NAHUM 2:4-13

NAHUM 2:4-13 NLV

Die strydwaens jaag roekeloos deur die strate en oor die pleine. Hulle flikker soos fakkels, en blits verby soos weerlig. Die koning beveel sy offisiere, maar hulle struikel in hulle haas. Hulle jaag na die stadsmure om verdedigingslinies op te stel. Te laat, die riviersluise is reeds oop! Die paleis stort weerloos inmekaar! Nineve se ballingskap is seker, en die diensmeisies treur daaroor. Hulle kla soos duiwe wat koer, en gebroke slaan hulle op hulle bors. Nineve is soos ’n lekkende opgaardam, die inwoners verdwyn daaruit! “Staan stil! Staan stil!” word hulle beveel, maar niemand draai om nie. Steel die silwer, buit die goud! Daar is net nie ’n einde aan Nineve se skatte nie! Daar is oneindig baie kosbare voorwerpe! Die stad is leeggedra, kaalgestroop en verwoes. Harte smelt en knieë knak, hulle bene bewe, en almal se gesigte is bleek. Waar is die lêplek van die leeus, die voerplek van die welpies? Waar is Nineve, die leeu van die nasies, wie se wyfie en welpies kon loop en sonder vrees gelewe het? Jy het jou vyande verskeur om jou welpies en wyfie te voed. Jou stede en huise was vol met buit, jou rusplekke gevul met roof. Die HERE, die Almagtige, sê: “Ek is jou vyand! Ek sal jou strydwaens in rook en vlamme laat opgaan. Die swaard sal jou soldate afmaai, sonder enige buit op die aarde. Die stemme van jou boodskappers sal vir altyd stil wees.”