NUMERI 15:1-21

NUMERI 15:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee om in te woon, en een van julle wil vir My 'n vuur-offer gee wat vir My lekker ruik, 'n bees of 'n bok of 'n skaap om 'n brand-offer te wees, of 'n gelofte-offer, of 'n offer wat hy graag wil bring, of 'n offer op een van julle feeste, dan moet hy saam met sy offer ook 'n koring-offer gee. Die koring-offer moet 'n tiende wees van 'n efa van die beste meel wat julle meng met 'n kwart hin olyf-olie. Saam met elke skaap-lam wat 'n brand-offer of 'n ander offer is, moet jy ook 'n kwart hin wyn gee om 'n drank-offer te wees. Of wanneer iemand 'n skaap-ram offer, dan moet hy ook 'n koring-offer gee van twee tiendes van 'n efa van die beste meel wat hy meng met 'n derde hin olyf-olie, en hy moet 'n derde hin wyn gee om 'n drank-offer te wees. Dit moet 'n offer wees wat lekker ruik vir My. En wanneer iemand 'n bul gee om 'n brand-offer te wees, of 'n gelofte-offer, of 'n ete-offer vir My, dan moet hy saam met die bul ook 'n koring-offer gee van drie tiendes van 'n efa van die beste meel wat hy meng met 'n halwe hin olyf-olie en hy moet ook 'n halwe hin wyn gee om 'n drank-offer te wees. Dit moet 'n vuur-offer wees wat lekker ruik vir My. Julle moet dit doen saam met elke bul of skaap-ram, elke skaap-lam of bok-lam wat julle offer. Julle moet dit doen saam met elke dier wat julle offer. Elke Israeliet moet dit doen wanneer hy vir My 'n vuur-offer gee wat lekker moet ruik vir My. En wanneer daar by julle of julle nageslag vreemdelinge of ander mense woon, en een van hulle wil vir My 'n vuur-offer gee wat lekker ruik vir My, dan moet hy doen soos julle doen. Die volksvergadering moet altyd dieselfde wet gebruik vir julle en vir die vreemdelinge wat by julle of julle nageslag woon, julle en die vreemdelinge is dieselfde vir My. Julle en die vreemdelinge wat by julle woon, moet almal doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom waarnatoe Ek julle bring, en julle eet van die kos wat die land vir julle gee, dan moet julle vir My 'n deel van die kos gee. Julle moet vir My 'n rondebrood gee van die eerste deeg wat julle knie. Julle moet dit gee om 'n offer van die dorsvloer te wees. Julle en julle nageslag moet altyd vir My 'n offer gee van die eerste deeg wat julle knie.”

NUMERI 15:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land van julle inwoning kom wat Ek aan julle gee, en julle 'n vuuroffer aan die HERE wil berei, 'n brandoffer of slagoffer — deur 'n besondere gelofte te volbring of as vrywillige offer of by julle feestye — om vir die HERE 'n lieflike geur van beeste of van kleinvee te berei, dan moet die een wat sy offer aan die HERE bring, as spysoffer bring 'n tiende van 'n efa fynmeel, gemeng met 'n kwart-hin olie; en wyn vir die drankoffer, 'n kwart-hin, moet jy berei by die brandoffer of vir die slagoffer, vir elke lam. Of vir 'n ram moet jy as spysoffer berei twee-tiendes van 'n efa fynmeel, met 'n derde van 'n hin olie gemeng. En 'n derde van 'n hin wyn vir die drankoffer moet jy as lieflike geur aan die HERE bring. En as jy 'n jong bul as brandoffer of slagoffer berei, deur 'n besondere gelofte te volbring of as dankoffer aan die HERE, moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van 'n efa fynmeel met 'n half-hin olie gemeng. En vir die drankoffer moet jy 'n half-hin wyn bring, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by 'n lam van die skape of van die bokke. Volgens die getal wat julle berei — so moet julle doen by elkeen volgens hulle getal. Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring. En as 'n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en 'n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei — soos julle doen, so moet hy doen. Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring, moet julle, as julle van die brood van die land eet, 'n offergawe aan die HERE afgee. As eersteling van julle growwe meel moet julle 'n koek as offergawe afgee; net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee. Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle 'n offergawe aan die HERE gee in julle geslagte.

