NAHUM 2:4-13
NAHUM 2:4-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Oor die paaie dreun die strydwaens, hulle jaag oor die vlaktes; hulle lyk soos fakkels, soos blitse wat verbyskiet. Nineve maak staat op sy bevelvoerders, maar hulle struikel as hulle aanstorm. Hulle hardloop na die stadsmuur toe, maar die vyand se stormram staan al! Die sluise van die kanale word oopgetrek, en die paleis stort inmekaar. Dit staan vas: Nineve word ontvolk, sy inwoners word weggevoer, sy slavinne kla soos duiwe wat koer en slaan hulleself op die bors. Nineve is soos 'n dam waarvan die water uitloop. “Staan, bly staan!” klink die bevel, maar niemand draai om nie. Die aanvallers roep: “Buit silwer, buit goud! Die voorraad is onuitputlik, daar is nie 'n einde aan mooi goed nie.” Nineve is kaal geplunder, leeggedra, verniel, sy mense is verslae, hulle knieë knak, hulle kry krampe in die onderlyf, almal is bleek van die skrik. Waar is die lêplek van die leeus nou, die jagveld van die jong leeus? Waar is die leeu en sy wyfie wat onbevrees met hulle welpies rondgeloop het? Waar is die leeu wat gevang het vir sy kleintjies, wat die nek van sy prooi vir sy wyfies gebreek het, wat sy boerplek vol vleis gemaak het, sy lêplek met wat hy gevang het? Ek tree teen jou op, Nineve, sê die Here die Almagtige. Ek laat jou strydwaens in vlamme opgaan, die swaard sal jou dapper leeus afmaai, Ek vee alles wat jy bymekaargemaak het, van die aarde af, jou gesante sal nie meer gehoor word nie.
NAHUM 2:4-13 Bybel vir almal (ABA)
Die oorlogkarre jaag op die paaie, hulle ry vinnig oor die veld. Hulle blink soos vuurvlamme, hulle is so vinnig soos weerlig. Die koning van Nineve roep sy beste soldate om teen die vyande te veg. Maar wanneer hulle kom, dan val party van hulle. Hulle hardloop na die muur van die stad, maar die vyande is al buite by die muur onder 'n skild-dak. Dan maak die vyande die hekke oop en hulle gaan in, en die mense in die paleis hou op om te veg. Die hekke was in die rivier wat deur die stad gevloei het. Dit is seker: Die vyande vat al die mense van Nineve weg. Die slavinne kla soos duiwe wat koer, hulle huil en slaan op hulle bors. Die mense van Nineve vlug uit die stad soos water wat uit 'n dam vloei. Die soldate skree: “Wag! Staan stil!” Maar niemand kyk om nie. Die vyande skree: “Vat die silwer, vat die goud!” Daar is baie mooi en duur goed. Die vyande het alles in die stad gevat. Hulle het die stad verwoes. Die mense van Nineve het bang geword. Hulle knieë het swak geword. Hulle het seergekry. Almal se gesigte het bleek geword. Nineve was soos 'n plek waar leeus bly. 'n Leeu-mannetjie en 'n leeu-wyfie en hulle kleintjie is vir niks bang nie. Hulle vang diere wanneer hulle wil. Die leeu-mannetjie vang 'n dier en verwurg dit en hy bring kos vir sy wyfies en sy kleintjies. Nineve se mense was ook vir niks bang nie. Hulle het ander mense gevang soos leeus diere vang, en hulle het die mense se goed gevat. Die Here wat oor alles regeer, sê
NAHUM 2:4-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Langs die paaie raas die strydwaens, hulle jaag rond oor die vlaktes; hulle voorkoms is soos fakkels, soos bliksemstrale skiet hulle heen en weer. Hy dink aan sy vername manne; hulle struikel in hul vaart, hulle hardloop na die muur waar die stormdak opgerig staan. Die poorte van die riviere word oopgemaak, en die paleis smelt weg. En dit is beslis: die stad word ontbloot, sy word weggevoer, en haar slavinne klae soos die stem van duiwe en slaan op hulle bors. En Ninevé is soos 'n vywer van waters, al die dae van haar bestaan. Maar hulle loop weg! Staan tog, staan! Maar daar is niemand wat omdraai nie. Roof silwer, roof goud! En onuitputlik is die voorraad, 'n rykdom van allerhande kosbare dinge! Leegheid, ontlediging, vernieling! En die hart versmelt, en knieë wankel, en in al die lendene is krampe, en die aangesig van hulle almal word bleek. Waar is die lêplek van die leeus, wat die voedingsplek was van die jong leeus? Waar die leeu, die leeuin, die klein leeutjie rondgeloop het sonder dat iemand hulle skrikmaak? Die leeu wat vir sy kleintjies geroof en vir sy leeuinne gewurg het, wat sy gate met roof gevul het en sy lêplekke met buit. Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek laat jou strydwaens in rook opgaan; en die swaard sal jou jong leeus verslind, en Ek sal jou roof van die aarde verdelg; en die stem van jou gesante sal nie meer gehoor word nie.
NAHUM 2:4-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Oor die vlaktes jaag die strydwaens, oor die ooptes storm hulle aan; hulle lyk soos fakkels, soos weerligstrale flits hulle verby. Die koning se offisiere word opgeroep; in gelid struikel hulle in hulle haas om by die stadsmuur te kom. Maar die stormram se skutdak is reeds opgerig. Die sluise van die kanale word oopgeruk, die paleis wankel. Dit staan vas: Sy gaan in ballingskap; sy word weggelei. Haar slavinne kla soos duiwe, en slaan hulleself op die bors. Nineve was op haar dag soos 'n dam water, maar nou stroom dit weg! “Bly staan! Bly staan!” Maar niemand draai om nie. Plunder die silwer! Plunder die goud! Die voorraad is onuitputlik – 'n rykdom kosbare voorwerpe! Verlatenheid, verwoesting, woesteny! Harte krimp ineen, knieë knak, alle heupe sidder, alle gesigte verbleek. Waar is die lêplek van die leeuwyfies, die vreetplek van die jong leeus, die plek waar die leeu, die maanhaar, rondgeloop het, waar 'n jong leeu tuis was sonder dat iemand hom skrikmaak? Ja, waar is die leeu wat genoeg verskeur het vir sy welpies, doodgewurg het vir sy wyfies? Hy het sy blyplekke gevul met buit, sy lêplekke met verskeurde prooi. “Dis Ek teen jou, Nineve!” is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “Ek sal jou strydwaens in rook laat opgaan; die swaard sal jou jong leeus verteer; wat jy gebuit het, sal Ek van die aarde af verdelg. Die stem van jou gesante sal nie weer gehoor word nie.”
NAHUM 2:4-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die strydwaens sal woed op die strate, hulle sal regstaan, die een teen die ander op die breë paaie: dit lyk soos fakkels, hulle hardloop soos die weerligstrale. Hy sal sy waardighede vertel; hulle sal struikel in hul wandel; hulle sal haastig wees na sy muur, en die verdediging moet gereed wees. Die poorte van die riviere sal oopgemaak word, en die paleis sal afgebreek word. En Huzzab sal as gevangenes weggevoer word, sy sal grootgemaak word, en haar diensmeisies sal haar lei soos met die stem van duiwe, wat op hulle bors vertoef. Maar Nineve is van ouds soos 'n waterplas, maar hulle sal wegvlug. Staan, staan, sal hulle huil; maar niemand sal terugkyk nie. Neem die buit van silwer, neem die buit van goud, want daar is geen einde aan die voorraad en heerlikheid van al die lieflike meubels nie. Sy is leeg en leeg en woes, en die hart smelt, en die knieë slaan teen mekaar, en baie pyn is in alle lendene, en die gesigte van hulle almal is donker. Waar is die woonplek van die leeus en die weiplek van die jong leeus, waar die leeu, ja, die ou leeu, en die leeumannetjie geloop het, en niemand hulle bang gemaak het nie? Die leeu het genoeg vir sy kleintjies in stukke geskeur en vir sy leeuwyfies verwurg en sy gate met prooi gevul en sy kuile met klowe. Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal haar strydwaens in die rook verbrand, en die swaard sal jou jong leeus verteer; en Ek sal jou prooi van die aarde uitroei, en die stem van jou boodskappers sal nie meer gehoor word nie.
