MARKUS 10:1-31

MARKUS 10:1-31 NLV

Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig. ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?” “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie. Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte. God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’ En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.” Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou. En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.” Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek. Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is. Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën. Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed. Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’” “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.” Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.” Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!” Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.” Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?” Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!” Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.” Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het, sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe! Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”