MARKUS 14:53-72
MARKUS 14:53-72 Bybel vir almal (ABA)
Die mense het Jesus weggevat na die hoëpriester toe, en al die priesterleiers en die familieleiers en die skrifgeleerdes het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het saam met die wagte by die vuur gaan sit en hy het homself warm gemaak. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad het iets gesoek om Jesus te beskuldig sodat hulle Hom kon doodmaak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vertel wat Jesus gedoen het, maar nie een van hulle het die waarheid gepraat nie, hulle stories was nie dieselfde nie. Party mense het opgestaan en hulle het leuens vertel oor Jesus. Hulle het gesê: “Ons het gehoor Jesus sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat mense gebou het, afbreek en Ek sal in drie dae 'n ander tempel bou. Dit sal nie mense wees wat hierdie tempel bou nie.’ ” Maar ook hieroor het die mense nie dieselfde gepraat nie. Die hoëpriester het in die vergadering opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly, Hy het niks geantwoord nie. Toe vra die hoëpriester vir Hom: “Is jy die Christus, die Seun van God vir wie ons moet prys?” Jesus het gesê: “Ja, Ek is! En julle sal sien Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Ons het nou genoeg gehoor. Julle het gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Almal het gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Party van die mense het op Jesus gespoeg. Hulle het sy oë toegebind en hulle het Hom met hulle vuiste geslaan en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is 'n profeet!” Die wagte het Hom weggevat en hulle het Hom geklap. Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het daarnatoe gekom. Sy het vir Petrus gesien, hy het by die vuur gesit om homself warm te maak. Sy het lank na hom gekyk en vir hom gesê: “Jy was ook saam met Jesus, die man van Nasaret.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Haan het gekraai. Die meisie het weer vir Petrus gesien en sy het weer vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man is een van Jesus se dissipels.” Maar Petrus het weer gesê dit is nie waar nie. 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, vir Petrus gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want jy kom ook van Galilea!” Petrus het gesê: “Julle praat van hierdie man, maar ek ken hom glad nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” Toe het die haan die tweede maal gekraai. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan twee maal gekraai het.” Petrus het baie hartseer geword, hy het aangehou huil.
MARKUS 14:53-72 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak. En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie; want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie. En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê: Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie. En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie. Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God? En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig! Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was. En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan. EN terwyl Petrus onder in die binneplaas was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: Jy was ook by die Nasaréner, Jesus. Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie en begryp nie wat jy sê nie. En hy het buite na die voorplein gegaan; en die haan het gekraai. En toe die diensmeisie hom weer sien, begin sy aan die wat daar staan, te sê: Hierdie man behoort by hulle. Maar hy het dit weer ontken. En 'n bietjie later weer sê die wat daar staan vir Petrus: Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook 'n Galiléër en jou spraak is net so. Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie. En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars.
MARKUS 14:53-72 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om 'n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie. Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae 'n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie. Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie. Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra. “Ek is,” het Jesus geantwoord, “en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?” Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!” Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer 'n bietjie!” Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat. Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.” Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het 'n haan gekraai. Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” Maar hy het dit weer ontken. 'n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook 'n Galileër.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.” En onmiddellik het die haan 'n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan 'n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het in trane uitgebars.
MARKUS 14:53-72 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en al die leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners het daar saamgekom. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het saam met die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind nie. Baie het vals teen Hom getuig, en die getuienisse het nie met mekaar ooreengestem nie. Sommige het toe opgestaan en valse getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het Hom hoor sê, ‘Ek sal hierdie •tempel, wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander bou, wat nie met hande gemaak is nie.’ ” Maar ook hieroor was hulle getuienis nie eenders nie. Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is! En “julle sal die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel.” Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien. Sommige het begin om op Hom te spoeg, Hom geblinddoek en Hom met die vuis geslaan, en vir Hom gesê: “Profeteer!” Ook die dienaars het Hom klappe gegee. Terwyl •Petrus onder in die binnehof was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy vir Petrus sien, besig om homself warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Ook jy was saam met Jesus, die Nasarener.” Hy het dit ontken deur te sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan ook nie wat jy sê nie.” Hy het buitentoe gegaan na die voorhof toe, en 'n haan het gekraai. Toe die diensmeisie hom sien, het sy vir die mense wat daar naby gestaan het, weer begin sê: “Hierdie man is een van hulle.” En weer het hy dit ontken. Ná 'n kort rukkie het die mense wat daar naby gestaan het, weer vir Petrus gesê: “Sowaar, jy is een van hulle, want jy is ook 'n Galileër.” Hy begin toe vloek, en sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” En onmiddellik het 'n haan 'n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat 'n haan twee maal kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het bitterlik gehuil.
