MARKUS 10:1-31

MARKUS 10:1-31 AFR53

EN Hy het opgestaan en daarvandaan deur die oorkant van die Jordaan na die gebied van Judéa gegaan; en weer het 'n skare by Hom vergader; en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer geleer. Toe kom die Fariseërs na Hom; en, om Hom te versoek, stel hulle Hom die vraag of dit 'n man geoorloof is om van sy vrou te skei? Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel? En hulle sê: Moses het toegelaat om 'n skeibrief te skrywe en van haar te skei. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe, maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk. EN hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf. Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën. EN toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder. Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.