Matteus 23:25-33

Matteus 23:25-33 AFR20

“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug?