MARKUS 13:1-37

MARKUS 13:1-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Hy die tempelterrein verlaat, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meester, kyk net watter indrukwekkende klippe en geboue!” Jesus sê toe vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word. ” Terwyl Jesus op die Olyfberg, regoor die tempelterrein, gesit het, het •Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom eenkant gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge volbring sal word?” Jesus het hulle toe geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Baie sal in my Naam kom en sê, ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei. Wanneer julle van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik raak nie. Dit moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Want nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Daar sal aardbewings op een plek ná die ander voorkom, en daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge is die begin van die smarte. “ Maar wat julle betref, wees op julle hoede! Hulle sal julle aan sanhedrins oorlewer, julle sal in •sinagoges geslaan word en voor prokurators en konings teregstaan ter wille van My, sodat julle voor hulle kan getuig. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gevange neem en julle oorlewer, moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. Broer sal broer aan die dood oorlewer, en 'n vader sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie enduit volhard, dié sal gered word.” “Wanneer julle die gruwel van verwoesting sien staan waar dit nie hoort nie – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug. Wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan of ingaan om iets uit sy huis te gaan haal nie; en wie op sy landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat dit nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nog nie was sedert die begin van die skepping wat God geskep het, tot nou toe nie, en beslis ook nie sal wees nie. As die Here daardie dae nie ingekort het nie, sou geen mens gered word nie, maar ter wille van die uitverkorenes, wat Hy uitverkies het, het Hy die dae ingekort.” “As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk daar!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal. Maar wees julle op julle hoede. Ek het alles vir julle vooruit gesê. “Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie; en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte in die hemele sal geskud word.’ “Dan sal hulle die •Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Hy sal dan die engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die verste hoek van die aarde tot die verste hoek van die hemel.” “ Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “ Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die •Seun nie – net die Vader. Pasop en wees waaksaam, want julle weet nie wanneer die vasgestelde tyd daar is nie. “ Dit is soos 'n man wat op reis is en sy huis agterlaat en die beheer oordra aan sy slawe, elkeen met sy eie taak, en die deurwag beveel om waaksaam te bly. Bly daarom waaksaam, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie – teen die aand, om middernag, teen hanekraai of vroegoggend nie. Moenie dat hy, wanneer hy onverwags kom, julle aan die slaap kry nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal, bly waaksaam!”

MARKUS 13:1-37 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus wegstap van die tempel, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meneer, kyk na hierdie groot klippe en hierdie groot geboue!” Jesus het vir hom gesê: “Sien jy hierdie groot geboue? Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie. Dit is seker.” Jesus het op die Olyf-berg naby die tempel gaan sit. Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas het Hom begin uitvra toe hulle alleen by Hom was. Hulle het vir Jesus gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal die dinge gebeur waarvan U gepraat het? Hoe sal ons weet wanneer dit gaan gebeur? Watter teken sal vir ons wys wanneer dit die einde van alles sal wees?” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie. Baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ Hulle sal baie mense bedrieg. Julle moenie skrik wanneer julle hoor daar is oorlog nie, naby julle of ver van julle. Hierdie dinge móét gebeur, maar dit is nog nie die einde van alles nie. Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land veg. Daar sal aardbewings op baie plekke wees, en die mense sal min kos hê om te eet. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry. Maar julle, julle moet wakker en versigtig wees, want die mense sal julle na die hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges. Julle sal voor goewerneurs en konings in die hof moet staan omdat julle aan My behoort. Dan kan julle vir hulle van My vertel. Al die volke moet eers die goeie boodskap hoor. Wanneer die mense julle vang en hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle sal sê nie. God sal vir julle sê wat julle dan moet sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, dit sal die Heilige Gees wees wat praat. Een broer sal 'n ander broer hof toe vat en vra dat die hof hom moet straf en doodmaak, en so sal 'n pa ook sy kind hof toe vat. Kinders sal opstandig wees teen hulle ouers en hulle sal hulle ouers laat doodmaak. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. Maar as julle tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God julle red.” Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan op 'n plek waar dit nie moet wees nie. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. Iemand wat dan op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers in die huis ingaan om iets te gaan haal nie. En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Julle moet bid dat hierdie dinge nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal mense baie swaar kry. Tot nou toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd kan aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk, daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal tekens wys en wonderwerke doen. Hulle sal probeer om die mense van God verkeerd te laat doen. Maar God het hulle gekies, daarom sal die vals profete dit nie regkry nie. “Julle moet oppas! Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur.” “In daardie tyd, nadat die ander mense die gelowiges verdruk het, “ sal die son donker word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die lug val en alles in die lug sal skud. “Dan sal almal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.” Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Julle moet wakker en gereed wees, want julle weet nie wanneer daardie dag sal kom nie. “Dit is soos 'n man wat 'n tyd lank weggaan van sy huis. Hy het vir sy slawe gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het ook vir elkeen sy werk gegee wat hy moes doen. Hy het vir die deurwagter gesê hy moet wakker wees. Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis sal terugkom nie. Julle weet nie of dit laat in die aand sal wees of in die middel van die nag of wanneer die haan begin kraai of vroeg in die oggend nie. Wanneer die eienaar skielik terugkom, dan moet julle nie slaap nie. Ek sê dit vir julle en Ek sê dit vir almal: Julle moet wakker bly!”

