Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en al die leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners het daar saamgekom. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het saam met die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind nie. Baie het vals teen Hom getuig, en die getuienisse het nie met mekaar ooreengestem nie. Sommige het toe opgestaan en valse getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het Hom hoor sê, ‘Ek sal hierdie •tempel, wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander bou, wat nie met hande gemaak is nie.’ ” Maar ook hieroor was hulle getuienis nie eenders nie. Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is! En “julle sal die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel.” Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien. Sommige het begin om op Hom te spoeg, Hom geblinddoek en Hom met die vuis geslaan, en vir Hom gesê: “Profeteer!” Ook die dienaars het Hom klappe gegee. Terwyl •Petrus onder in die binnehof was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy vir Petrus sien, besig om homself warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Ook jy was saam met Jesus, die Nasarener.” Hy het dit ontken deur te sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan ook nie wat jy sê nie.” Hy het buitentoe gegaan na die voorhof toe, en 'n haan het gekraai. Toe die diensmeisie hom sien, het sy vir die mense wat daar naby gestaan het, weer begin sê: “Hierdie man is een van hulle.” En weer het hy dit ontken. Ná 'n kort rukkie het die mense wat daar naby gestaan het, weer vir Petrus gesê: “Sowaar, jy is een van hulle, want jy is ook 'n Galileër.” Hy begin toe vloek, en sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” En onmiddellik het 'n haan 'n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat 'n haan twee maal kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het bitterlik gehuil.
Lees Markus 14
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 14:53-72
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's