Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit. Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My. As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’” Die twee volgelinge het toe na Betfage gegaan en die jong donkie daar gekry. Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?” “Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit. Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit. Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het. Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.” ’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!” Jesus antwoord: “En waarom nie? As hulle sou stilbly, sou die klippe hier langs die pad dieselfde oor My uitroep!” Toe Jesus naby Jerusalem kom, was Hy baie hartseer. Terwyl die trane oor sy wange loop, sê Hy: “Jerusalem, as jy net jou oë wil oopmaak en besef wie vandag na jou toe kom. Dan sal God se vrede regtig hier aanbreek. Maar nou is jy stokblind! Daarom lê daar swaar tye vir jou voor. Een van die dae sal jou vyande hulle hier om die stad kom ingrawe. Hulle sal jou omsingel en al jou inwoners doodmaak. G’n kind of kraai sal oorbly nie. Ja, hierdie hele stad sal met die grond gelykgemaak word. Dis jou straf omdat jy jou rug vir My gedraai het. Ja, dié dag toe Ek by jou besoek kom aflê het, wou jy My nie ontvang nie.” In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die groot tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Hier op die tempelplein is offerdiere aan die mense verkoop wat nie self diere by hulle gehad het nie. Jesus het skielik begin om al die handelaars weg te jaag. Hy sê toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan: ‘Mense moet My kom aanbid hier in my huis. Julle het dit egter die bymekaarkomplek van ’n klomp skelms gemaak.’” Daarna het Jesus elke dag na die tempel toe gekom om vir die mense te vertel van God se nuwe wêreld. Dit het al die belangrikste godsdienstige leiers van die stad woedend gemaak. Hulle kon dit nie verdra dat Jesus daar in hulle hoofkwartier sulke dinge sê nie. Daarom het hulle besluit om Hom dood te maak. Maar hulle was magteloos, want al die mense het aan Jesus se lippe gehang.
Lees Lukas 19
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 19:28-48
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's