MARKUS 13:1-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue! En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie! En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word? En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei. Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees. En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. EN wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie — laat hom wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae! En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie. Want daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort. En as iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar! — moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê. MAAR in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel. En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. PAS op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!

MARKUS 13:1-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!” Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: “Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?” Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei. “En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. “En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal 'n getuienis voor hulle wees. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.” “En wanneer julle die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie – wie dit lees, moet dit goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, want in daardie tyd sal daar so 'n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.” “Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. “Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.” “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

MARKUS 13:1-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter soort klippe en watter geboue hier is! En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? daar mag nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie. En terwyl hy op die Olyfberg teenoor die tempel gaan sit het, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andreas hom afsonderlik: Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge wees? en wat sal die teken wees wanneer al hierdie dinge vervul sal word? En Jesus antwoord hulle en begin sê: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus; en sal baie mislei. En wanneer julle van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie ontsteld wees nie, want sulke dinge moet noodwendig gebeur; maar die einde sal nog nie wees nie. Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnood en benoudhede wees: dit is die begin van smarte. Maar pas op vir julleself, want hulle sal julle oorlewer aan rade; en in die sinagoges sal julle geslaan word, en julle sal voor owerstes en konings gebring word om My ontwil, tot 'n getuienis teen hulle. En die evangelie moet eers onder al die nasies verkondig word. Maar wanneer hulle julle lei en julle oorgee, moenie vooraf dink oor wat julle sal spreek nie, en julle moet julle nie vooraf besin nie; maar alles wat julle in daardie uur gegee sal word, spreek julle; want dit is nie julle wat spreek nie, maar Heilige Gees. En die broer sal die broer aan die dood verraai, en die vader die seun; en kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam; maar hy wat volhard tot die einde toe, hy sal gered word. Maar wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie, laat hy wat lees dit verstaan, dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug. En laat hom wat op die dak is, nie in die huis afgaan en daarin nie ingaan om iets uit sy huis te neem nie. En laat hom wat in die veld is, nie omdraai om sy kleed op te neem nie. Maar wee die swangeres en die wat soog in daardie dae! En bid dat julle vlug nie in die winter moet wees nie. Want in daardie dae sal verdrukking wees soos daar nie was van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe nie, en ook nie sal wees nie. En behalwe dat die Here daardie dae verkort het, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy die dae verkort. En as iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is Christus; of kyk, hy is daar; glo hom nie: Want valse christusse en valse profete sal opstaan en tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te verlei. Maar pas op: kyk, Ek het julle alles voorspel. Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, En die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom op die wolke met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die uiterste van die aarde af tot aan die einde van die hemel. Leer nou 'n gelykenis van die vyeboom; Wanneer haar tak nog sag is en blare uitspruit, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, ja, voor die deure. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nie verbygaan nie. Maar van daardie dag en daardie uur weet niemand nie, ook nie die engele wat in die hemele is nie, ook nie die Seun nie, maar die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Want die Seun van die mens is soos 'n man wat ver reis, wat sy huis verlaat het en aan sy diensknegte mag gegee het en aan elkeen sy werk, en die poortwagter beveel het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie, in die aand of middernag of met die hanekraai of in die môre. Om nie skielik te kom vind hy jou aan die slaap nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak.

