NAHUM 2:4-13

NAHUM 2:4-13 AFR83

Oor die paaie dreun die strydwaens, hulle jaag oor die vlaktes; hulle lyk soos fakkels, soos blitse wat verbyskiet. Nineve maak staat op sy bevelvoerders, maar hulle struikel as hulle aanstorm. Hulle hardloop na die stadsmuur toe, maar die vyand se stormram staan al! Die sluise van die kanale word oopgetrek, en die paleis stort inmekaar. Dit staan vas: Nineve word ontvolk, sy inwoners word weggevoer, sy slavinne kla soos duiwe wat koer en slaan hulleself op die bors. Nineve is soos 'n dam waarvan die water uitloop. “Staan, bly staan!” klink die bevel, maar niemand draai om nie. Die aanvallers roep: “Buit silwer, buit goud! Die voorraad is onuitputlik, daar is nie 'n einde aan mooi goed nie.” Nineve is kaal geplunder, leeggedra, verniel, sy mense is verslae, hulle knieë knak, hulle kry krampe in die onderlyf, almal is bleek van die skrik. Waar is die lêplek van die leeus nou, die jagveld van die jong leeus? Waar is die leeu en sy wyfie wat onbevrees met hulle welpies rondgeloop het? Waar is die leeu wat gevang het vir sy kleintjies, wat die nek van sy prooi vir sy wyfies gebreek het, wat sy boerplek vol vleis gemaak het, sy lêplek met wat hy gevang het? Ek tree teen jou op, Nineve, sê die Here die Almagtige. Ek laat jou strydwaens in vlamme opgaan, die swaard sal jou dapper leeus afmaai, Ek vee alles wat jy bymekaargemaak het, van die aarde af, jou gesante sal nie meer gehoor word nie.