MARKUS 10:1-31

MARKUS 10:1-31 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Jesus weggegaan het van die stad Kapernaum, het Hy oor die Jordaan-rivier gegaan en Hy het toe in die provinsie Judea gekom. 'n Groot klomp mense het rondom Jesus bymekaargekom en Hy het vir hulle weer begin leer soos Hy altyd gedoen het. Party Fariseërs het na Hom toe gekom. Hulle wou hê Jesus moes iets sê wat vir Hom probleme kan gee. Hulle het vir Hom gevra: “Mag 'n man skei van sy vrou?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Moses vir julle gesê?” Hulle het gesê: “ Moses het gesê 'n man mag vir sy vrou 'n skeibrief gee en van haar skei.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses vir julle hierdie wet gemaak. Maar as God 'n man en 'n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie. God wat in die begin alles gemaak het, het die mense so gemaak dat hulle mans en vroue is. “ Daarom sal 'n man weggaan van sy pa en sy ma, en hy sal saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal soos een mens wees. “Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een.” Later, toe hulle weer terug in die huis was, het die dissipels vir Jesus uitgevra oor wat Hy gesê het. Jesus het vir hulle gesê: “As 'n man van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk teen sy vrou. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander man trou, dan pleeg sy egbreuk.” Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak, maar die dissipels het met hulle geraas. Toe Jesus dit hoor, het Hy kwaad geword en vir sy dissipels gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos 'n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy nie kan inkom waar God Koning is nie.” Jesus het die kindertjies in sy arms vasgehou. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle geseën. Toe Jesus verder wou gaan, het iemand na Hom toe gehardloop. Hy het gekniel voor Jesus en hy het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God gesê het: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy mag nie skelm wees en iemand anders se goed vat nie, jy moet jou ouers respekteer.” Die man het vir Jesus gesê: “Meneer, vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Jesus het lank na hom gekyk en Hy het lief geword vir hom en vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man was baie ongelukkig toe hy hoor wat Jesus sê. Hy het weggegaan en hy was hartseer, want hy was baie ryk. Jesus het gekyk na die mense rondom Hom en Hy het vir sy dissipels gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.” Die dissipels was verbaas oor wat Jesus gesê het. Maar Jesus het ook vir hulle gesê: “My vriende, dit is baie moeilik om in te kom waar God Koning is. 'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.” Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma's en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal 'n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”

MARKUS 10:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het opgestaan en daarvandaan deur die oorkant van die Jordaan na die gebied van Judéa gegaan; en weer het 'n skare by Hom vergader; en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer geleer. Toe kom die Fariseërs na Hom; en, om Hom te versoek, stel hulle Hom die vraag of dit 'n man geoorloof is om van sy vrou te skei? Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel? En hulle sê: Moses het toegelaat om 'n skeibrief te skrywe en van haar te skei. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe, maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk. EN hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf. Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën. EN toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder. Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.

MARKUS 10:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer. Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag 'n man van sy vrou skei?” Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?” “Moses het toegelaat dat iemand 'n skeibrief opstel en skei,” het hulle geantwoord. Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.” In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.” Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën. Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder. ” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.” Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.” Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.” Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.” Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

MARKUS 10:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het gereedgemaak, daarvandaan vertrek en in die gebied van Judea oorkant die Jordaan aangekom. Die skares stroom toe opnuut na Hom toe, en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer onderrig. Daar het ook •Fariseërs nader gekom en, om Hom te toets, gevra of dit vir 'n man toelaatbaar is om van sy vrou te skei. Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?” Hulle antwoord toe: “Moses het 'n man toegelaat om 'n skeibrief te skryf en te skei. ” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is weens julle harde harte dat hy hierdie reël vir julle neergelê het; ‘maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Terug in die huis het die dissipels Hom hieroor uitgevra. Hy antwoord hulle toe: “Wie van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, pleeg egbreuk teenoor haar; en as sy van haar man skei en met 'n ander man trou, pleeg sy egbreuk.” Hulle het kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle kon aanraak, maar die dissipels het hulle berispe. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” Hy neem hulle toe in sy arms en seën hulle terwyl Hy sy hande op hulle lê. Toe Hy uitgaan om sy reis te hervat, hardloop daar iemand na Hom toe, kniel voor Hom en vra Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’ ” Maar hy antwoord Hom: “Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom.” Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe om Hom rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die •koninkryk van God ingaan!” Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik. ” •Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” Jesus het geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma's en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.”

MARKUS 10:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het daarvandaan opgestaan en in die gebiede van Judéa aan die oorkant van die Jordaan gekom; en soos hy gewoond was, het hy hulle weer geleer. Toe kom die Fariseërs na Hom en vra Hom: Is dit 'n man geoorloof om van sy vrou te skei? hom verlei. En hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel? En hulle het gesê: Moses het toegelaat om 'n skeibrief te skryf en van haar te verwyder. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle hart het Hy hierdie gebod vir julle geskryf. Maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef; En hulle twee sal een vlees wees; so dan is hulle nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. En hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander getroud is, pleeg sy egbreuk. En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en sy dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf. Maar toe Jesus dit sien, was Hy baie ontevrede en sê vir hulle: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, hy sal daar nie ingaan nie. En hy het hulle in sy arms geneem, sy hande op hulle gelê en hulle geseën. En toe Hy op die pad uitgegaan het, kom daar een aan die hardloop en kniel voor Hom en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? daar is niemand goed nie, behalwe een, dit is God. Jy ken die gebooie: Moenie egbreek nie, moenie doodslaan nie, moenie steel nie, moenie valse getuienis gee nie, bedrieg nie, eer jou vader en jou moeder. En hy antwoord en sê vir hom: Meester, dit alles het ek onderhou van my jeug af. Toe Jesus hom aanskou, het hy hom liefgehad en vir hom gesê: Een ding kom jou kort: gaan, verkoop alles wat jy het en gee aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom, neem die kruis op en volg ek. En hy was bedroef oor dié woord en het bedroef weggegaan, want hy het groot besittings gehad. En Jesus het rondgekyk en vir sy dissipels gesê: Hoe beswaarlik sal die wat ryk is, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde. Maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe moeilik is dit vir die wat op rykdom vertrou om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was buitengewoon verbaas en het onder mekaar gesê: Wie kan dan gered word? En Jesus het hulle aangekyk en gesê: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond verlaat het ter wille van My en die evangelie nie, Maar hy sal nou in hierdie tyd honderdvoudig ontvang, huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, met vervolging; en in die toekomstige wêreld die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees; en die laaste eerste.

MARKUS 10:1-31 Die Boodskap (DB)

Van daar af is Jesus in ’n suidelike rigting na Judea toe. Hulle is aan die oorkant van die Jordaan langs. Mense het weer om Jesus saamgedrom en soos Hy gewoonlik gemaak het, het Hy hulle van God vertel. Van die streng godsdienstige Fariseërs het ook by die groep aangesluit. Hulle wou kyk of Jesus Hom nie dalk kon vaspraat en so in die moeilikheid beland nie. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man van sy vrou skei?” “Wat het Moses vir julle in sy wet gesê?” vra Jesus toe. “Wel,” sê hulle, “Moses het gesê ’n man kan ’n brief skryf waarin hy sê dat hy van sy vrou wil skei en dan is alles verby. Sy moet dan uit die huis uit.” “Dit was omdat julle so hardkoppig en vol sonde is dat Moses dit gesê het,” antwoord Jesus toe. “Reg van die begin af het God mans en vroue gemaak. As ’n man en ’n vrou trou, gaan hy van sy ouers af weg en bly saam met sy vrou. Hulle twee is dan soos een mens. As God twee mense so aan mekaar vasgemaak het, mag niemand die band tussen hulle losmaak nie.” Toe hulle later weer saam by die huis was, het sy getrouste volgelinge Jesus gevra wat Hy daarmee bedoel het. Jesus verduidelik toe: “As ’n man van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou, is hy in God se oë ontrou aan sy eerste vrou. Net so, as die vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, is sy ook in God se oë ontrou aan haar eerste man.” Op ’n keer het mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het hulle egter gekeer. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik dat sy dissipels moet ophou: “Moet nooit kindertjies keer om na My toe te kom nie. Hulle is altyd welkom by My. “Die nuwe wêreld van God is juis bedoel vir mense soos hulle. Hiervan kan julle maar seker wees: wie nie God se leiding en heerskappy aanvaar soos ’n klein kind sy pa se leiding aanvaar nie, sal nie ’n plek in God se nuwe wêreld hê nie.” Toe het Hy sy arms oopgehou sodat die kindertjies nader kon kom. Hy het hulle vasgehou, sy hand op die koppies gesit en hulle geseën. Net toe Jesus by die huis uitgaan om verder te gaan, kom daar ’n man na Hom toe aangehardloop en val op sy knieë voor Hom neer. “Meneer, U is ’n goeie prediker,” sê hy. “Sê my, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry wat God vir mense gee?” Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed. Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.” “Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus. Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.” Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg. Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.” Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie. Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.” Nou was Jesus se volgelinge eers verbaas. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie op aarde sal dan in God se nuwe wêreld kan kom?” Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.” Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.” “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry. Baie mense wat nou vreeslik in tel is en hulle baie belangrik hou, sal dan niks wees nie en wie nou niks is nie, sal dan die belangrikste plekke inneem.”

MARKUS 10:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig. ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?” “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie. Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte. God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’ En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.” Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou. En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.” Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is. Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën. Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed. Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’” “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.” Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.” Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!” Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.” Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?” Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!” Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.” Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het, sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe! Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”