MARKUS 13:24-36

MARKUS 13:24-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie; en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte in die hemele sal geskud word.’ “Dan sal hulle die •Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Hy sal dan die engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die verste hoek van die aarde tot die verste hoek van die hemel.” “ Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “ Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die •Seun nie – net die Vader. Pasop en wees waaksaam, want julle weet nie wanneer die vasgestelde tyd daar is nie. “ Dit is soos 'n man wat op reis is en sy huis agterlaat en die beheer oordra aan sy slawe, elkeen met sy eie taak, en die deurwag beveel om waaksaam te bly. Bly daarom waaksaam, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie – teen die aand, om middernag, teen hanekraai of vroegoggend nie. Moenie dat hy, wanneer hy onverwags kom, julle aan die slaap kry nie.

MARKUS 13:24-36 Bybel vir almal (ABA)

“In daardie tyd, nadat die ander mense die gelowiges verdruk het, “ sal die son donker word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die lug val en alles in die lug sal skud. “Dan sal almal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.” Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Julle moet wakker en gereed wees, want julle weet nie wanneer daardie dag sal kom nie. “Dit is soos 'n man wat 'n tyd lank weggaan van sy huis. Hy het vir sy slawe gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het ook vir elkeen sy werk gegee wat hy moes doen. Hy het vir die deurwagter gesê hy moet wakker wees. Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis sal terugkom nie. Julle weet nie of dit laat in die aand sal wees of in die middel van die nag of wanneer die haan begin kraai of vroeg in die oggend nie. Wanneer die eienaar skielik terugkom, dan moet julle nie slaap nie.

MARKUS 13:24-36 Die Boodskap (DB)

“Julle sal al hierdie verskriklike dinge deurmaak: die son sal skielik dowwer word en nie meer mooi skyn nie, en die maan sal glad nie meer opkom nie; die sterre sal uit die hemel val, en die natuurkragte gaan heeltemal deurmekaargekrap word. “Dan sal die groot oomblik aanbreek. Voor die oë van die mense sal die Seun van die mens op die wolke verskyn. Almal sal sy geweldige krag en grootheid sien. Hy sal die mense wat Hy gekies het van elke hoekie van die aarde af bymekaar gaan maak. Daarmee sal sy engele Hom help. “Daar is nog iets anders wat Ek wil hê julle moet weet. Ek gaan dit vir julle verduidelik met die voorbeeld van ’n vyeboom. As ’n vyeboom nuwe, sagte takkies maak en die blaartjies begin uitkom, weet julle dat die somer op pad is. Dieselfde geld vir julle vraag hoe ’n mens kan weet of die einde naby is. As julle hierdie dinge sien gebeur, moet dit vir julle soos die vyetakkies en blare wees: dit moet vir julle sê dat die einde om die draai is. Sowaar, dit gaan nie lank wees nie. Die mense wat ons ouderdom is, sal nog leef wanneer dit gebeur. Daar sal ’n tyd kom wanneer die hemel en die aarde nie meer daar is nie. Maar daar sal nooit ’n tyd kom wanneer my woorde nie meer waar sal wees nie.” “Net God weet die presiese datum en tyd wanneer die einde gaan kom. Die engele weet dit nie en ook nie sy Seun nie, net Hy, want Hy is die Een wat sal besluit wanneer dit sal wees. Wees daarom wakker en op julle hoede sodat julle nie onkant gevang word nie. Julle weet mos nie wanneer die einde gaan kom nie. “Laat Ek dit vir julle verduidelik met ’n storie. Dit is soos ’n man wat vir ’n lang ruk van sy huis af weggaan. Hy reël alles mooi. Sy werkers moet na sy huis kyk en daarom gee hy vir elke werker iets om te doen. Vir een sê hy om by die deur wag te hou. Hou goed wag, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis skielik daar instap nie. Dit kan enige tyd wees: in die middel van die nag, vroeg in die oggend, as die son sak of in die aand, ja, enige tyd. As hy skielik die deur oopstoot, moet hy jou nie lekker opgekrul en vas aan die slaap kry nie.

MARKUS 13:24-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“In daardie tyd, wanneer die groot swaarkry verby is, sal die son donker word en die maan sal nie meer lig gee nie. Die sterre sal van die hemel val en die kragte wat die hemelruim saambind, sal geskud word. “En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Dan sal Ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak – ja, vanaf die verste uithoeke van die aarde. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, weet julle dat die somer naby is. Net so kan julle, wanneer julle hierdie dinge wat Ek beskryf het, sien gebeur, weet dat die einde naby is, voor die deur. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan. “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader. Omdat julle dan nie weet wanneer die tyd daar is nie, wees oplettend en voortdurend waaksaam. “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ’n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou. Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag. Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie.