LUKAS 19:1-28

LUKAS 19:1-28 AFR53

EN Hy het in Jérigo gekom en daar deurgegaan. En daar was 'n man met die naam van Saggéüs, 'n hoof van die tollenaars en 'n ryk man. En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was. En hy het vooruit gehardloop en in 'n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien, want Hy sou daarlangs verbygaan. En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly. Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang. En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan. Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. EN terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: 'n Man van hoë geboorte het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en 'n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. En 'n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in 'n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u 'n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek 'n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het — en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde — want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het. Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood. En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.