MATTEUS 7:1-14
MATTEUS 7:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ maar wat van die balk in jou eie oog? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal. “Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie met hulle pote vertrap, en die honde nie omspring en julle verskeur nie.” “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. “Wie onder julle sal, as sy seun brood vra, vir hom 'n klip gee? Of ook, as hy 'n vis vra, vir hom 'n slang gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die •hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra! “Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.” “Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind.
MATTEUS 7:1-14 Bybel vir almal (ABA)
“Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. God sal oor julle oordeel soos julle oor ander mense oordeel. Hy sal aan julle doen wat julle aan ander mense wil doen. “Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy besef nie daar is 'n groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sien die bietjie wat jou broer verkeerd gedoen het, maar jy sien nie die baie wat jyself verkeerd gedoen het nie. Jy kan nie vir jou broer sê jy wil die klein stukkie hout uit sy oog haal wanneer daar 'n groot stuk hout in jou eie oog is nie. As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens! Haal eers die groot stuk hout uit jou eie oog. Dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal. “'n Mens gooi nie dinge wat aan God behoort, vir die honde nie. Die honde sal omdraai en hulle sal jou kom byt. Jy gooi ook nie juwele voor varke nie. Die varke sal op die juwele trap met hulle pote. So moet julle nie aanhou om God se boodskap, wat kosbaar is, na mense toe te bring wat die boodskap nie wil ontvang nie.” “Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee wat julle vra. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle laat kry wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. 'n Pa sal nooit vir sy seun 'n klip gee wanneer die seun vir hom brood vra nie. En hy sal nie vir sy seun 'n slang gee wanneer die seun vir hom 'n vis vra nie. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir die mense wat dit vir Hom vra, dinge gee wat nog beter is. Julle moet aan ander mense doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen. Dit is wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir julle sê.” “Julle moet by die klein hekkie ingaan. Want die hek na die hel is groot, en dit is maklik om op daardie pad te loop. Baie mense gaan deur die groot hek. Maar die hek na die ewige lewe is klein, en dit is nie maklik om op hierdie pad te loop nie. Min mense kry hierdie pad en loop daarop.”
MATTEUS 7:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal. Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie. Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
MATTEUS 7:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
MATTEUS 7:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met watter oordeel julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter wat in jou broer se oog is, maar let nie op die balk wat in jou eie oog is nie? Of hoe sal jy vir jou broer sê: Laat my die splinter uit jou oog uitruk; en kyk, daar is 'n balk in jou eie oog? Geveinsde, werp eers die balk uit jou eie oog uit; en dan sal jy duidelik sien om die splinter uit jou broer se oog uit te gooi. Gee nie wat heilig is vir die honde nie, en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, dat hulle dit nie onder hulle voete vertrap en omdraai en julle verskeur nie. Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter man is daar onder julle wat, as sy seun brood vra, vir hom 'n klip sal gee? Of as hy 'n vis vra, sal hy vir hom 'n slang gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid? Daarom, alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen, want dit is die wet en die profete. Gaan in deur die nou poort, want wyd is die poort en breed is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
MATTEUS 7:1-14 Die Boodskap (DB)
“Moenie so gou foutvind nie. As jy ander mense links en regs veroordeel, gaan God eendag presies dieselfde met jou doen. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir die groot houtstomp wat in jou eie oog vassit? En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal. “Wees versigtig wanneer julle tussen mense is wat geen respek vir God het nie. Hulle verstaan glad nie hoe groot en heilig Hy is nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Soos ’n trop varke sal hulle sy goedheid onder hulle voete vertrap. Boonop gaan hulle julle ook nog beledig en vervolg.” “Julle moet nooit moeg word om te bid nie. Vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Jou hemelse Vader wil net die beste dinge vir jou gee. As jy ’n pa is, behoort jy dit goed te verstaan. Jy wil mos graag net goeie dinge vir jou kinders gee, nie waar nie? As jou kind vir jou ’n stukkie brood kom vra om te eet, sal jy tog nie vir hom ’n klip gee nie. Jy sal ook nie vir hom iets slegs soos ’n slang gee as hy vis wil hê om te eet nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal net die beste dinge gee vir diegene wat Hom daarvoor vra.” “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra. “Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”
MATTEUS 7:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie. Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir júlle gebruik word. “En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie? Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ‘Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog haal,’ terwyl daar ’n yslike stomp in jou eie oog sit? Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit. Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal. “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie. Hulle sal dit nie respekteer nie. Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur. Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie. Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.” “Hou aan met vra en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak. Elkeen wat so volhardend vra, ontvang; en wie aanhou soek, kry; en vir elkeen wat aanhou klop, sal God oopmaak. Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie. As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!” “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete.” “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan. Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”