LUKAS 19:28-48
LUKAS 19:28-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem. Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei. Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het uitgeroep: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste! ” Sommige van die •Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!” Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.” Hy het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars begin uitjaag. Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskryf, “ ‘My huis sal 'n huis van gebed wees’. Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak! ” Hy het daagliks op die tempelterrein onderrig gegee. Die leierpriesters, die skrifkenners en die volksleiers wou Hom om die lewe bring, maar hulle kon nie 'n manier vind om dit te doen nie, omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.
LUKAS 19:28-48 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, het Hy verder gegaan na Jerusalem. Toe Hy naby die dorpies Betfage en Betanië op die Olyf-berg kom, het Jesus twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hier. En wanneer iemand vir julle vra hoekom julle die donkie losmaak, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik.” Daardie twee dissipels het toe gegaan en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Toe hulle die donkie losmaak, het sy eienaars vir die dissipels gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?” Die dissipels het gesê: “Die Here wil hom gebruik.” Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe, en hulle gooi van hulle klere oor die donkie, en hulle tel Jesus op die donkie. Daarna het Jesus verder gery op die donkie, en die mense het van hulle klere op die pad voor Hom oopgegooi. Toe Jesus naby Jerusalem kom, op die pad wat van die Olyf-berg na onder gaan, was al die mense wat saam met Jesus geloop het, baie bly. Hulle het hard begin skree en hulle het God geprys oor al die wonderlike dinge wat hulle gesien het. Hulle het geskree: Prys die Man wat kom! Hy is die Koning, die Here het Hom gestuur! Daar is vrede in die hemel, God in die hoogste hemel is Koning! Party van die Fariseërs wat tussen die mense was, het vir Jesus gesê: “Meneer, jy moet vir jou dissipels sê hulle moet stilbly. Hulle mag nie hierdie dinge sê nie.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, dan sal die klippe hard skree en dit sê.” Toe Jesus nader gaan en Jerusalem sien, het Hy gehuil oor die stad. Hy het gesê: “Mense van Jerusalem, hoekom wil julle vandag nie verstaan wat dit is wat vir julle vrede sal bring nie. Julle wil dit nie sien nie. Ek huil oor julle, want daar sal 'n tyd kom wanneer julle vyande 'n grondwal rondom die stad sal bou. Hulle soldate sal rondom julle wees en julle sal nie uit die stad kan gaan nie. Julle vyande sal die stad verwoes en hulle sal julle almal doodmaak. Hulle sal alles afbreek, daar sal nie een muur bly staan nie. Hoekom? Omdat die tyd gekom het wanneer God julle wil red, maar julle verstaan dit nie.” Jesus het toe na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te verkoop. Jesus het hulle uitgejaag. Hy het vir hulle gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘God het gesê: “ ‘ My tempel moet 'n plek wees waar mense bid.’ Maar julle het dit verander, dit is nou 'n plek waar diewe bymekaarkom.” Jesus het elke dag vir die mense in die tempel geleer. Die priesterleiers, die skrifgeleerdes en die leiers van die volk het planne gemaak om Hom dood te maak, maar hulle kon nie besluit hoe hulle dit sal doen nie, want al die mense het van Jesus gehou en hulle het graag na Hom geluister.
LUKAS 19:28-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem. EN toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? — moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig. En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het. En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los? En hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met 'n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep. En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie. EN toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring; en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.
LUKAS 19:28-48 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: “Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.” Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?” Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.” Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!” Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.” Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag. Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.” Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.
LUKAS 19:28-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nadat hy dit gesê het, het hy vooruit gegaan en opgevaar na Jerusalem. En toe Hy naby Betfage en Betanië kom, op die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels gestuur. En gesê: Gaan na die dorp teenoor jou; waarin julle by julle ingang 'n vul vasgemaak sal vind, waarop nog nooit iemand gesit het nie; maak hom los en bring hom hierheen. En as iemand vir julle vra: Waarom maak julle hom los? so moet julle vir hom sê: Omdat die Here hom nodig het. En die wat gestuur was, het weggegaan en gevind net soos Hy vir hulle gesê het. En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars daarvan vir hulle: Waarom maak julle die vul los? En hulle sê: Die Here het hom nodig. En hulle het hom na Jesus gebring, en hulle het hul klere op die vul gegooi en Jesus daarop gesit. En terwyl hy gegaan het, het hulle hul klere op die pad uitgesprei. En toe Hy naby gekom het, selfs nou by die afdraand van die Olyfberg, het die hele menigte van die dissipels begin juig en God met 'n groot stem loof vir al die magtige werke wat hulle gesien het; en gesê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here: vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele. En sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Hom gesê: Meester, bestraf u dissipels. En hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle dat, as hulle sou stilbly, die klippe dadelik sou uitroep. En toe hy nader kom, het hy die stad gesien en daaroor geween. En gesê: As jy geweet het, ten minste in hierdie jou dag, die dinge wat tot jou vrede behoort! maar nou is hulle vir jou oë verborge. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n sloot rondom jou sal gooi en jou sal omsingel en jou van alle kante in hou, en sal jou op die grond neerlê, en jou kinders binne-in jou; en hulle mag nie een klip op die ander in jou laat nie; want jy het die tyd van jou besoeking nie geken nie. En Hy het in die tempel ingegaan en begin om die wat daarin verkoop, en die wat koop, uit te dryf; en vir hulle gesê: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed, maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. En hy het daagliks in die tempel geleer. Maar die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die owerstes van die volk het probeer om Hom te vernietig, En kon nie vind wat hulle kon doen nie, want die hele volk was baie aandagtig om na hom te luister.
LUKAS 19:28-48 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit. Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My. As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’” Die twee volgelinge het toe na Betfage gegaan en die jong donkie daar gekry. Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?” “Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit. Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit. Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het. Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.” ’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!” Jesus antwoord: “En waarom nie? As hulle sou stilbly, sou die klippe hier langs die pad dieselfde oor My uitroep!” Toe Jesus naby Jerusalem kom, was Hy baie hartseer. Terwyl die trane oor sy wange loop, sê Hy: “Jerusalem, as jy net jou oë wil oopmaak en besef wie vandag na jou toe kom. Dan sal God se vrede regtig hier aanbreek. Maar nou is jy stokblind! Daarom lê daar swaar tye vir jou voor. Een van die dae sal jou vyande hulle hier om die stad kom ingrawe. Hulle sal jou omsingel en al jou inwoners doodmaak. G’n kind of kraai sal oorbly nie. Ja, hierdie hele stad sal met die grond gelykgemaak word. Dis jou straf omdat jy jou rug vir My gedraai het. Ja, dié dag toe Ek by jou besoek kom aflê het, wou jy My nie ontvang nie.” In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die groot tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Hier op die tempelplein is offerdiere aan die mense verkoop wat nie self diere by hulle gehad het nie. Jesus het skielik begin om al die handelaars weg te jaag. Hy sê toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan: ‘Mense moet My kom aanbid hier in my huis. Julle het dit egter die bymekaarkomplek van ’n klomp skelms gemaak.’” Daarna het Jesus elke dag na die tempel toe gekom om vir die mense te vertel van God se nuwe wêreld. Dit het al die belangrikste godsdienstige leiers van die stad woedend gemaak. Hulle kon dit nie verdra dat Jesus daar in hulle hoofkwartier sulke dinge sê nie. Daarom het hulle besluit om Hom dood te maak. Maar hulle was magteloos, want al die mense het aan Jesus se lippe gehang.
LUKAS 19:28-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier. As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’” Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het. Terwyl hulle besig is om die donkie los te maak, sê sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?” Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.” Hulle het die donkie na Jesus toe gebring. Hulle het hulle bo-klere op die donkie oopgesprei, en Jesus laat opklim. Terwyl Jesus vorentoe beweeg, het die mense hulle bo-klere op die pad oopgesprei. Toe Hy naderkom, reeds op die afdraand van die Olyfberg, het die groot skare dissipels God uit volle bors begin loof en prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het gesing: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!” Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!” Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!” Toe Hy naderkom en die stad voor Hom sien, het Jesus oor die stad begin huil. Hy het verder gesê: “As jy op hierdie oomblik maar net wou insien watter dinge vir jou vrede bring! Maar nou is dit weggesteek vir jou oë. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelykmaak en jou inwoners uitwis. En hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly nie omdat jy die beslissende tyd van God se genadige besoek aan jou verwerp het.” Jesus het die tempelgebied ingegaan en die smouse begin uitjaag. Hy sê vir hulle: “Daar staan geskryf: ‘My huis moet ’n huis van gebed wees,’ maar julle het dit ’n grot vir rowers gemaak.” Jesus was dag na dag in die tempel besig om onderrig te gee. Die priesterhoofde en die skrifkenners en ook die ander volksleiers het ’n rede gesoek om Hom om die lewe te bring. Hulle het egter niks gekry wat hulle in werking kon stel nie omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.