Markus 13:1-37

Markus 13:1-37 AFR20

Toe Hy die tempelterrein verlaat, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meester, kyk net watter indrukwekkende klippe en geboue!” Jesus sê toe vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word. ” Terwyl Jesus op die Olyfberg, regoor die tempelterrein, gesit het, het •Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom eenkant gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge volbring sal word?” Jesus het hulle toe geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Baie sal in my Naam kom en sê, ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei. Wanneer julle van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik raak nie. Dit moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Want nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Daar sal aardbewings op een plek ná die ander voorkom, en daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge is die begin van die smarte. “ Maar wat julle betref, wees op julle hoede! Hulle sal julle aan sanhedrins oorlewer, julle sal in •sinagoges geslaan word en voor prokurators en konings teregstaan ter wille van My, sodat julle voor hulle kan getuig. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gevange neem en julle oorlewer, moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. Broer sal broer aan die dood oorlewer, en 'n vader sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie enduit volhard, dié sal gered word.” “Wanneer julle die gruwel van verwoesting sien staan waar dit nie hoort nie – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug. Wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan of ingaan om iets uit sy huis te gaan haal nie; en wie op sy landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat dit nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nog nie was sedert die begin van die skepping wat God geskep het, tot nou toe nie, en beslis ook nie sal wees nie. As die Here daardie dae nie ingekort het nie, sou geen mens gered word nie, maar ter wille van die uitverkorenes, wat Hy uitverkies het, het Hy die dae ingekort.” “As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk daar!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal. Maar wees julle op julle hoede. Ek het alles vir julle vooruit gesê. “Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie; en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte in die hemele sal geskud word.’ “Dan sal hulle die •Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Hy sal dan die engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die verste hoek van die aarde tot die verste hoek van die hemel.” “ Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “ Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die •Seun nie – net die Vader. Pasop en wees waaksaam, want julle weet nie wanneer die vasgestelde tyd daar is nie. “ Dit is soos 'n man wat op reis is en sy huis agterlaat en die beheer oordra aan sy slawe, elkeen met sy eie taak, en die deurwag beveel om waaksaam te bly. Bly daarom waaksaam, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie – teen die aand, om middernag, teen hanekraai of vroegoggend nie. Moenie dat hy, wanneer hy onverwags kom, julle aan die slaap kry nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal, bly waaksaam!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid