MATTEUS 23:25-33
MATTEUS 23:25-33 Bybel vir almal (ABA)
“Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg. Fariseër, jy wat blind is, jy moet eers die binnekant van die beker skoonmaak, dan sal die buitekant ook skoon wees. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle is soos grafte wanneer mense dit wit geverf het. Die buitekant lyk mooi, maar binne-in is dit vol bene van dooie mense en ander dinge wat onrein is. Julle is ook so: Wanneer mense na julle kyk, dan lyk julle soos mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, maar in julle harte is julle skynheilig en doen julle nie wat God se wette sê nie. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle bou grafkamers vir die profete en julle maak die monumente mooi vir die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here. “Julle sê: ‘As ons gelewe het in die tyd toe ons voorouers gelewe het, dan sou ons nie vir hulle gehelp het om die profete te vermoor nie.’ So sê julle self dat julle die nageslag is van die mense wat die profete vermoor het. Julle moet klaarmaak wat julle voorouers begin het! Julle is soos slange, soos 'n klomp adders! Wie het vir julle gesê julle kan vlug sodat God julle nie sal straf in die hel nie?
MATTEUS 23:25-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het. Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?
MATTEUS 23:25-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes, en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’ Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete. Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het! “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?
MATTEUS 23:25-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug?
MATTEUS 23:25-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is dit vol afpersing en oorvloed. Blinde Fariseër, reinig eers wat binne-in die beker en die skottel is, sodat die buitekant van hulle ook rein kan wees. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle is soos gewitte grafte wat van buite wel mooi lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook uiterlik vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol huigelary en ongeregtigheid. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! omdat julle die grafte van die profete bou en die grafte van die regverdiges versier, En sê: As ons in die dae van ons vaders was, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie. Daarom is julle getuies vir julleself dat julle die kinders is van hulle wat die profete doodgemaak het. Vul dan die maat van julle vaders. Slange, addergeslag, hoe kan julle die verdoemenis van die hel ontvlug?
MATTEUS 23:25-33 Die Boodskap (DB)
“Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie. Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is. Dan sal die skottel weer gebruik kan word.” “Julle is regtig op die verkeerde pad. Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras! Grafte laat My aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as ’n mens ’n bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.” “Julle rig groot grafstene op vir julle belangrike mense. Julle bou monumente vir julle helde van ouds en sit gedurig met eerbied blomme daar neer. Hieroor is julle ernstig. Julle beweer dat as julle destyds geleef het, julle nie hierdie manne van God kwaad sou aangedoen of sou doodgemaak het soos die mense destyds gedoen het nie. Maar julle is maar net die kinders van daardie mense wat die manne van God vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie. Julle voorouers het die beker halfpad met die bloed van die manne van God volgemaak. Toe, maak julle nou maar daardie werk vir hulle klaar. Maak die beker vol! “Julle klomp bedrieërs! Dink julle julle sal julle uit die hel kan loslieg?
MATTEUS 23:25-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug. Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid. So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes. “Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’ Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het. En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol! Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug?