LUKAS 19:1-28

LUKAS 19:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het in Jerigo ingegaan en Hy het deur die stad geloop. Daar het 'n man gewoon, sy naam was Saggeus. Hy was die hoof van die tollenaars en hy was 'n ryk man. Hy wou graag vir Jesus sien, hy wou sien wie Hy is. Maar omdat daar so baie mense was, kon Saggeus nie vir Jesus sien nie, want Saggeus was 'n kort mannetjie. Toe het Saggeus verder op die pad gehardloop en hy het in 'n wildevye-boom geklim sodat hy vir Jesus kon sien, want Jesus moes daar verbyloop. Toe Jesus by die boom kom, het Hy opgekyk en Hy het vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim gou af, want Ek moet vandag in jou huis bly.” Saggeus het gou afgeklim en hy het vir Jesus in sy huis ingenooi. Saggeus was baie bly dat Jesus in sy huis wou bly. Maar almal wat dit gesien het, was ontevrede. Hulle het gesê: “Jesus het by 'n sondige man se huis ingegaan om daar te bly.” Saggeus het voor Jesus gaan staan en gesê: “Here, ek belowe ek sal die helfte van alles wat ek het, vir die arm mense gee. En as ek te veel geld van iemand gevat het, sal ek vier maal meer teruggee.” Jesus sê toe vir Saggeus en vir almal wat ontevrede was: “Vandag het God die mense in hierdie huis gered, want Saggeus is ook van die nageslag van Abraham. Ek, die Seun van die mens, het gekom om almal wat verlore is, te soek en te red.” Jesus het nog iets gesê vir die mense wat na Hom geluister het. Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel. Hy het dit gedoen omdat Hy naby Jerusalem was en omdat die mense gedink het wanneer Jesus in Jerusalem kom, dan sal God dadelik Koning word en regeer. Maar Jesus wou vir hulle reg leer. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Daar was 'n man, hy was 'n koning se seun. Hy het na 'n ver land gegaan om eers daar koning te word. Daarna sou hy terugkom en koning wees oor sy eie mense. Toe roep hy tien van sy slawe en hy gee vir hulle tien geldstukke en sê: ‘Julle moet met hierdie geld baie dinge koop en dit weer verkoop en meer geld kry totdat ek terugkom.’ Maar baie van die mense het niks van die koning se seun gehou nie, en nadat hy weggegaan het, het hulle boodskappers na hom toe gestuur om vir hom te sê: ‘Ons wil nie hê jy moet koning wees oor ons nie.’ Maar die man het koning geword. Hy het teruggekom en toe laat roep hy die slawe vir wie hy die geld gegee het. Hy het vir hulle gevra wat hulle met die geld gedoen het. Hy wou weet wat hulle gekoop en verkoop het. Die eerste slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog tien geldstukke daarby.’ Die koning het vir hom gesê: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf. Ek gee nou vir jou tien stede, jy moet oor hulle regeer, want jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het.’ Toe kom die tweede slaaf en hy sê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog vyf geldstukke daarby.’ Die koning het ook vir hierdie slaaf gesê: ‘Ek gee vir jou vyf stede, jy moet oor hulle regeer.’ “'n Derde slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die geldstuk wat jy gegee het. Ek het dit mooi toegedraai in 'n lap en ek het dit gebêre, want ek was bang vir jou omdat jy kwaai is. Jy vat van mense goed wat jy nie gegee het nie, en jy sny koring af wat jy nie gesaai het nie.’ Toe sê die koning vir hom: ‘Jy is 'n slegte slaaf, jy het nou self gesê hoekom ek jou moet straf. Jy het geweet ek is kwaai, ek vat van mense goed wat ek nie gegee het nie en ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie. Hoekom het jy nie my geld in die bank gesit nie? Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’ Toe sê die koning vir sy amptenare: ‘Vat die geldstuk van hom weg en gee dit vir die slaaf wat tien geldstukke het.’ Hulle het vir hom gesê: ‘Meneer, hy het klaar tien geldstukke.’ Maar die koning het gesê: ‘Ek sê vir julle, ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee, en ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het. En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle en maak hulle dood hier voor my.’ ” Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, het Hy verder gegaan na Jerusalem.

LUKAS 19:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het in Jérigo gekom en daar deurgegaan. En daar was 'n man met die naam van Saggéüs, 'n hoof van die tollenaars en 'n ryk man. En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was. En hy het vooruit gehardloop en in 'n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien, want Hy sou daarlangs verbygaan. En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly. Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang. En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan. Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. EN terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: 'n Man van hoë geboorte het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en 'n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. En 'n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in 'n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u 'n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek 'n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het — en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde — want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het. Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood. En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.

LUKAS 19:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!” Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. Hy het gesê: “'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’ “Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang. “Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’ Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’ “Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’ “Nog 'n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre. Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is 'n slegte slaaf! As jy geweet het ek is 'n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’ Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’ “Hulle sê vir hom: ‘Meneer, hy het dan al tien muntstukke.’ Maar hy antwoord: Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe.

LUKAS 19:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. En kyk, daar was 'n man met die naam Saggeus. Hy was 'n hooftollenaar en 'n ryk man. Hy het probeer om te sien wie Jesus is, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang. Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis.” Maar Saggeus het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug. ” Jesus het vir hom gesê: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is 'n seun van Abraham. Die •Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.” Terwyl die mense hierna luister, het Jesus nog 'n gelykenis vertel, omdat Hy naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die •koninkryk van God nou skielik sou aanbreek. Hy het gesê: “'n Man van hoë afkoms het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te bekom en weer terug te keer. Hy het tien van sy slawe geroep en aan hulle tien mina gegee en vir hulle gesê, ‘Gaan woeker daarmee, totdat ek terugkeer.’ Sy burgers het hom egter gehaat, en het 'n afvaardiging agter hom aangestuur om te sê, ‘Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons heers nie.’ “By sy terugkeer het hy, nadat hy die koningskap ontvang het, die slawe aan wie hy die geld gegee het, ontbied om uit te vind watter wins hulle gemaak het. Die eerste een het kom sê, ‘Meneer, u mina het 'n wins van tien mina opgelewer.’ Hy het hom geantwoord, ‘Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede. ’ Toe het die tweede slaaf gekom en gesê, ‘Meneer, u mina het vyf mina opgelewer.’ Vir hierdie man het hy gesê, ‘Jy moet vyf stede bestuur.’ Toe het die derde een gekom en gesê, ‘Meneer, kyk, hier is u mina, wat ek in 'n sweetdoek weggebêre het. Ek was bang vir u, omdat u 'n streng man is; u vorder in wat u nie belê het nie, en u oes wat u nie gesaai het nie.’ Toe sê die man vir hom, ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel, jou slegte slaaf! Jy het geweet dat ek 'n streng man is, wat invorder wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy nie my geld by die bank belê nie? Dan sou ek wanneer ek terugkom, dit met rente kon kry.’ Hy beveel toe die omstanders, ‘Vat die mina by hom weg en gee dit vir die een wat tien mina het.’ Maar hulle sê vir hom, ‘Meneer, hy het dan al tien mina!’ ‘Ek sê vir julle, aan elkeen wat het, sal gegee word, en van dié wat nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. En daardie vyande van my wat nie wou gehad het dat ek koning oor hulle moes wees nie, bring hulle hierheen en maak hulle hier voor my dood.’ ” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem.

LUKAS 19:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Jesus het ingegaan en deur Jerigo gegaan. En kyk, daar was 'n man met die naam van Saggeus, wat die hoof onder die tollenaars was, en hy was ryk. En hy het gesoek om Jesus te sien wie Hy was; en kon nie vir die pers nie, want hy was klein van postuur. En hy het vooruit gehardloop en in 'n wildevyeboom geklim om hom te sien, want hy sou daarheen verbygaan. En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggeus, maak gou en kom af; want vandag moet ek in u huis bly. En hy het gou gemaak en afgekom en hom met blydskap aangeneem. En toe hulle dit sien, het hulle almal gemurmureer en gesê: Hy het weggegaan om by 'n man wat 'n sondaar is, te besoek. En Saggeus het gaan staan en aan die Here gesê: Kyk, Here, die helfte van my goed gee ek aan die armes; en as ek iets van iemand weggeneem het deur valse beskuldiging, gee ek hom viervoudig terug. En Jesus sê vir hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, omdat hy ook 'n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. En toe hulle dit hoor, het Hy bygevoeg en 'n gelykenis vertel, omdat Hy naby Jerusalem was, en omdat hulle gedink het dat die koninkryk van God dadelik sou verskyn. Hy sê toe: 'n Sekere edelman het na 'n ver land gegaan om vir hom 'n koninkryk te ontvang en om terug te keer. En hy het sy tien dienaars geroep en aan hulle tien ponde gegee en vir hulle gesê: Hou aan totdat ek kom. Maar sy burgers het hom gehaat en 'n boodskap agter hom aan gestuur en gesê: Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons moet regeer nie. En dit het gebeur dat, toe hy teruggekeer het, nadat hy die koningskap ontvang het, hy beveel het dat hierdie dienaars na hom geroep moes word, aan wie hy die geld gegee het, sodat hy kon weet hoeveel elkeen deur handel gewin het. Toe kom die eerste en sê: Here, u pond het tien ponde gekry. En hy sê vir hom: Wel, goeie dienskneg, omdat jy in die minste getrou was, het jy gesag oor tien stede. En die tweede het gekom en gesê: Here, u pond het vyf pond opgeneem. En hy het ook vir hom gesê: Wees ook oor vyf stede. En 'n ander een het gekom en gesê: Here, kyk, hier is u pond wat ek in 'n doek weggelê het. Want ek het jou gevrees, want jy is 'n streng man; jy neem op wat jy nie gelê het nie, en maai wat jy nie gesaai het nie. En hy sê vir hom: Uit jou eie mond sal Ek jou oordeel, slegte dienskneg. U het geweet dat ek 'n streng man was, wat optel wat ek nie gaan lê het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie; Waarom het jy dan nie my geld in die bank gegee nie, sodat ek by my koms myne met woeker kon eis? En hy sê vir die wat daar staan: Neem die pond van hom en gee dit aan hom wat tien ponde het. (En hulle sê vir hom: Here, hy het tien ponde.) Want Ek sê vir julle, aan elkeen wat het, sal gegee word; en van hom wat nie het nie, ook wat hy het, sal van hom weggeneem word. Maar daardie my vyande wat nie wou hê dat ek oor hulle sou heers nie, bring hierheen en maak hulle voor my aangesig dood. En nadat hy dit gesê het, het hy vooruit gegaan en opgevaar na Jerusalem.

LUKAS 19:1-28 Die Boodskap (DB)

