NUMERI 15:1-21

NUMERI 15:1-21 NLV

Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee en julle daar gevestig is, kan iemand vir die HERE ’n offer bring. Dit kan ’n brandoffer of enige ander offer wees. Dit kan bedoel wees om ’n belofte na te kom, as ’n vrywillige offer, of ’n offer gedurende ’n fees. Dit moet dan uit die beeste of die vee kom. Die persoon wat dit vir die HERE offer, moet dan ook ’n graanoffer van een en ’n half kilogram meel, gemeng met een liter olie vir die HERE bring. Saam met ’n lam wat as brandoffer of gewone offer aangebied word, moet ook ’n liter wyn as drankoffer gebring word. “Saam met ’n ram moet jy ’n graanoffer bring van drie kilogram meel, gemeng met een en ’n derde liter olie. Daarby saam gaan ’n drankoffer van een en ’n derde liter wyn. Bring dit vir die vreugde van die HERE. “Wanneer jy ’n jong bul as ’n brandoffer bring of gewone offer om ’n belofte na te kom of as ’n vrede-offer vir die HERE, moet jy ook ’n graanoffer van vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olie daarmee saam bring. Ook hier moet jy ’n drankoffer bysit van twee liter wyn. Dit sal ’n offer wees wat vir die HERE vreugde verskaf. “So moet jy maak met elke bul, of ram, of lam, of bok wat jy offer. Jy moet so maak met elke offer wat jy bring. Elke permanente inwoner moet so maak wanneer hy ’n vuuroffer bring om vir die HERE vreugde te bring. Iemand wat tydelik by julle bly of ’n buitelander is wat permanent tussen julle woon, moet presies dieselfde doen wanneer hy ’n offer wil bring wat vir die HERE aangenaam sal wees. In die gemeenskap geld een en dieselfde reël vir jou en vir die vreemdeling. Dit is dieselfde reël vir alle geslagte. Voor die HERE is jy en die vreemdeling dieselfde. Dieselfde voorskrifte en dieselfde bepalings geld vir jou en die vreemdeling wat by jou oorbly.” Die HERE het ook vir Moses gesê: “Gee vir die Israeliete die volgende voorskrifte: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee, en julle van die opbrengs van die land eet, moet julle daarvan vir die HERE offer. Van die eerste growwe meel wat julle maal, moet julle ’n ringbrood bak wat julle kan offer aan God as ’n geskenk wat van die dorsvloer af kom. Elke geslag moet hierdie offer uit die eerste growwe meel vir die HERE bring.”

Video for NUMERI 15:1-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor NUMERI 15:1-21