Matteus 7:1-14

Matteus 7:1-14 ABA

“Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. God sal oor julle oordeel soos julle oor ander mense oordeel. Hy sal aan julle doen wat julle aan ander mense wil doen. “Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy besef nie daar is 'n groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sien die bietjie wat jou broer verkeerd gedoen het, maar jy sien nie die baie wat jyself verkeerd gedoen het nie. Jy kan nie vir jou broer sê jy wil die klein stukkie hout uit sy oog haal wanneer daar 'n groot stuk hout in jou eie oog is nie. As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens! Haal eers die groot stuk hout uit jou eie oog. Dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal. “'n Mens gooi nie dinge wat aan God behoort, vir die honde nie. Die honde sal omdraai en hulle sal jou kom byt. Jy gooi ook nie juwele voor varke nie. Die varke sal op die juwele trap met hulle pote. So moet julle nie aanhou om God se boodskap, wat kosbaar is, na mense toe te bring wat die boodskap nie wil ontvang nie.” “Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee wat julle vra. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle laat kry wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. 'n Pa sal nooit vir sy seun 'n klip gee wanneer die seun vir hom brood vra nie. En hy sal nie vir sy seun 'n slang gee wanneer die seun vir hom 'n vis vra nie. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir die mense wat dit vir Hom vra, dinge gee wat nog beter is. Julle moet aan ander mense doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen. Dit is wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir julle sê.” “Julle moet by die klein hekkie ingaan. Want die hek na die hel is groot, en dit is maklik om op daardie pad te loop. Baie mense gaan deur die groot hek. Maar die hek na die ewige lewe is klein, en dit is nie maklik om op hierdie pad te loop nie. Min mense kry hierdie pad en loop daarop.”