE iets nuuts skep, as die aarde sy mond oopsper en hulle verswelg met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend na die •doderyk afdaal, sal julle weet dat hierdie mense die HERE geminag het.” Net toe hy al hierdie woorde klaar gesê het, het die grond onder hulle oopgeskeur. Die aarde het sy mond oopgemaak en hulle en hulle huisgesinne verswelg – ja, al die mense wat aan Korag behoort, en al hulle besittings. Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend afgedaal na die doderyk. Die aarde het oor hulle toegegaan en hulle het verdwyn uit die midde van die geloofsgemeenskap. Die hele Israel wat om hulle was, het gevlug oor hulle geskreeu, omdat hulle gedink het, anders verswelg die aarde hulle ook! 'n Vuur het van die HERE af uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk nadergebring het. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Sê vir Eleasar, seun van die priester Aäron, hy moet die vuurpanne uit die brand haal en die kole vuur ver weg uitstrooi, want hierdie dinge is heilig. En die vuurpanne van daardie sondaars wat met hulle lewens betaal het – maak uitgeklopte plate daarvan, plaatwerk vir die altaar. Omdat hulle dit in die teenwoordigheid van die HERE gebring het, is dit heilig. Dit sal dien as 'n teken vir die Israeliete.” Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat die mense wat verbrand is, nadergebring het, en hulle het dit uitgeklop as plaatwerk vir die altaar. Dit dien as 'n herinnering aan die Israeliete, sodat geen onbevoegde persoon wat nie uit die nageslag van Aäron is, sal nader kom om reukwerk in die teenwoordigheid van die HERE te brand nie, en hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos wat die HERE by monde van Moses vir hom gesê het.