Op ’n dag het Korag die seun van Jishar, een van die afstammelinge van Kehat die seun van Levi, na Datan en Abiram toe gegaan en ’n plan met hulle bespreek om teen Moses se leierskap in opstand te kom. Hulle twee was die seuns van Eliab en hulle was lede van die stam van Ruben. Hulle het ook Pelet se seun On by hierdie sameswering betrek. Hulle het toe met 250 ander prominente leiers van die gemeenskap kragte saamgesnoer om van Moses as leier ontslae te raak. Hierdie groep het na Moses en Aäron toe gegaan en vir hulle gesê: “Julle het nou te ver gegaan! Hierdie hele volk is vir die Here kosbaar en Hy het hulle almal vir Hom uitgekies. Wie dink julle is julle om te maak asof julle belangriker is as enigiemand anders?”
Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë neergeval en begin bid. Daarna het hy vir Korag en sy trawante gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat Hy uitgekies het om die leier van hierdie volk te wees asook die persoon wat Hy afgesonder het om namens die volk offers op die altaar te bring. Die Here sal die persone wat Hy uitgekies het, toelaat om Hom by sy altaar te ontmoet. Korag, jy en jou trawante moet so maak: Kry vir julle elkeen ’n bak met warm kole in waarop julle wierook vir die Here kan brand. Bring dit dan môre na die altaar toe. Daar sal ons sien wie die Here kies as die persoon wat Hom verteenwoordig. Dis nie ons wat te ver gegaan het nie, maar eerder julle klomp Leviete wat julle te veel aanmatig.”
Moses het verder vir Korag en dié wat by hom was, gesê: “Julle klomp Leviete moet mooi luister! Is julle nie tevrede daarmee dat die God van Israel julle tussen al die ander mense uitgekies het om in die tent van aanbidding namens die volk op te tree en hulle te bedien nie? Korag, is dit nie genoeg van ’n eer vir julle nie? Wil julle nou die priesterskap ook inpalm? Julle dink dit is Aäron teen wie julle in opstand kom, maar besef julle nie dat dit eintlik teen die Here is wat julle rebelleer nie? Wie is Aäron na alles?”
Daarna het Moses vir Datan en Abiram, die seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het geweier om na hom toe te kom. “Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n vrugbare land soos Egipte laat wegtrek het om ons hier in die woestyn te laat doodgaan nie?” het hulle gevra. “Dink jy jy kan nou nog baasspeel ook oor ons? Wat meer is, jy het ons beslis nie na ’n vrugbare land toe gebring nie en hier is ook nie lande of wingerde wat ons kan erf nie. Dink jy jy kan ons aanhou mislei? Ons sal nie na jou toe kom nie!”
Moses het baie kwaad geword vir hulle. Toe sê hy vir die Here: “Moenie hulle offers aanvaar nie. Ek het nooit enigeen van hulle te na gekom of selfs ’n eenvoudige dier soos ’n donkie van hulle gevat nie.”
Vir Korag het hy gesê: “Sorg jy dat al jou volgelinge môre hier is sodat julle voor die Here kan kom staan. Aäron moet ook hier wees. Maak seker dat elkeen van jou 250 volgelinge ’n bak met warm kole het waarop julle wierook vir die Here kan brand. Aäron sal ook sy bak met kole en wierook bring.” Hulle het almal toe hulle bakke gevat, kole en wierook daarin gesit en saam met Moses en Aäron by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aanbid word.
Intussen het Korag ook die res van die Israeliete teen Moses en Aäron opgestook en hulle het ook daar by die tent kom staan. Die volgende oomblik het die verblindende lig van die Here se teenwoordigheid vir almal sigbaar geword. Die Here sê toe vir Moses en Aäron: “Staan eenkant toe, weg van hierdie klomp mense af, want Ek wil hulle hier en nou van die aarde afvee.”
Maar Moses en Aäron het op hulle knieë neergeval en begin bid: “O God, U is die bron van alles wat lewe. Gaan U nou al hierdie mense doodmaak omdat U kwaad is oor een man se sonde?”
Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir al die mense om pad te gee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”
Moses en die leiers van die volk is toe haastig na Datan en Abiram se tente toe. Daar aangekom, sê hy vir die mense wat daar bymekaargekom het: “Gee dadelik pad van hierdie goddelose mense se tente af. Moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, want as julle dit doen, sal julle saam met hulle oor hulle sonde doodgemaak word.” Die volk het toe dadelik van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het saam met hulle gesinne uit hulle tente uitgekom en by die ingang gaan staan.
Toe sê Moses: “Julle sal nou self sien of die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en of ek dit uit my eie doen. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, soos enigiemand anders, het die Here my nie gestuur nie. Maar as die Here nou ’n wonderwerk doen en die aarde laat oopskeur, sodat hulle met hulle gesinne en al hulle besittings in die skeur inval en lewendig begrawe word, sal julle weet dat hierdie mense die rug vir die Here gedraai het.”
Moses se woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe skeur die aarde oop sodat Datan, Abiram en hulle gesinne daarin kan val. Dieselfde lot het ook vir Korag en sy ondersteuners getref. Hulle is almal lewendig in die skeur begrawe. Daar het niks oorgebly wat iemand aan hulle kon herinner nie. Die ander mense wat daar naby was en hulle gille gehoor het, het dadelik weggehardloop omdat hulle bang was dieselfde lot tref hulle ook. Daarna het die Here die ander 250 leiers wat met hulle vuurpanne en wierook by die tent gestaan het waar Hy aanbid word, met ’n groot vuur verbrand.
Toe het die Here vir Moses gesê: “Sê nou vir die priester Eleasar, Aäron se seun, hy moet die kopervuurbakke wat in die vuur beland het, daar gaan uithaal, want hulle behoort aan My. Die kole wat daarin is, moet hulle iewers gaan weggooi. Daardie bakke behoort nou aan die Here. Al die manne aan wie dit behoort het, het sonde gedoen en met hulle lewe daarvoor geboet. Slaan dan al hierdie koperbakke plat en maak ’n deksel daarmee wat bo-oor die altaar kan pas. Elke keer as die Israeliete hierdie deksel sien, sal dit hulle aan hierdie verskriklike gebeurtenis herinner.” Die priester Eleasar het toe die kopervuurbakke gevat, hulle laat platslaan en ’n deksel vir die altaar daarmee gemaak. Dit moes die Israeliete daaraan herinner dat iemand wat nie ’n afstammeling van Aäron was, nie die reg gehad het om ooit die wierookoffer na die altaar van die Here toe te bring nie. As iemand dit wel sou waag, sou dieselfde lot hom tref as wat Korag en sy volgelinge getref het.