Matteus 23:25-33

Matteus 23:25-33 ABA

“Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg. Fariseër, jy wat blind is, jy moet eers die binnekant van die beker skoonmaak, dan sal die buitekant ook skoon wees. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle is soos grafte wanneer mense dit wit geverf het. Die buitekant lyk mooi, maar binne-in is dit vol bene van dooie mense en ander dinge wat onrein is. Julle is ook so: Wanneer mense na julle kyk, dan lyk julle soos mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, maar in julle harte is julle skynheilig en doen julle nie wat God se wette sê nie. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle bou grafkamers vir die profete en julle maak die monumente mooi vir die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here. “Julle sê: ‘As ons gelewe het in die tyd toe ons voorouers gelewe het, dan sou ons nie vir hulle gehelp het om die profete te vermoor nie.’ So sê julle self dat julle die nageslag is van die mense wat die profete vermoor het. Julle moet klaarmaak wat julle voorouers begin het! Julle is soos slange, soos 'n klomp adders! Wie het vir julle gesê julle kan vlug sodat God julle nie sal straf in die hel nie?