Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem. Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei. Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het uitgeroep: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste! ” Sommige van die •Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!” Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.” Hy het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars begin uitjaag. Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskryf, “ ‘My huis sal 'n huis van gebed wees’. Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak! ” Hy het daagliks op die tempelterrein onderrig gegee. Die leierpriesters, die skrifkenners en die volksleiers wou Hom om die lewe bring, maar hulle kon nie 'n manier vind om dit te doen nie, omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.
Lees Lukas 19
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 19:28-48
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's