Markus 13
13
Vyande sal die tempel afbreek
(Ook Matt 24:1-2; Luk 21:5-6)
1Toe Jesus wegstap van die tempel, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meneer, kyk na hierdie groot klippe en hierdie groot geboue!”
2Jesus het vir hom gesê: “Sien jy hierdie groot geboue? Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie. Dit is seker.”
Mense sal baie swaar kry
(Ook Matt 24:3-9,13; 10:17-22; Luk 21:7-17,19; 12:11-12)
3Jesus het op die Olyf-berg naby die tempel gaan sit. Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas het Hom begin uitvra toe hulle alleen by Hom was. Hulle het vir Jesus gevra: 4“Sê vir ons: Wanneer sal die dinge gebeur waarvan U gepraat het? Hoe sal ons weet wanneer dit gaan gebeur? Watter teken sal vir ons wys wanneer dit die einde van alles sal wees?”
5Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie. 6Baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ Hulle sal baie mense bedrieg. 7Julle moenie skrik wanneer julle hoor daar is oorlog nie, naby julle of ver van julle. Hierdie dinge móét gebeur, maar dit is nog nie die einde van alles nie. 8Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land veg. Daar sal aardbewings op baie plekke wees, en die mense sal min kos hê om te eet. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry. 9Maar julle, julle moet wakker en versigtig wees, want die mense sal julle na die hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges. Julle sal voor goewerneurs en konings in die hof moet staan omdat julle aan My behoort. Dan kan julle vir hulle van My vertel. 10Al die volke moet eers die goeie boodskap hoor. 11Wanneer die mense julle vang en hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle sal sê nie. God sal vir julle sê wat julle dan moet sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, dit sal die Heilige Gees wees wat praat. 12Een broer sal 'n ander broer hof toe vat en vra dat die hof hom moet straf en doodmaak, en so sal 'n pa ook sy kind hof toe vat. Kinders sal opstandig wees teen hulle ouers en hulle sal hulle ouers laat doodmaak. 13Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. Maar as julle tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God julle red.”
Mense sal die gelowiges verdruk
(Ook Matt 24:15-25; Luk 21:20-23; 17:23)
14Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan op 'n plek waar dit nie moet wees nie. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. 15Iemand wat dan op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers in die huis ingaan om iets te gaan haal nie. 16En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. 17Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. 18Julle moet bid dat hierdie dinge nie in die winter gebeur nie. 19In daardie dae sal mense baie swaar kry. Tot nou toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. 20In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd kan aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. 21Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk, daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, 22want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal tekens wys en wonderwerke doen. Hulle sal probeer om die mense van God verkeerd te laat doen. Maar God het hulle gekies, daarom sal die vals profete dit nie regkry nie.
23“Julle moet oppas! Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur.”
Die Seun van die mens sal weer kom
(Ook Matt 24:29-31; Luk 21:25-27)
24“In daardie tyd, nadat die ander mense die gelowiges verdruk het,
“ sal die son donker word
en die maan sal nie skyn nie.
25Die sterre sal uit die lug val
en alles in die lug sal skud.
26“Dan sal almal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. 27Dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.”
Die gelykenis van die vyeboom
(Ook Matt 24:32-35; Luk 21:29-33)
28Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. 29So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. 30Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. 31Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”
Niemand weet wanneer die Seun van die mens weer sal kom nie
(Ook Matt 24:36,42; 25:13-15; Luk 19:12-13,40; 12:38)
32“Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. 33Julle moet wakker en gereed wees, want julle weet nie wanneer daardie dag sal kom nie.
34“Dit is soos 'n man wat 'n tyd lank weggaan van sy huis. Hy het vir sy slawe gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het ook vir elkeen sy werk gegee wat hy moes doen. Hy het vir die deurwagter gesê hy moet wakker wees. 35Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis sal terugkom nie. Julle weet nie of dit laat in die aand sal wees of in die middel van die nag of wanneer die haan begin kraai of vroeg in die oggend nie. 36Wanneer die eienaar skielik terugkom, dan moet julle nie slaap nie. 37Ek sê dit vir julle en Ek sê dit vir almal: Julle moet wakker bly!”
Tans Gekies:
Markus 13: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.