Markus 14:53-72

Markus 14:53-72 DB

Hulle vat Jesus toe na die belangrikste Joodse leiers toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy is selfs saam tot in die agterplaas van die hoëpriester se huis. Daar het hy saam met die wagte om die vuur gaan sit om hom so ’n bietjie warm te maak. Die Joodse leiers, saam met die Joodse Raad, het gesoek na ’n aanklag teen Jesus wat hulle genoeg rede sou gee om Hom te laat doodmaak. Maar hulle kon sowaar niks kry nie. Baie het allerhande leuens oor Hom kom vertel, maar hulle stories het so verskil dat niemand hulle sou glo nie. Toe span ’n paar saam met ’n groot leuen: “Ons het hom hoor sê dat hy ons tempel sal afbreek waaraan ons mense so lank gebou het. In drie dae sal hy glo ’n ander bou en hy sal nie eens mense gebruik om dit te doen nie.” Maar ook dié storie was so deurmekaar dat wat die een gesê het, nie dieselfde was as wat die ander een gesê het nie. Die hoëpriester, wat die voorsitter van die vergadering was, staan toe op en vra vir Jesus: “Nou toe, jy het die lelike dinge gehoor wat hierdie mense oor jou kwytraak. Wat het jy vir jouself te sê?” Maar Jesus het net doodstil gebly. Weer vra die hoëpriester Hom: “Is jy die beloofde Redder, die Seun van die groot God?” “Ek is,” sê Jesus. “En meer nog, julle sal sien hoe Ek, die beloofde Redder, op die ereplek langs die sterke God sit en ook hoe Ek op die wolke gaan kom om julle te oordeel.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy skeur toe sy klere dat almal kan sien hoe ontsteld hy is. “Vir wat soek ons nog na iemand wat vir ons kan vertel wat hierdie man verkeerd gedoen het?” roep hy uit. “Julle almal het dit gehoor. Hierdie man het geen ontsag vir God nie en sê dinge wat God diep seermaak. Wat dink julle van dit alles?” Soos een man het almal saamgestem en gesê dat daar nou geen kwessie meer was nie: Jesus moet doodgemaak word. Hulle spoeg toe op Hom en nadat hulle sy oë toegebind het, dam hulle Hom met die vuis by: “Toe, sê ’n bietjie wie het jou geslaan as jy kan. Jy sê mos jy is iemand wat namens God kan praat.” Die wagte het Jesus gevat en Hom baie seergemaak deur Hom te slaan. Terwyl Petrus so saam met die wagte in die agterplaas van die hoëpriester se huis gesit het, kom daar ’n meisie verby wat daar gewerk het. Toe sy by Petrus verbystap wat hom sit en warm maak by die vuur, steek sy vas en kyk mooi. “Jy is ook mos een van daardie groep mense wat agter die Nasarener, Jesus, aangeloop het,” sê sy. “Nee, ek is nie,” het Petrus dit dadelik ontken. “Ek het g’n idee waarvan jy praat nie. Ek ken die man nie eens nie.” Toe staan hy op en gaan staan naby die hek. Net toe kraai die haan. Maar die meisie wou hom nie los nie. Sy sê vir die mense wat daar by die hek staan: “Ek is seker hierdie ou is een van die Nasarener se volgelinge.” Weer het Petrus dit heftig ontken. Daarna sê van die ander wat daar rondgestaan het: “Jong, jy lyk vir ons net soos een van hulle. Jy kom dan ook uit Galilea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy is: “Ek sweer ek ken nie eens hierdie man van wie julle so praat nie.” Juis toe kon ’n mens die haan ’n tweede maal hoor kraai. Petrus het dit ook gehoor en dadelik onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee maal kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy My nie eens ken nie.” Toe het hy bitterlik gehuil.