Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, het Hy verder gegaan na Jerusalem. Toe Hy naby die dorpies Betfage en Betanië op die Olyf-berg kom, het Jesus twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hier. En wanneer iemand vir julle vra hoekom julle die donkie losmaak, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik.”
Daardie twee dissipels het toe gegaan en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Toe hulle die donkie losmaak, het sy eienaars vir die dissipels gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?”
Die dissipels het gesê: “Die Here wil hom gebruik.”
Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe, en hulle gooi van hulle klere oor die donkie, en hulle tel Jesus op die donkie. Daarna het Jesus verder gery op die donkie, en die mense het van hulle klere op die pad voor Hom oopgegooi. Toe Jesus naby Jerusalem kom, op die pad wat van die Olyf-berg na onder gaan, was al die mense wat saam met Jesus geloop het, baie bly. Hulle het hard begin skree en hulle het God geprys oor al die wonderlike dinge wat hulle gesien het. Hulle het geskree:
Prys die Man wat kom!
Hy is die Koning,
die Here het Hom gestuur!
Daar is vrede in die hemel,
God in die hoogste hemel
is Koning!
Party van die Fariseërs wat tussen die mense was, het vir Jesus gesê: “Meneer, jy moet vir jou dissipels sê hulle moet stilbly. Hulle mag nie hierdie dinge sê nie.”
Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, dan sal die klippe hard skree en dit sê.”
Toe Jesus nader gaan en Jerusalem sien, het Hy gehuil oor die stad. Hy het gesê: “Mense van Jerusalem, hoekom wil julle vandag nie verstaan wat dit is wat vir julle vrede sal bring nie. Julle wil dit nie sien nie. Ek huil oor julle, want daar sal 'n tyd kom wanneer julle vyande 'n grondwal rondom die stad sal bou. Hulle soldate sal rondom julle wees en julle sal nie uit die stad kan gaan nie. Julle vyande sal die stad verwoes en hulle sal julle almal doodmaak. Hulle sal alles afbreek, daar sal nie een muur bly staan nie. Hoekom? Omdat die tyd gekom het wanneer God julle wil red, maar julle verstaan dit nie.”
Jesus het toe na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te verkoop. Jesus het hulle uitgejaag. Hy het vir hulle gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘God het gesê:
“ ‘ My tempel moet 'n plek wees
waar mense bid.’
Maar julle het dit verander,
dit is nou 'n plek
waar diewe bymekaarkom.”
Jesus het elke dag vir die mense in die tempel geleer. Die priesterleiers, die skrifgeleerdes en die leiers van die volk het planne gemaak om Hom dood te maak, maar hulle kon nie besluit hoe hulle dit sal doen nie, want al die mense het van Jesus gehou en hulle het graag na Hom geluister.