Markus 10:1-31

Markus 10:1-31 ABA

Nadat Jesus weggegaan het van die stad Kapernaum, het Hy oor die Jordaan-rivier gegaan en Hy het toe in die provinsie Judea gekom. 'n Groot klomp mense het rondom Jesus bymekaargekom en Hy het vir hulle weer begin leer soos Hy altyd gedoen het. Party Fariseërs het na Hom toe gekom. Hulle wou hê Jesus moes iets sê wat vir Hom probleme kan gee. Hulle het vir Hom gevra: “Mag 'n man skei van sy vrou?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Moses vir julle gesê?” Hulle het gesê: “ Moses het gesê 'n man mag vir sy vrou 'n skeibrief gee en van haar skei.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses vir julle hierdie wet gemaak. Maar as God 'n man en 'n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie. God wat in die begin alles gemaak het, het die mense so gemaak dat hulle mans en vroue is. “ Daarom sal 'n man weggaan van sy pa en sy ma, en hy sal saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal soos een mens wees. “Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een.” Later, toe hulle weer terug in die huis was, het die dissipels vir Jesus uitgevra oor wat Hy gesê het. Jesus het vir hulle gesê: “As 'n man van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk teen sy vrou. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander man trou, dan pleeg sy egbreuk.” Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak, maar die dissipels het met hulle geraas. Toe Jesus dit hoor, het Hy kwaad geword en vir sy dissipels gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos 'n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy nie kan inkom waar God Koning is nie.” Jesus het die kindertjies in sy arms vasgehou. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle geseën. Toe Jesus verder wou gaan, het iemand na Hom toe gehardloop. Hy het gekniel voor Jesus en hy het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God gesê het: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy mag nie skelm wees en iemand anders se goed vat nie, jy moet jou ouers respekteer.” Die man het vir Jesus gesê: “Meneer, vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Jesus het lank na hom gekyk en Hy het lief geword vir hom en vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man was baie ongelukkig toe hy hoor wat Jesus sê. Hy het weggegaan en hy was hartseer, want hy was baie ryk. Jesus het gekyk na die mense rondom Hom en Hy het vir sy dissipels gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.” Die dissipels was verbaas oor wat Jesus gesê het. Maar Jesus het ook vir hulle gesê: “My vriende, dit is baie moeilik om in te kom waar God Koning is. 'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.” Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma's en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal 'n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”