NUMERI 15:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom wat Ek vir julle as woonplek gee, en julle vir My, die Here, van julle beeste of kleinvee 'n vuuroffer wil aanbied wat vir My aanvaarbaar is, 'n brandoffer of 'n ander diereoffer om 'n gelofte te betaal of as vrywillige offer, of by julle feestye, dan moet die een wat sy offer bring, vir My ook 'n graanoffer bring van een en 'n half kilogram meel, gemeng met een liter olie. “Saam met elke lam wat as brandoffer of ander diereoffer gebring word, moet jy 'n liter wyn as drankoffer aanbied. “Vir 'n ram moet jy 'n graanoffer aanbied van drie kilogram meel, gemeng met een en 'n derde liter olie, en daarby een en 'n derde liter wyn as drankoffer. Jy moet dit bring dat dit vir My, die Here, aanvaarbaar is. “As jy 'n jong bul as brandoffer of ander diereoffer aanbied om 'n gelofte te betaal of as ander maaltydoffer aan My, moet jy by die bul vier en 'n half kilogram meel, gemeng met twee liter olie, as graanoffer bring. Bring ook ongeveer twee liter wyn as drankoffer. “So sal dit 'n vuuroffer wees wat deur My, die Here, aanvaar word. Elke bul, elke ram of lam van skape of bokke moet so aangebied word. Julle moet so maak met elke dier wat julle as vuuroffer aanbied. Elke landsburger wat 'n vuuroffer wil aanbied, wat deur My, die Here, aanvaar word, moet dit op dieselfde manier doen. 'n Vreemdeling wat by julle woon, of iemand wat reeds vir geslagte onder julle is, moet ook 'n vuuroffer aanbied wat deur My aanvaar word. Hy moet presies dieselfde doen as julle. Daar moet in die gemeente dieselfde voorskrif wees vir julle en vir die vreemdeling wat by julle woon. Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag dat die vreemdeling net soos julle moet wees voor die Here. Een en dieselfde wet en bepaling moet op julle en op die vreemdeling wat by julle woon, van toepassing wees.” Die Here het ook vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring, en julle eet van die land se brood, moet julle 'n offergawe vir My bring. Offer 'n ringbrood van julle eerste growwe meel, en bied dit aan as 'n offergawe van julle dorsvloer af. So moet julle dit offer. Al julle geslagte moet altyd weer 'n offergawe van die eerste growwe meel aan My gee.”

NUMERI 15:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarna het die HERE met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land van julle vaste verblyf kom wat Ek vir julle gaan gee, en julle bring 'n offergawe vir die HERE, 'n •brandoffer of •maaltydoffer uit die beeste of kleinvee om 'n buitengewone gelofte te vervul; of tydens 'n vrywillige offer; of op julle feesdae om 'n aangename geur vir die HERE te bring, dan moet die persoon wat sy gawe vir die HERE aanbied, 'n •graanoffer bring wat bestaan uit 'n tiende van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n kwart hin olyfolie. En 'n kwart hin wyn moet jy as •drankoffer bring by die brandoffer of die maaltydoffer, vir elke lam. Of as dit vir 'n ram is, moet jy 'n graanoffer van twee tiendes van 'n efa meel gesifte meel bring, klam gemaak met 'n derde hin olyfolie; en as drankoffer moet jy 'n derde hin wyn aanbied as 'n geurige offer vir die HERE. En wanneer jy 'n jong bul as brandoffer of maaltydoffer aan die HERE bring om 'n buitengewone gelofte te vervul of as gewone maaltydoffer, moet daar saam met die jong bul 'n graanoffer gebring word wat bestaan uit drie tiendes van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n halwe hin olyfolie. Jy moet ook 'n halwe hin wyn as drankoffer bring; dit is 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE. So moet dit gedoen word vir elke bul, elke jong ram of stuk kleinvee uit die skape of bokke. Hoeveel julle ook al offer, presies so moet julle dit doen by elke offer, afgesien van die getal. “ ‘Elke landsburger moet dit so doen om 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE, aan te bied. En wanneer 'n •vreemdeling wat tydelik by julle verblyf het, of iemand wat al geslagte lank by julle woon, 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE bring, moet hy dit net soos julle doen. Wat die geloofsgemeenskap betref – een vaste voorskrif geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelike verblyf het. Dit is 'n vaste voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. Voor die HERE is vreemdelinge net soos julle. Dieselfde wet en dieselfde bepaling geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelik by julle verblyf het.’ ” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land aankom waarheen Ek julle gaan neem, en julle van die land se brood eet, moet julle vir die HERE 'n •wydingsgeskenk eenkant sit. Van julle eerste baksel moet julle 'n ringbrood as wydingsgeskenk eenkant sit. Soos die wydingsgeskenk van die dorsvloer, so moet julle dit eenkant sit. Uit julle eerste baksel moet julle en julle nageslagte aan die HERE 'n wydingsgeskenk afstaan.’ ”

