Die mense het Jesus weggevat na die hoëpriester toe, en al die priesterleiers en die familieleiers en die skrifgeleerdes het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het saam met die wagte by die vuur gaan sit en hy het homself warm gemaak. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad het iets gesoek om Jesus te beskuldig sodat hulle Hom kon doodmaak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vertel wat Jesus gedoen het, maar nie een van hulle het die waarheid gepraat nie, hulle stories was nie dieselfde nie. Party mense het opgestaan en hulle het leuens vertel oor Jesus. Hulle het gesê: “Ons het gehoor Jesus sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat mense gebou het, afbreek en Ek sal in drie dae 'n ander tempel bou. Dit sal nie mense wees wat hierdie tempel bou nie.’ ” Maar ook hieroor het die mense nie dieselfde gepraat nie. Die hoëpriester het in die vergadering opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly, Hy het niks geantwoord nie. Toe vra die hoëpriester vir Hom: “Is jy die Christus, die Seun van God vir wie ons moet prys?” Jesus het gesê: “Ja, Ek is! En julle sal sien Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Ons het nou genoeg gehoor. Julle het gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Almal het gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Party van die mense het op Jesus gespoeg. Hulle het sy oë toegebind en hulle het Hom met hulle vuiste geslaan en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is 'n profeet!” Die wagte het Hom weggevat en hulle het Hom geklap. Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het daarnatoe gekom. Sy het vir Petrus gesien, hy het by die vuur gesit om homself warm te maak. Sy het lank na hom gekyk en vir hom gesê: “Jy was ook saam met Jesus, die man van Nasaret.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Haan het gekraai. Die meisie het weer vir Petrus gesien en sy het weer vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man is een van Jesus se dissipels.” Maar Petrus het weer gesê dit is nie waar nie. 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, vir Petrus gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want jy kom ook van Galilea!” Petrus het gesê: “Julle praat van hierdie man, maar ek ken hom glad nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” Toe het die haan die tweede maal gekraai. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan twee maal gekraai het.” Petrus het baie hartseer geword, hy het aangehou huil.
Lees Markus 14
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 14:53-72
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's