MARKUS 14:53-72 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en saam met hom het al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes vergader. En Petrus het hom van ver af gevolg tot in die paleis van die hoëpriester; en hy het by die dienaars gaan sit en hom by die vuur warm gemaak. En die owerpriesters en die hele Raad het 'n getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak; en het niks gevind nie. Want baie het valse getuienis teen hom gelewer, maar hulle getuies het nie saamgestem nie. En sommige het opgestaan en valse getuienis teen hom gelewer en gesê: Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek, en binne drie dae sal ek 'n ander bou wat sonder hande gemaak is. Maar hulle getuie het ook nie so saamgestem nie. En die hoëpriester het in die midde opgestaan en Jesus gevra en gesê: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Weer vra die hoëpriester Hom en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die Geseëndes? En Jesus sê: Ek is, en julle sal die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het hom almal tot die dood veroordeel. En sommige het begin om op hom te spoeg en sy gesig te bedek en hom met die vuis te slaan en vir hom te sê: Profeteer! en die dienaars het hom met hul handpalms geslaan. En terwyl Petrus onder in die paleis was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester. En toe sy sien hoe Petrus homself warm maak, kyk sy na hom en sê: En jy was ook by Jesus van Nasaret. Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie, en ek verstaan nie wat jy sê nie. En hy het uitgegaan na die voorportaal; en die haanspan. En 'n diensmeisie het hom weer gesien en vir die wat daar staan, begin sê: Dit is een van hulle. En hy het dit weer ontken. En 'n rukkie daarna sê die wat daar staan weer vir Petrus: Waarlik, jy is een van hulle, want jy is 'n Galiléër, en jou spraak stem daarmee ooreen. Maar hy het begin vloek en sweer en sê: Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie. En die tweede keer het die haan geklim. En Petrus dink aan die woord wat Jesus vir hom gesê het: Voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En toe hy daaraan dink, het hy gehuil.
MARKUS 14:53-72 Die Boodskap (DB)
Hulle vat Jesus toe na die belangrikste Joodse leiers toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy is selfs saam tot in die agterplaas van die hoëpriester se huis. Daar het hy saam met die wagte om die vuur gaan sit om hom so ’n bietjie warm te maak. Die Joodse leiers, saam met die Joodse Raad, het gesoek na ’n aanklag teen Jesus wat hulle genoeg rede sou gee om Hom te laat doodmaak. Maar hulle kon sowaar niks kry nie. Baie het allerhande leuens oor Hom kom vertel, maar hulle stories het so verskil dat niemand hulle sou glo nie. Toe span ’n paar saam met ’n groot leuen: “Ons het hom hoor sê dat hy ons tempel sal afbreek waaraan ons mense so lank gebou het. In drie dae sal hy glo ’n ander bou en hy sal nie eens mense gebruik om dit te doen nie.” Maar ook dié storie was so deurmekaar dat wat die een gesê het, nie dieselfde was as wat die ander een gesê het nie. Die hoëpriester, wat die voorsitter van die vergadering was, staan toe op en vra vir Jesus: “Nou toe, jy het die lelike dinge gehoor wat hierdie mense oor jou kwytraak. Wat het jy vir jouself te sê?” Maar Jesus het net doodstil gebly. Weer vra die hoëpriester Hom: “Is jy die beloofde Redder, die Seun van die groot God?” “Ek is,” sê Jesus. “En meer nog, julle sal sien hoe Ek, die beloofde Redder, op die ereplek langs die sterke God sit en ook hoe Ek op die wolke gaan kom om julle te oordeel.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy skeur toe sy klere dat almal kan sien hoe ontsteld hy is. “Vir wat soek ons nog na iemand wat vir ons kan vertel wat hierdie man verkeerd gedoen het?” roep hy uit. “Julle almal het dit gehoor. Hierdie man het geen ontsag vir God nie en sê dinge wat God diep seermaak. Wat dink julle van dit alles?” Soos een man het almal saamgestem en gesê dat daar nou geen kwessie meer was nie: Jesus moet doodgemaak word. Hulle spoeg toe op Hom en nadat hulle sy oë toegebind het, dam hulle Hom met die vuis by: “Toe, sê ’n bietjie wie het jou geslaan as jy kan. Jy sê mos jy is iemand wat namens God kan praat.” Die wagte het Jesus gevat en Hom baie seergemaak deur Hom te slaan. Terwyl Petrus so saam met die wagte in die agterplaas van die hoëpriester se huis gesit het, kom daar ’n meisie verby wat daar gewerk het. Toe sy by Petrus verbystap wat hom sit en warm maak by die vuur, steek sy vas en kyk mooi. “Jy is ook mos een van daardie groep mense wat agter die Nasarener, Jesus, aangeloop het,” sê sy. “Nee, ek is nie,” het Petrus dit dadelik ontken. “Ek het g’n idee waarvan jy praat nie. Ek ken die man nie eens nie.” Toe staan hy op en gaan staan naby die hek. Net toe kraai die haan. Maar die meisie wou hom nie los nie. Sy sê vir die mense wat daar by die hek staan: “Ek is seker hierdie ou is een van die Nasarener se volgelinge.” Weer het Petrus dit heftig ontken. Daarna sê van die ander wat daar rondgestaan het: “Jong, jy lyk vir ons net soos een van hulle. Jy kom dan ook uit Galilea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy is: “Ek sweer ek ken nie eens hierdie man van wie julle so praat nie.” Juis toe kon ’n mens die haan ’n tweede maal hoor kraai. Petrus het dit ook gehoor en dadelik onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee maal kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy My nie eens ken nie.” Toe het hy bitterlik gehuil.
MARKUS 14:53-72 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het Jesus toe na die hoofpriester se woning toe gebring, waar al die priesterhoofde, die familiehoofde en die skrifkenners bymekaargekom het. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg tot in die binnehof van die hoofpriester se woning. Hy het ’n ruk lank daar by die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak. Binne die huis het die priesterhoofde, en trouens die hele Joodse Raad, getuienis teen Jesus probeer verkry wat tot sy doodstraf sou kon lei, maar hulle kon niks vind nie. Daar het inderdaad baie gekom om vals getuienis teen Hom af te lê, maar hulle het mekaar weerspreek. Daar staan toe sekere persone op wat bedrieglik die volgende teen Hom getuig: “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’” Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie. Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?” Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?” Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is, en julle sal vir My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Ek terugkom met die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.” Sommige het op Hom begin spoeg en Hom geblinddoek. Daarna het hulle Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n slag!” Selfs die dienspersoneel het Hom in die gesig geklap toe hulle Hom wegvat. Petrus was nog steeds onder in die binnehof. Een van die diensmeisies wat vir die hoofpriester gewerk het, kom toe daar aan en sien vir Petrus waar hy hom by die vuur warm maak. Sy kyk toe stip na hom en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Nasarener.” Hy het dit egter ontken en gesê: “Ek weet glad nie waarvan jy praat nie.” Hy staan toe verder weg na die voorportaal se kant toe. Net op daardie oomblik kraai daar toe ’n haan. Die diensmeisie kyk toe na hom en begin weer vir dié wat daar rondstaan, sê: “Hierdie man is ook een van hulle!” Petrus het dit weer ontken. ’n Klein rukkie later sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle. Jy is ook ’n Galileër.” Petrus het hewig begin vloek en sweer: “Die Here weet, ek ken hierdie man van wie julle praat, glad nie!” Direk daarna het die haan vir die tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval dat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee keer kraai, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Toe het hy in trane uitgebars.