Numeri 15:1-21

Numeri 15:1-21 AFR20

Daarna het die HERE met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land van julle vaste verblyf kom wat Ek vir julle gaan gee, en julle bring 'n offergawe vir die HERE, 'n •brandoffer of •maaltydoffer uit die beeste of kleinvee om 'n buitengewone gelofte te vervul; of tydens 'n vrywillige offer; of op julle feesdae om 'n aangename geur vir die HERE te bring, dan moet die persoon wat sy gawe vir die HERE aanbied, 'n •graanoffer bring wat bestaan uit 'n tiende van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n kwart hin olyfolie. En 'n kwart hin wyn moet jy as •drankoffer bring by die brandoffer of die maaltydoffer, vir elke lam. Of as dit vir 'n ram is, moet jy 'n graanoffer van twee tiendes van 'n efa meel gesifte meel bring, klam gemaak met 'n derde hin olyfolie; en as drankoffer moet jy 'n derde hin wyn aanbied as 'n geurige offer vir die HERE. En wanneer jy 'n jong bul as brandoffer of maaltydoffer aan die HERE bring om 'n buitengewone gelofte te vervul of as gewone maaltydoffer, moet daar saam met die jong bul 'n graanoffer gebring word wat bestaan uit drie tiendes van 'n efa gesifte meel, klam gemaak met 'n halwe hin olyfolie. Jy moet ook 'n halwe hin wyn as drankoffer bring; dit is 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE. So moet dit gedoen word vir elke bul, elke jong ram of stuk kleinvee uit die skape of bokke. Hoeveel julle ook al offer, presies so moet julle dit doen by elke offer, afgesien van die getal. “ ‘Elke landsburger moet dit so doen om 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE, aan te bied. En wanneer 'n •vreemdeling wat tydelik by julle verblyf het, of iemand wat al geslagte lank by julle woon, 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE bring, moet hy dit net soos julle doen. Wat die geloofsgemeenskap betref – een vaste voorskrif geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelike verblyf het. Dit is 'n vaste voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. Voor die HERE is vreemdelinge net soos julle. Dieselfde wet en dieselfde bepaling geld vir julle en vir vreemdelinge wat tydelik by julle verblyf het.’ ” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land aankom waarheen Ek julle gaan neem, en julle van die land se brood eet, moet julle vir die HERE 'n •wydingsgeskenk eenkant sit. Van julle eerste baksel moet julle 'n ringbrood as wydingsgeskenk eenkant sit. Soos die wydingsgeskenk van die dorsvloer, so moet julle dit eenkant sit. Uit julle eerste baksel moet julle en julle nageslagte aan die HERE 'n wydingsgeskenk afstaan.’ ”

Video for Numeri 15:1-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor Numeri 15:1-21