NUMERI 15:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land van julle woonplekke kom wat Ek aan julle gee, en sal aan die HERE 'n vuuroffer bring, 'n brandoffer of 'n slagoffer in die nakoming van 'n gelofte of in 'n vrywillige offer of by julle feestye, om 'n lieflike geur aan die HERE te bring, van beeste of van beeste of van die kudde: Dan moet hy wat sy offer aan die HERE bring, 'n spysoffer bring van 'n tiende deel meel gemeng met 'n vierde deel van 'n hin olie. En die vierde deel van 'n hin wyn as drankoffer moet jy saam met die brandoffer of slagoffer vir een lam berei. Of vir 'n ram moet jy vir 'n spysoffer twee tiendes meel gemeng met 'n derde van 'n hin olie berei. En as drankoffer moet jy 'n derde deel van 'n hin wyn berei as lieflike geur aan die HERE. En as jy 'n bul berei vir 'n brandoffer of as 'n slagoffer deur 'n gelofte of dankoffers aan die HERE te hou, Dan moet hy saam met 'n bul 'n spysoffer bring van drie tiendes meel gemeng met 'n halwe hin olie. En jy moet as drankoffer 'n halwe hin wyn bring, as 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. So moet dit gedoen word vir een bul of vir een ram, of vir 'n lam of 'n bokkie. Volgens die getal wat julle moet berei, so moet julle met elkeen doen volgens hulle getal. Almal wat uit die land gebore is, moet hierdie dinge op hierdie manier doen deur 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring. En as 'n vreemdeling by julle vertoef, of iemand wat onder julle in julle geslagte is, en 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring; soos julle doen, so sal Hy doen. Een insetting moet wees vir julle sowel uit die vergadering as vir die vreemdeling wat by julle vertoef, 'n ewige insetting in julle geslagte; soos julle is, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. Een wet en een manier sal vir julle geld en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring, Dan moet julle, as julle van die brood van die land eet, 'n hefoffer aan die HERE bring. Julle moet 'n koek van die eerste van julle deeg as hefoffer bring; soos julle die hefoffer van die dorsvloer doen, so moet julle dit hef. Van die eerste van julle deeg moet julle aan die HERE 'n hefoffer gee in julle geslagte.