MARKUS 13:1-37 Die Boodskap (DB)

Terwyl Jesus-hulle so uit die tempelterrein stap, sê een van sy volgelinge vir Hom: “Here, kyk hierdie massiewe rotsblokke waarmee die tempel gebou is. Is die gebou nie pragtig nie?” “Sien julle al hierdie groot geboue?” vra Jesus. “Hulle sal tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie een klip op ’n ander een gelos word nie.” ’n Rukkie later gaan Jesus teen die hang van die Olyfberg sit. Van daar af kon ’n mens die tempel mooi sien. Omdat daar nie ander mense by hulle was nie, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom toe: “Vertel ons asseblief meer. Wanneer gaan al hierdie vreeslike dinge gebeur? Op watter manier gaan ons gewaarsku word dat die verwoesting gaan begin? Is daar tekens wat ons kan dophou?” “Julle moet versigtig wees,” sê Jesus. “Daar sal baie mense kom wat julle op ’n dwaalspoor sal wil sit en baie sal sowaar agter hulle aanloop. Hulle sal kom en sê dat hulle die redder is en my Naam daarvoor gebruik. Moenie skrik as julle hoor dat mense begin oorlog maak nie. Dit is dinge wat moet gebeur, maar dit beteken nog nie dat die einde hier is nie. Nasies sal met mekaar baklei oor wie die sterkste is en die een heerser sal die ander een probeer onderkry. Kos gaan ook met tye baie skaars word en op ander plekke sal daar aardbewings wees. Dit sal die eerste tekens wees dat die einde aan die kom is, net soos die pyne wat ’n swanger vrou kry die teken is dat die kind op pad is. “Kyk ook wat alles met julle gaan gebeur. Mense sal julle voor die hof sleep en julle voor almal verneder en slaan. Omdat julle my volgelinge is, sal julle voor die leiers van die wêreld aangekla word, maar dit sal julle die kans gee om vir hulle van My te vertel. Voordat die einde kom, moet die goeie nuus eers aan al die nasies vertel word. En as hulle julle in die tronk stop of voor die hof sleep, moenie bekommerd wees oor wat julle gaan sê nie. “Die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees. “Dit sal so sleg gaan dat ’n broer niks daarvan sal dink om sy eie broer te verraai sodat hy doodgemaak kan word nie. Pa’s sal dit ook aan hulle kinders doen. Kinders sal ook nie meer na hulle ouers wil luister nie. Hulle sal teen hulle ouers draai en nie omgee om hulle te laat doodmaak nie. Mense sal niks meer met julle te doen wil hê nie omdat julle aan My behoort. Hulle sal julle sleg behandel waar hulle kan. Maar as iemand nie aan die druk toegee nie, maar aan my kant bly staan tot die bitter einde toe, sal God hom in sy nuwe wêreld verwelkom. “Julle moet mooi begryp wat Ek vir julle wil sê. As julle daardie veragtelike ‘ding’ wat alles net wil stukkend maak en vernietig in die tempel sien staan waar dit nie eens behoort te kom nie, moet al die mense in Judea sorg dat hulle so gou moontlik in die berge gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie huis toe gaan om jou eers beter te gaan aantrek nie. Jy moet net maak dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat in daardie stadium babatjies het of verwag. Vra God mooi dat hierdie dinge nie in die koue winter moet gebeur nie. Dit gaan verskriklik wees. Mense gaan ongelooflik swaarkry. Nog nooit in die geskiedenis van hierdie wêreld was daar so iets nie en so iets sal ook nooit weer gebeur nie. As God nie besluit het om die einde gouer te laat aanbreek nie, sou niemand dit gemaak het nie. Maar gelukkig het God die verskriklike tyd kortgeknip ter wille van daardie mense wat Syne is omdat Hy hulle vir Hom gekies het. “As iemand julle in daardie stadium wil wysmaak dat dié of daardie man die verlosser is wat sou kom, moet julle julle glad nie daaraan steur nie. Lag hom uit. Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is. Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku. “Julle sal al hierdie verskriklike dinge deurmaak: die son sal skielik dowwer word en nie meer mooi skyn nie, en die maan sal glad nie meer opkom nie; die sterre sal uit die hemel val, en die natuurkragte gaan heeltemal deurmekaargekrap word. “Dan sal die groot oomblik aanbreek. Voor die oë van die mense sal die Seun van die mens op die wolke verskyn. Almal sal sy geweldige krag en grootheid sien. Hy sal die mense wat Hy gekies het van elke hoekie van die aarde af bymekaar gaan maak. Daarmee sal sy engele Hom help. “Daar is nog iets anders wat Ek wil hê julle moet weet. Ek gaan dit vir julle verduidelik met die voorbeeld van ’n vyeboom. As ’n vyeboom nuwe, sagte takkies maak en die blaartjies begin uitkom, weet julle dat die somer op pad is. Dieselfde geld vir julle vraag hoe ’n mens kan weet of die einde naby is. As julle hierdie dinge sien gebeur, moet dit vir julle soos die vyetakkies en blare wees: dit moet vir julle sê dat die einde om die draai is. Sowaar, dit gaan nie lank wees nie. Die mense wat ons ouderdom is, sal nog leef wanneer dit gebeur. Daar sal ’n tyd kom wanneer die hemel en die aarde nie meer daar is nie. Maar daar sal nooit ’n tyd kom wanneer my woorde nie meer waar sal wees nie.” “Net God weet die presiese datum en tyd wanneer die einde gaan kom. Die engele weet dit nie en ook nie sy Seun nie, net Hy, want Hy is die Een wat sal besluit wanneer dit sal wees. Wees daarom wakker en op julle hoede sodat julle nie onkant gevang word nie. Julle weet mos nie wanneer die einde gaan kom nie. “Laat Ek dit vir julle verduidelik met ’n storie. Dit is soos ’n man wat vir ’n lang ruk van sy huis af weggaan. Hy reël alles mooi. Sy werkers moet na sy huis kyk en daarom gee hy vir elke werker iets om te doen. Vir een sê hy om by die deur wag te hou. Hou goed wag, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis skielik daar instap nie. Dit kan enige tyd wees: in die middel van die nag, vroeg in die oggend, as die son sak of in die aand, ja, enige tyd. As hy skielik die deur oopstoot, moet hy jou nie lekker opgekrul en vas aan die slaap kry nie. “Laat Ek dit vir elkeen weer sê en mooi beklemtoon: julle moet wakker en op die uitkyk wees, want Ek kom terug.”

