LUKAS 5:12-28
LUKAS 5:12-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En toe Jesus in een van die dorpe kom, staan daar skielik 'n man vol melaatse swere. Toe hy Jesus sien, val hy plat op sy gesig neer en smeek Hom: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil, word rein!” En sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn. Jesus het hom beveel om dit vir niemand te vertel nie en gesê: “Gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskryf het, as bewys vir hulle.” Die nuus oor Jesus het egter nog verder versprei. Groot skares het om Hom saamgedrom om na Hom te luister en van hulle kwale genees te word. Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid. Op 'n dag, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook •Fariseërs en wetgeleerdes gesit, wat uit elke dorpie van Galilea en Judea en van Jerusalem gekom het. Die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees. Net toe kom daar mense aan wat 'n verlamde man op 'n slaapmat dra. Hulle wou hom in die huis indra en voor Jesus neersit, maar as gevolg van die skare, kon hulle geen manier vind om hom in te dra nie, en het toe op die dakstoep geklim en hom en sy slaapmat tussen die dakteëls deur laat afsak, tot tussen die mense, reg voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe. ” Die skrifkenners en die Fariseërs het hulleself begin afvra: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Onmiddellik het hy daar voor hulle opgestaan, die slaapmat waarop hy gelê het, gevat en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal was verwonderd en het God geprys. Hulle is met diep ontsag vervul en het gesê: “Vandag het ons iets ongeloofliks gesien.” Hierna het Jesus buitentoe gegaan en 'n •tollenaar met die naam Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” En hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg.
LUKAS 5:12-28 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het in 'n stad gekom. Daar was 'n melaatse man. Toe die melaatse man vir Jesus sien, het hy voor Jesus op die grond geval met sy gesig teen die grond. Hy het vir Jesus gesoebat en gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit doen, Ek maak jou gesond.” Dadelik was die man nie meer melaats nie. Jesus het vir die man gesê: “Jy moet dit vir niemand vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.” Die mense het toe nog meer gepraat oor alles wat Jesus gedoen het. Baie mense het bymekaargekom om na Jesus te luister. Hulle wou ook hê Jesus moet hulle siektes gesond maak. Jesus het altyd graag na stil plekke gegaan om alleen te wees en daar te bid. Eendag was Jesus besig om vir die mense te leer. Daar was ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat na Hom geluister het. Hulle het gekom uit al die stede van Galilea en Judea en ook uit Jerusalem. Die Here het vir Jesus krag gegee om mense gesond te maak. 'n Paar manne het 'n man wat verlam was, op 'n slaapmat nader gebring. Hulle het gekyk waar Jesus is, en hulle wou die man in die huis inbring en voor Jesus neersit. Maar hulle kon nie naby Jesus kom nie, want daar was te veel mense. Hulle het toe op die dak geklim en van die dakteëls uitgehaal. Toe laat sak hulle die verlamde man op die slaapmat deur die gat in die dak tot voor Jesus. Almal het dit gesien. Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het saggies met mekaar gepraat en gesê: “Wie is hierdie man? Hy maak of hy God is. 'n Méns kan nie sondes vergewe nie, net God kan.” Maar Jesus het geweet wat hulle praat. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom sê julle dit? Wat is makliker om te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of ‘Staan op en loop?’ Ek wil nou vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Toe sê Jesus vir die lam man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die man het dadelik opgestaan. Almal het dit gesien. Hy het die slaapmat geneem waarop hy gelê het en hy het huis toe gegaan. Hy het aangehou om God te prys. Al die mense was verbaas en hulle het God ook geprys. Hulle was bang en hulle het aangehou om God te eer. Hulle het gesê: “Vandag het ons wonderlike dinge gesien.” Daarna het Jesus verder gegaan. Hy sien toe 'n tollenaar by die tolhek sit. Die tollenaar se naam was Levi. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My.” Levi het opgestaan en alles daar gelos en hy het saam met Jesus gegaan.
LUKAS 5:12-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl Hy in een van die stede was, kom daar 'n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat. Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot 'n getuienis. Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid. EN op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees. En daar het manne 'n mens wat verlam was, op 'n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit. En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus. En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen? Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte? Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik. En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien. EN ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en 'n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My. En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.
LUKAS 5:12-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Eendag toe Jesus in een van die dorpe was, kom Hy 'n man teë wat oortrek was van die melaatsheid. Toe die man Hom sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg. Toe gee Jesus hom opdrag: “Moet dit aan niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring offers vir jou reiniging soos Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid. Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak. Onverwags kom daar mense met 'n verlamde man op 'n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?” Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan. Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.” Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.
LUKAS 5:12-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hy in 'n sekere stad was, daar was 'n man vol melaatsheid; wat Jesus sien val op sy aangesig en Hom smeek en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. En hy het sy hand uitgesteek en hom aangeraak en gesê: Ek wil, wees jy rein. En dadelik het die melaatsheid van hom gewyk. En hy het hom bevel gegee om dit aan niemand te vertel nie; maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses beveel het, as 'n getuienis vir hulle. Maar des te meer het 'n roem oor Hom gekom, en groot menigtes het saamgekom om te hoor en deur Hom van hulle swakhede genees te word. En hy het hom in die woestyn teruggetrek en gebid. En op 'n sekere dag, terwyl Hy besig was om te leer, was daar Fariseërs en wetgeleerdes wat uit elke dorp van Galiléa en Judéa en Jerusalem gekom het, en die krag van die Here was teenwoordig om hulle te genees. En kyk, die manne het 'n verlamde man in 'n bed gebring, en hulle het na maniere gesoek om hom in te bring en voor hom neer te lê. En toe hulle vanweë die skare nie kon vind op watter manier hulle hom kon inbring nie, het hulle op die dak gegaan en hom met sy rusbank deur die teëlwerk laat afsak tot in die middel voor Jesus. En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en gesê: Wie is Hy wat godslastering spreek? Wie kan sondes vergewe, behalwe God alleen? Maar toe Jesus hulle gedagtes sien, antwoord Hy en sê vir hulle: Wat redeneer julle in julle harte? Of dit makliker is om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe, sê Hy vir die verlamde: Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis. En dadelik het hy voor hulle opgestaan en dit opgeneem waarop hy gelê het, en na sy eie huis gegaan en God verheerlik. En hulle was almal verbaas, en hulle het God verheerlik en met vrees vervul en gesê: Ons het vandag vreemde dinge gesien. En ná hierdie dinge het hy uitgegaan en 'n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit; en hy sê vir hom: Volg My. En hy het alles gelos, opgestaan en hom gevolg.
LUKAS 5:12-28 Die Boodskap (DB)
In een van die dorpe in Galilea waar Jesus aangedoen het, was daar ’n melaatse. Melaatsheid was ’n velsiekte wat veroorsaak het dat mense eenkant moes gaan bly. Toe hy vir Jesus sien, het hy laag voor Hom op die grond gebuig. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees. Dan kan ek weer ’n gewone lewe lei; ek sal weer vriende hê en in die tempel kan gaan aanbid.” Jesus sit toe sy hand op die melaatse en sê vir hom: “Ek wil dit graag doen. Word gesond. Nou dadelik!” Net daar het die velsiekte aan die man se lyf verdwyn. Sy vel was glad en skoon. Hy was heeltemal gesond. Jesus sê toe vir hom: “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe. Wys vir hom dat jy gesond is. Nadat hy gesien het dat jou vel weer normaal is, moet jy die offer bring wat Moses voorgeskryf het vir mense wat gesond geword het. So sal almal kan sien wat met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as al jou woorde.” Die nuus oor Jesus het soos ’n veldbrand versprei. ’n Groot massa het na Hom toe gestroom om te hoor wat Hy sê en om gesond gemaak te word. Jesus moes gereeld na stil plekke toe uitwyk om ’n bietjie stilte te hê en om te bid. Op ’n dag was Jesus weer besig om die mense te leer. Baie godsdienstige leiers het ook kom luister na wat Hy te sê gehad het. Fariseërs en kenners van die wet van Moses van oor die hele Galilea en Judea, selfs uit Jerusalem, was in die gehoor. Deur die krag van die Here het Jesus baie siekes gesond gemaak. Intussen het daar ’n klompie mense aangekom wat ’n verlamde man op ’n draagbaar gedra het. Hulle wou hê dat Jesus hom gesond moet maak. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Hulle het toe op die dak geklim, ’n klomp dakteëls uitgehaal en die man op die draagbaar met toue laat afsak tot reg voor Jesus. Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te lag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.” Hierdie woorde het die Joodse godsdienstige leiers lelik omgekrap. “Wie dink hy is hy dat hy sulke dinge sê?” het hulle onder mekaar gevra. “Hy praat mos nou godslasterlik. Hy het geen respek vir God nie. Net God kan tog sondes vergewe.” Jesus het geweet dat hulle staan en skinder. Daarom het Hy toe vir hulle gesê: “Wat dink julle gaan julle bereik met julle geskinder? Sê ’n bietjie vir My wat is die maklikste: om vir iemand te sê: ‘Jou sondes is afgeskryf’ of: ‘Staan op en loop gesond hier weg’? Natuurlik is dit nie moeilik om enigeen van hierdie dinge te sê nie. Woorde kom maklik. Maar om dit te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Wel, julle weet baie goed dat iemand net sondes kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Ek, die Seun van die mens, het daardie mag. Kyk nou mooi: Ek gaan dit doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het.” Jesus sê toe vir die lam man: “Staan op. Vat jou draagbaar en gaan terug na jou mense toe.” Die man het nie ’n oomblik gehuiwer nie. Voor almal het hy opgestaan, sy draagbaar gevat en na sy huis toe gestap. Hy het God hardop geloof en geprys. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle is met groot respek vir God vervul. “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik God is,” het hulle vir mekaar gesê. Van daar af het Jesus verder gestap tot by die kantoor van ’n man wat belasting ingevorder het. Sy naam was Levi. Toe Jesus vir Levi daar by sy kantoor sien sit, sê Hy vir hom: “Volg My!” Levi het nie op hom laat wag nie. Hy het alles waarmee hy besig was net so gelos en saam met Jesus gestap.
LUKAS 5:12-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In een van die dorpe het Jesus ’n man met ’n gevorderde velsiekte raakgeloop. Toe die man Jesus sien, het hy diep voor Hom neergebuig en gesmeek om genees te word. “Here,” het hy gesê, “as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en die man aangeraak. “Ek wil,” het Hy gesê. “Word gesond!” En net daar het sy velsiekte verdwyn. Toe het Jesus hom beveel om niemand te vertel wat gebeur het nie. “Gaan reguit na die priester toe en laat hy jou ondersoek. Vat die offer saam wat deur die wet van Moses vereis word vir iemand wat van so ’n velsiekte gereinig is sodat almal die bewys van jou genesing kan sien.” Tog, ten spyte van Jesus se bevele, het die berig oor sy mag selfs vinniger versprei en groot skares het gekom om Hom te hoor preek en van hulle siektes genees te word. Maar Jesus het Hom gereeld in ’n verlate plek afgesonder om te bid. Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk. ’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.” “Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?” Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself? Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’? Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.” En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!” Later, toe Jesus die dorp verlaat, het Hy ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhokkie sien sit. “Kom, word my dissipel!” het Jesus vir hom gesê. Levi het opgestaan, alles net so gelos en Jesus gevolg.