Nahum 2:4-13

Nahum 2:4-13 AFR20

Oor die vlaktes jaag die strydwaens, oor die ooptes storm hulle aan; hulle lyk soos fakkels, soos weerligstrale flits hulle verby. Die koning se offisiere word opgeroep; in gelid struikel hulle in hulle haas om by die stadsmuur te kom. Maar die stormram se skutdak is reeds opgerig. Die sluise van die kanale word oopgeruk, die paleis wankel. Dit staan vas: Sy gaan in ballingskap; sy word weggelei. Haar slavinne kla soos duiwe, en slaan hulleself op die bors. Nineve was op haar dag soos 'n dam water, maar nou stroom dit weg! “Bly staan! Bly staan!” Maar niemand draai om nie. Plunder die silwer! Plunder die goud! Die voorraad is onuitputlik – 'n rykdom kosbare voorwerpe! Verlatenheid, verwoesting, woesteny! Harte krimp ineen, knieë knak, alle heupe sidder, alle gesigte verbleek. Waar is die lêplek van die leeuwyfies, die vreetplek van die jong leeus, die plek waar die leeu, die maanhaar, rondgeloop het, waar 'n jong leeu tuis was sonder dat iemand hom skrikmaak? Ja, waar is die leeu wat genoeg verskeur het vir sy welpies, doodgewurg het vir sy wyfies? Hy het sy blyplekke gevul met buit, sy lêplekke met verskeurde prooi. “Dis Ek teen jou, Nineve!” is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “Ek sal jou strydwaens in rook laat opgaan; die swaard sal jou jong leeus verteer; wat jy gebuit het, sal Ek van die aarde af verdelg. Die stem van jou gesante sal nie weer gehoor word nie.”