MARKUS 13:1-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Leermeester, kyk net na hierdie massiewe klippe in die mure! En die ontsaglike geboue!” Daarop het Jesus hom geantwoord: “Hierdie groot geboue wat jy sien, sal so volledig tot op die grond afgebreek word dat daar nie een klip op die ander sal oorbly nie.” Later, toe Jesus teen die hang van die Olyfberg regoor die tempel sit, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom vertroulik: “Wanneer sal hierdie dinge gebeur? En watter teken sal daar wees om vir ons te waarsku dat hierdie dinge vervul sal word?” Jesus het geantwoord: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring. Wanneer julle van oorloë hoor, hier naby en daar ver, moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar. Daar sal wydverspreide aardbewings wees; daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge sal nog maar net die begin van die swaarkry wees. “Wees op julle hoede! Hulle sal julle aan die howe uitlewer. Julle sal in die sinagoges geslaan word. En julle sal voor goewerneurs en konings verskyn omdat julle my volgelinge is. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle van My te getuig. Ja, die Goeie Nuus moet eers verkondig word aan al die nasies. Maar wanneer hulle julle voor die owerhede bring, moet julle julle nie bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie. Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat. “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak. Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word. “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie! En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter te vlug nie. Dit sal ’n tyd van swaarkry wees, erger as enigiets wat gebeur het sedert God die wêreld gemaak het of wat hierna sal gebeur. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense het Hy die tyd wel verkort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie. Daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. Wees op julle hoede. Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku. “In daardie tyd, wanneer die groot swaarkry verby is, sal die son donker word en die maan sal nie meer lig gee nie. Die sterre sal van die hemel val en die kragte wat die hemelruim saambind, sal geskud word. “En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Dan sal Ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak – ja, vanaf die verste uithoeke van die aarde. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, weet julle dat die somer naby is. Net so kan julle, wanneer julle hierdie dinge wat Ek beskryf het, sien gebeur, weet dat die einde naby is, voor die deur. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan. “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader. Omdat julle dan nie weet wanneer die tyd daar is nie, wees oplettend en voortdurend waaksaam. “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ’n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou. Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag. Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: ‘Bly voortdurend waaksaam!’”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid