Jesus het in 'n stad gekom. Daar was 'n melaatse man. Toe die melaatse man vir Jesus sien, het hy voor Jesus op die grond geval met sy gesig teen die grond. Hy het vir Jesus gesoebat en gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit doen, Ek maak jou gesond.” Dadelik was die man nie meer melaats nie. Jesus het vir die man gesê: “Jy moet dit vir niemand vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.” Die mense het toe nog meer gepraat oor alles wat Jesus gedoen het. Baie mense het bymekaargekom om na Jesus te luister. Hulle wou ook hê Jesus moet hulle siektes gesond maak. Jesus het altyd graag na stil plekke gegaan om alleen te wees en daar te bid. Eendag was Jesus besig om vir die mense te leer. Daar was ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat na Hom geluister het. Hulle het gekom uit al die stede van Galilea en Judea en ook uit Jerusalem. Die Here het vir Jesus krag gegee om mense gesond te maak. 'n Paar manne het 'n man wat verlam was, op 'n slaapmat nader gebring. Hulle het gekyk waar Jesus is, en hulle wou die man in die huis inbring en voor Jesus neersit. Maar hulle kon nie naby Jesus kom nie, want daar was te veel mense. Hulle het toe op die dak geklim en van die dakteëls uitgehaal. Toe laat sak hulle die verlamde man op die slaapmat deur die gat in die dak tot voor Jesus. Almal het dit gesien. Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het saggies met mekaar gepraat en gesê: “Wie is hierdie man? Hy maak of hy God is. 'n Méns kan nie sondes vergewe nie, net God kan.” Maar Jesus het geweet wat hulle praat. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom sê julle dit? Wat is makliker om te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of ‘Staan op en loop?’ Ek wil nou vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Toe sê Jesus vir die lam man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die man het dadelik opgestaan. Almal het dit gesien. Hy het die slaapmat geneem waarop hy gelê het en hy het huis toe gegaan. Hy het aangehou om God te prys. Al die mense was verbaas en hulle het God ook geprys. Hulle was bang en hulle het aangehou om God te eer. Hulle het gesê: “Vandag het ons wonderlike dinge gesien.” Daarna het Jesus verder gegaan. Hy sien toe 'n tollenaar by die tolhek sit. Die tollenaar se naam was Levi. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My.” Levi het opgestaan en alles daar gelos en hy het saam met Jesus gegaan.
Lees Lukas 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 5:12-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's