NEHEMIA 2:11-17
NEHEMIA 2:11-17 Bybel vir almal (ABA)
Ek het in Jerusalem gekom. Nadat ek drie dae daar was, het ek in die nag uitgegaan. Daar was net 'n paar manne by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my laat besluit het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was ook nie diere by my nie, net die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag uitgegaan by die poort in die vallei. Ek het gegaan tot by die Jakkals-fontein en die Vullis-poort. Ek het gekyk hoe lyk die muur van Jerusalem. Vyande het die muur afgebreek en die poorte verbrand. Ek het verder gegaan na die Fontein-poort en die Koning-dam. Die dier waarop ek gery het, kon nie daar verbykom nie. Ek het toe in die nag in die vallei opgegaan en gekyk hoe lyk die muur. Toe het ek omgedraai en ek het deur die poort in die vallei teruggegaan in die stad. Die leiers het nie geweet waarnatoe ek gegaan het en wat ek gedoen het nie. Voor daardie dag het ek niks gesê vir die Judeërs, die priesters, die belangrike mense, die leiers en die ander mense wat die werk moes doen nie. Maar toe het ek vir hulle gesê: “Julle sien hoe sleg dit gaan met ons. Die vyande het Jerusalem verwoes en hulle het sy poorte verbrand. Ons moet weer die muur bou, sodat ander mense ons nie weer sal spot nie.”
NEHEMIA 2:11-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe ek in Jerusalem kom en daar drie dae was, het ek my in die nag gereedgemaak, ek en enkele manne saam met my; maar ek het aan geen mens meegedeel wat my God in my hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie; daar was ook geen dier by my nie, behalwe die dier waar ek op gery het. En ek het in die nag deur die Dalpoort uitgery en na die kant van die Slangfontein en na die Aspoort toe; en ek het die mure van Jerusalem besigtig wat stukkend lê, en sy poorte wat deur vuur verteer was. En ek het verder gegaan na die Fonteinpoort en na die Koningsvywer. Maar daar was geen plek vir die dier om onder my verder te gaan nie. Daarna het ek in die nag in die dal opgeklim en die muur besigtig. Toe het ek weer deur die Dalpoort ingekom en teruggegaan. Maar die leiers het nie geweet waar ek heengegaan het en wat ek doen nie; want ek het tot nog toe die Jode en die priesters en die edeles en die leiers en die ander wat die werk moes doen, niks te kenne gegee nie. Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer 'n voorwerp van smaad kan wees nie.
NEHEMIA 2:11-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was, is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie. Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was. Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie, en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe. Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie. Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.”
NEHEMIA 2:11-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het by Jerusalem aangekom, en toe ek drie dae lank daar was, het ek in die nag gereedgemaak, ek en 'n paar manne saam met my. Ek het egter niemand ingelig oor wat my God my op die hart gelê het om vir Jerusalem te doen nie. Daar was nie 'n dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het. Ek het in die nag deur die Dalpoort uitgegaan, by die Jakkalsfontein langs na die Ashooppoort. Ek het die muur van Jerusalem wat afgebreek was en die poorte wat deur vuur verteer was, nagegaan. Toe het ek oorgegaan na die Fonteinpoort, na die koning se dam, maar daar was nie 'n plek waar my rydier kon deurgaan nie. Ek het toe in die nag met die dal langs opgegaan en die muur nagegaan, waarna ek teruggekeer en weer by die Dalpoort ingegaan het. Die gesagsdraers het nie geweet waarheen ek gegaan het en wat ek besig was om te doen nie. Die Judeërs, die priesters, die hoëlui, die leiers en die res wat die werk moes doen, het ek tot op daardie stadium nie ingelig nie. Toe sê ek vir hulle: “Julle sien die moeilikheid waarin ons verkeer, dat Jerusalem vervalle lê en dat haar poorte deur vuur verwoes is. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, sodat ons nie langer 'n bespotting is nie. ”
NEHEMIA 2:11-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het ek in Jerusalem aangekom en was daar drie dae. En ek het in die nag opgestaan, ek en 'n paar manne saam met my; en ek het niemand vertel wat my God in my hart gegee het om in Jerusalem te doen nie; en daar was geen dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het. En ek het in die nag uitgegaan deur die poort van die vallei, selfs voor die draakput en na die mispoort, en die mure van Jerusalem bekyk wat afgebreek was, en sy poorte is deur vuur verteer. Toe het ek verder gegaan na die poort van die fontein en na die koning se dam, maar daar was geen plek vir die dier wat onder my was om deur te gaan nie. Toe het ek in die nag by die spruit opgegaan en die muur bekyk en teruggedraai en deur die poort van die vallei ingegaan, en so teruggekeer. En die owerstes het nie geweet waarheen ek gegaan het of wat ek gedoen het nie; en ek het dit nog nie aan die Jode of aan die priesters of aan die edeles of aan die owerstes of aan die ander wat die werk gedoen het, vertel nie. Toe sê ek vir hulle: Julle sien die benoudheid waarin ons verkeer, hoe Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom laat ons die muur van Jerusalem opbou, sodat ons nie meer 'n smaad is nie.
NEHEMIA 2:11-17 Die Boodskap (DB)
Drie dae na my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar van my vertrouelinge een nag stil-stil daar weggesluip. Ek het nog nie vir almal vertel watter planne God in my kop gesit het oor Jerusalem nie. Behalwe die donkie waarop ek gery het, het ons geen ander diere by ons gehad nie. Onder die dekmantel van die nag is ek deur die Valleihek by die stad uit, verby by die Jakkalsfontein tot by die Vullishek. So ver as wat ek gegaan het, het ek inspeksie gedoen van die mure van Jerusalem en ook van die hekke wat afgebrand het. Toe ek by die Fonteinhek en die Koningsdam kom, kon my donkie nie verder gaan nie, so baie puin en rommel het daar gelê. Ek is toe met die Kedronvallei op al langs die muur om die skade te bekyk voordat ek weer deur die Valleihek die stad in is. Niemand het geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie; nie die amptenare of selfs die Jode, die priesters, die vooraanstaande inwoners, die beamptes of die ander wat die werk sou moes doen nie. Ek het tot hiertoe nog al my planne vir myself gehou. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in watter haglike posisie ons is solank Jerusalem se mure vernietig is en die hekke van die stad afgebrand is. Kom ons herbou Jerusalem se mure. Dan kan ons weer trots wees op ons stad!”
NEHEMIA 2:11-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Drie dae ná my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar ander mense in die nag uitgesluip. Ek het toe nog vir niemand vertel van die planne wat God oor Jerusalem in my wakker gemaak het nie. Ons het geen pakdiere saam met ons gevat nie, behalwe die donkie waarop ek gery het. Dié nag het ek by die Valleipoort uitgegaan, verby die Jakkalsfontein tot by die Mispoort. Ek het die beskadigde mure van Jerusalem en die afgebrande hekke gaan ondersoek. Daarna het ek na die Fonteinhek en die Koningsdam gery, maar my donkie kon nie deur die bourommel loop nie. Ek het toe in plaas daarvan in die Kidronvallei op beweeg. Ek het die muur ondersoek en daarna teruggedraai en weer deur die Valleipoort die stad binnegegaan. Die amptenare van die stad het nie geweet dat ek uitgegaan het of waarmee ek besig was nie. Ek het nog nie die Jode oor my planne ingelig nie. Ek het ook nog nie met die godsdienstige of die politieke leiers daaroor gepraat nie, ook nie met die amptenare of die mense wat die werk sou doen nie. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Jerusalem is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.”