Later het Jesus deur Jerigo gestap. Een van die mense wat daar gebly het se naam was Saggeus. Hy was die hoof van die berugte tollenaars wat belasting ingevorder het, en ’n skatryk man. Toe Saggeus hoor dat Jesus deur die dorp stap, het hy probeer om Hom tussen die mense deur te sien te kry. Maar hy kon nie, want hy was te kort. Toe maak hy ’n plan: hy het gou vooruitgehardloop en in ’n wildevyeboom gaan klim wat langs die pad gestaan het waar Jesus sou verbyloop. Toe Jesus by die wildevyeboom kom, het Hy skielik gaan staan, opgekyk en gesê: “Saggeus, klim dadelik af. Maak gou! Want Ek moet vandag by jou kom oorbly.” Saggeus het omtrent uit die boom geval so vinnig het hy afgeklim. Hy was baie opgewonde dat Jesus besluit het om juis by hom te kom bly. Natuurlik was die mense van die dorp glad nie bly oor Jesus se keuse nie. “Wat vang hy aan? Hoekom gaan bly hy by die grootste skelm in die dorp?” Maar Saggeus se lewe het daardie dag heeltemal verander. Hy het voor die Here gaan staan en vir Hom gesê: “Kyk, van nou af gaan ek anders lewe. Daarom gee ek nou die helfte van alles wat ek besit vir die armes. In die verlede het ek baie mense verkul met geld. Maar ek gaan daardie geld vierdubbel aan hulle terugbetaal.” Jesus sê toe: “Vandag het God jou lewe splinternuut gemaak omdat jy My in jou huis toegelaat het. Jy tel nou ook onder die kinders van Abraham. Almal wat in My glo, is sy nageslag. Jy ook! Ek, die Seun van die mens, het gekom om mense te soek wat op die verkeerde pad leef. Ek maak hulle lewens splinternuut.” Terwyl almal so na Jesus sit en luister, het Hy vir hulle ’n storie vertel. Hulle was nou nie meer ver van Jerusalem af nie en party van sy volgelinge het gedink dat God se nuwe wêreld sommer nou enige oomblik sou aanbreek. “Daar was eendag ’n baie belangrike man. Hy moes toe vir ’n lang tyd van sy grond af weggaan om die hoof te word van ’n koninkryk in ’n naburige gebied. Voor sy vertrek het hy tien van sy werkers laat roep. Hy het toe tien sakkies vol geld gevat en aan elkeen van hulle een gegee. ‘Gaan doen nou goeie besigheid met my geld. Wanneer ek terugkom, moet julle vir my kom sê wat julle daarmee gemaak het.’ “Dié ryk man was nie gewild onder die burgers van die land nie. Toe hulle hoor dat hy vertrek het, het hulle ’n boodskap agter hom aangestuur: ‘Ons hoop nie dat jy ook ons leier word nie, want ons hou niks van jou nie.’ “Kort nadat die man die heerser van die naburige gebied geword het, het hy na sy huis toe teruggekeer. Hy roep toe sy werkers bymekaar om by hulle te hoor wat hulle met sy geld gemaak het. “Die eerste een kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het, gaan vertiendubbel. Hier is nou tien maal soveel as wat u vroeër vir my gegee het.’ “‘Ongelooflik! Jy was getrou aan my selfs tot in die heel kleinste dingetjies. Daarom stel ek jou van nou af aan as die hoof oor tien stede in my landgebied.’ “Die tweede werker kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het vyf maal meer gemaak.’ “Die heerser was bly daaroor: ‘Van vandag af maak ek jou die hoof van vyf stede in my landgebied.’ “Werker nommer drie het toe sy opwagting gemaak en gesê: ‘Ag, Meneer, hier is al die geld veilig terug wat u aan my gegee het. Omdat ek weet u is ’n harde man, het ek besluit om u geld veilig weg te steek. Want u is iemand wat vat sonder om te gee en wat oes waar u nie geplant het nie.’ “Die heerser sê toe: ‘Jy is regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is baie streng en verwag net die beste van julle. Kon jy nie maar my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie man se geld weg en gaan gee dit aan daardie werker wat my geld vertiendubbel het.’ “Die ander werkers was baie verbaas daaroor: ‘Maar, Meneer, hy het dan mos al klaar tien maal soveel geld as aan die begin. Waarom moet hy nog kry?’ “Toe antwoord die heerser: ‘Almal wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en hard te werk met dit wat hulle het, sal nog meer kry. Maar wie niks doen nie, sal uiteindelik ook nog die bietjie verloor wat hulle het. “‘En wat daardie spul mense hier in die omgewing betref wat nie wou hê ek moet die heerser word nie - bring hulle hier en maak hulle dood, sommer hier reg voor my.’” Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit.

LUKAS 19:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. En daar was iemand met die naam Saggeus; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man. Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was. Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan. Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.” Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang. Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!” Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.” Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is. Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.” Nadat die mense na Jesus geluister het, het Jesus self voortgegaan om ’n volgende gelykenis vir hulle te vertel. Die aanleiding was dat Jesus naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die koningsheerskappy van God skielik, ja, enige oomblik sou begin. Jesus het gesê: “’n Sekere man van hoë afkoms het na ’n afgeleë landgebied vertrek om ’n koningskap te bekom en dan weer terug te kom. Hy het sy tien slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.’ Sy landgenote het hom egter gehaat en ’n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning oor ons hê nie.’ “By sy terugkoms, nadat hy die koningskap ontvang het, het hy hierdie slawe aan wie hy die geld gegee het, geroep met die doel om agter te kom watter wins hulle gemaak het. “Die eerste het aangetree en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het ’n wins van tien muntstukke opgelewer.’ Sy reaksie was: ‘Knap gedaan, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was, kry jy nou beheer oor tien stede.’ “Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ Aan hierdie slaaf sê hy toe: ‘Jy kry beheer oor vyf stede.’ “Nog een het gekom en gesê: ‘Meneer, kyk, hier is u muntstuk. Ek het dit in ’n doek gaan wegsteek. Ek was bang vir u omdat u ’n hardvogtige besigheidsman is. U eis wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.’ “Hy sê vir hom: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou nou. Jy is ’n slegte slaaf! Jy was deeglik daarvan bewus dat ek ’n hardvogtige man is wat opvra wat ek nie belê het nie, en oes waar ek nie gesaai het nie. Waarom het jy nie dan maar my geld in ’n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’ “Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee: ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’ Hulle antwoord hom: ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’ “Ek sê vir julle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit. En daardie mense wat teen my vyandig was, wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.’” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe.