LUKAS 23:44-47
LUKAS 23:44-47 Bybel vir almal (ABA)
Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag. Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. En Jesus het hard gesê: “ Vader, Ek gee myself vir U.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf. Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.”
LUKAS 23:44-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit. En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.
LUKAS 23:44-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”
LUKAS 23:44-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister , en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!”
LUKAS 23:44-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit was omtrent die sesde uur, en daar was duisternis oor die hele aarde tot die negende uur. En die son is verduister, en die voorhangsel van die tempel het in die middel geskeur. En toe Jesus met 'n groot stem uitgeroep het, sê Hy: Vader, in u hande gee Ek my Gees oor; en nadat Hy dit gesê het, het Hy die asem gegee. En toe die hoofman oor honderd sien wat gebeur het, het hy God verheerlik en gesê: Dit was sekerlik 'n regverdige man.
LUKAS 23:44-47 Die Boodskap (DB)
Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur. Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf. Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!”
LUKAS 23:44-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe. Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur. Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.”