Matteus 7:1-14

Matteus 7:1-14 CAB23

Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met watter oordeel julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter wat in jou broer se oog is, maar let nie op die balk wat in jou eie oog is nie? Of hoe sal jy vir jou broer sê: Laat my die splinter uit jou oog uitruk; en kyk, daar is 'n balk in jou eie oog? Geveinsde, werp eers die balk uit jou eie oog uit; en dan sal jy duidelik sien om die splinter uit jou broer se oog uit te gooi. Gee nie wat heilig is vir die honde nie, en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, dat hulle dit nie onder hulle voete vertrap en omdraai en julle verskeur nie. Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter man is daar onder julle wat, as sy seun brood vra, vir hom 'n klip sal gee? Of as hy 'n vis vra, sal hy vir hom 'n slang gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid? Daarom, alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen, want dit is die wet en die profete. Gaan in deur die nou poort, want wyd is die poort en breed is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.