NAHUM 2:4-13 Die Boodskap (DB)
Die waens dreun en blits heen en weer langs die strate af en ry oor die oop ruimtes. Die aanvallers lyk baie selfversekerd. Die Assiriese koning skree bevele uit aan sy offisiere. Hulle storm na die stadsmuur om hulle verdedigingsplanne te laat werk, maar in die gejaag slaan hulle neer. Dit is egter reeds te laat! Die hekke van die stad is oopgebreek aan die kant waar die rivier is. Daar is niks meer wat die paleis beskerm nie. Dit lyk maar sleg vir hulle. Nineve is rot en kaal gesteel en die mense van die stad word weggevat. Die vroue wat gevang is, was so ontsteld dat hulle geluide gemaak het wat klink soos duiwe wat koer. Hulle het op hulle bors geslaan. Soos die inwoners uit Nineve stroom, loop die stad leeg. Die mense steur hulle nie eens aan die kwaai bevele om om te draai nie. Die invallers moedig mekaar aan: “Vat van die goue en silwergoed, want dit lyk nie of daar ’n tekort is aan enige van die skatte wat ons graag wil hê nie.” Alles wat in die stad gesteel kon word, het hulle gesteel. Die stad is leeggedra. Wat ’n gesig van verwoesting! Die inwoners is in ’n toestand van skok: bleek en bewerig. Die vraag wat ’n mens moet vra, is: Wat gaan nou van Nineve word? Vroeër was die koning soos ’n leeu met Nineve as sy lêplek. Daar het hy saam met sy wyfie rondgeloop en die jong leeutjies kos gegee. Hy het nie eers daaraan gedink dat iets of iemand hulle kwaad sou kon aandoen nie. Die koning was heeltemal in beheer van sake. Hy het gemaak net soos ’n leeu sou maak om sy wyfie en sy kleintjies te versorg. Hy het net soos hy lus was van ander volke gevat wat hy wou hê om vir sy wyfie en kleintjies te gee wat hulle nodig het. Die stad en sy huis was vol van die mense wat hy gevang het en die goed wat hy gesteel het. “Neem kennis,” sê die Here wat groot en magtig is, “Ek is jou vyand! Ek verbrand jou oorlogwaens en laat jou dapper soldate op die slagveld doodgaan. Verder vat Ek alles wat jy op jou veldtogte geroof het van jou af weg. Jou mense wat altyd na jou belange by ander volke kyk, sal dit nie meer doen nie.”
NAHUM 2:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die strydwaens jaag roekeloos deur die strate en oor die pleine. Hulle flikker soos fakkels, en blits verby soos weerlig. Die koning beveel sy offisiere, maar hulle struikel in hulle haas. Hulle jaag na die stadsmure om verdedigingslinies op te stel. Te laat, die riviersluise is reeds oop! Die paleis stort weerloos inmekaar! Nineve se ballingskap is seker, en die diensmeisies treur daaroor. Hulle kla soos duiwe wat koer, en gebroke slaan hulle op hulle bors. Nineve is soos ’n lekkende opgaardam, die inwoners verdwyn daaruit! “Staan stil! Staan stil!” word hulle beveel, maar niemand draai om nie. Steel die silwer, buit die goud! Daar is net nie ’n einde aan Nineve se skatte nie! Daar is oneindig baie kosbare voorwerpe! Die stad is leeggedra, kaalgestroop en verwoes. Harte smelt en knieë knak, hulle bene bewe, en almal se gesigte is bleek. Waar is die lêplek van die leeus, die voerplek van die welpies? Waar is Nineve, die leeu van die nasies, wie se wyfie en welpies kon loop en sonder vrees gelewe het? Jy het jou vyande verskeur om jou welpies en wyfie te voed. Jou stede en huise was vol met buit, jou rusplekke gevul met roof. Die HERE, die Almagtige, sê: “Ek is jou vyand! Ek sal jou strydwaens in rook en vlamme laat opgaan. Die swaard sal jou soldate afmaai, sonder enige buit op die aarde. Die stemme van jou boodskappers sal vir altyd stil wees.”