Nehemia 2:11-17

Nehemia 2:11-17 DB

Drie dae na my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar van my vertrouelinge een nag stil-stil daar weggesluip. Ek het nog nie vir almal vertel watter planne God in my kop gesit het oor Jerusalem nie. Behalwe die donkie waarop ek gery het, het ons geen ander diere by ons gehad nie. Onder die dekmantel van die nag is ek deur die Valleihek by die stad uit, verby by die Jakkalsfontein tot by die Vullishek. So ver as wat ek gegaan het, het ek inspeksie gedoen van die mure van Jerusalem en ook van die hekke wat afgebrand het. Toe ek by die Fonteinhek en die Koningsdam kom, kon my donkie nie verder gaan nie, so baie puin en rommel het daar gelê. Ek is toe met die Kedronvallei op al langs die muur om die skade te bekyk voordat ek weer deur die Valleihek die stad in is. Niemand het geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie; nie die amptenare of selfs die Jode, die priesters, die vooraanstaande inwoners, die beamptes of die ander wat die werk sou moes doen nie. Ek het tot hiertoe nog al my planne vir myself gehou. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in watter haglike posisie ons is solank Jerusalem se mure vernietig is en die hekke van die stad afgebrand is. Kom ons herbou Jerusalem se mure. Dan kan ons weer trots wees op ons stad!”