LUKAS 5:12-28

LUKAS 5:12-28 AFR53

EN terwyl Hy in een van die stede was, kom daar 'n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat. Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot 'n getuienis. Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid. EN op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees. En daar het manne 'n mens wat verlam was, op 'n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit. En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus. En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen? Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte? Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik. En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien. EN ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en 'n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My. En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.