NUMERI 15:1-21 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Moses nog opdragte gegee om vir die Israeliete te gee: “As julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee om in te bly en julle wil brandoffers en slagoffers vir My bring, is daar sekere voorwaardes wat julle moet nakom. So ’n offer mag ’n vrywillige offer wees, of ’n offer omdat iemand ’n belofte aan My gemaak het, of selfs ’n offer wat julle by een van die feeste vir My wil bring. So ’n offer moet dan ’n dier uit julle kuddes wees, ’n bees of een van julle kleinvee. Dit is al wat Ek sal aanvaar. Die persoon wat so ’n offer vir My bring, moet daarmee saam ook vir My ’n graanoffer bring, wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel, gemeng met ’n liter olyfolie. Saam met elke lam wat as ’n brandoffer of ’n slagoffer aan My geoffer word, moet julle ook ’n liter wyn as drankoffer saambring. “As dit ’n ram is wat geoffer word, moet die graanoffer bestaan uit drie kilogram meel gemeng met een en ’n half liter olyfolie, en een en ’n half liter wyn wat as ’n drankoffer saamgebring moet word. Dan sal die offer se geur vir My aanvaarbaar wees. “As dit ’n jong bul is wat as brandoffer of ’n ander diereoffer vir My aangebied word om ’n belofte na te kom wat aan My gemaak is, of as ’n eteoffer, dan moet die graanoffer wat daarmee saamgaan, bestaan uit vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olyfolie. Bring ook twee liter wyn vir die drankoffer saam. Ek hou van so ’n vuuroffer se geur. “Elke bul en elke ram en elke skaap- of bokram moet aangebied word soos Ek nou vir julle voorgeskryf het vir die offer. As daar meer as een dier geoffer word, moet die ander offers van meel en wyn ook volgens die aantal diere vermeerder word. Elke Israeliet is verplig om hierdie offer volgens my voorskrifte aan My te bring. Dan is dit vir My aanvaarbaar. As daar iemand is wat van ’n ander volk is en by julle bly, of dit nou tydelik of permanent is, en daardie persoon wil ook ’n offer bring wat vir die Here aanvaarbaar is, geld dieselfde reëls. Vir almal wat ’n offer wil bring, geld presies dieselfde reëls. Hierdie reëls bly ook in die toekoms geldig vir Israeliete en die persone van ’n ander afkoms wat by julle bly.” Die Here het verder vir Moses gesê: “As julle in die land Kanaän aankom en julle eet brood van die graan wat julle daar geoes het, moet julle onthou om vir die Here ’n offer te bring. Van die heel eerste growwe meel wat julle maal om brood te bak moet julle vir die Here ’n brood bak as ’n spesiale geskenk van dank vir die oes wat Hy julle gegee het. Dit is julle offer wat van die dorsvloer af kom. Hierdie gebruik om die eerste growwe meel van die oes aan My te offer moet ook in die toekoms deur julle kinders nagekom word.”

NUMERI 15:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee en julle daar gevestig is, kan iemand vir die HERE ’n offer bring. Dit kan ’n brandoffer of enige ander offer wees. Dit kan bedoel wees om ’n belofte na te kom, as ’n vrywillige offer, of ’n offer gedurende ’n fees. Dit moet dan uit die beeste of die vee kom. Die persoon wat dit vir die HERE offer, moet dan ook ’n graanoffer van een en ’n half kilogram meel, gemeng met een liter olie vir die HERE bring. Saam met ’n lam wat as brandoffer of gewone offer aangebied word, moet ook ’n liter wyn as drankoffer gebring word. “Saam met ’n ram moet jy ’n graanoffer bring van drie kilogram meel, gemeng met een en ’n derde liter olie. Daarby saam gaan ’n drankoffer van een en ’n derde liter wyn. Bring dit vir die vreugde van die HERE. “Wanneer jy ’n jong bul as ’n brandoffer bring of gewone offer om ’n belofte na te kom of as ’n vrede-offer vir die HERE, moet jy ook ’n graanoffer van vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olie daarmee saam bring. Ook hier moet jy ’n drankoffer bysit van twee liter wyn. Dit sal ’n offer wees wat vir die HERE vreugde verskaf. “So moet jy maak met elke bul, of ram, of lam, of bok wat jy offer. Jy moet so maak met elke offer wat jy bring. Elke permanente inwoner moet so maak wanneer hy ’n vuuroffer bring om vir die HERE vreugde te bring. Iemand wat tydelik by julle bly of ’n buitelander is wat permanent tussen julle woon, moet presies dieselfde doen wanneer hy ’n offer wil bring wat vir die HERE aangenaam sal wees. In die gemeenskap geld een en dieselfde reël vir jou en vir die vreemdeling. Dit is dieselfde reël vir alle geslagte. Voor die HERE is jy en die vreemdeling dieselfde. Dieselfde voorskrifte en dieselfde bepalings geld vir jou en die vreemdeling wat by jou oorbly.” Die HERE het ook vir Moses gesê: “Gee vir die Israeliete die volgende voorskrifte: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee, en julle van die opbrengs van die land eet, moet julle daarvan vir die HERE offer. Van die eerste growwe meel wat julle maal, moet julle ’n ringbrood bak wat julle kan offer aan God as ’n geskenk wat van die dorsvloer af kom. Elke geslag moet hierdie offer uit die eerste growwe meel vir die HERE bring.”