Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. En kyk, daar was 'n man met die naam Saggeus. Hy was 'n hooftollenaar en 'n ryk man. Hy het probeer om te sien wie Jesus is, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang. Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis.” Maar Saggeus het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug. ” Jesus het vir hom gesê: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is 'n seun van Abraham. Die •Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.”
Terwyl die mense hierna luister, het Jesus nog 'n gelykenis vertel, omdat Hy naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die •koninkryk van God nou skielik sou aanbreek. Hy het gesê: “'n Man van hoë afkoms het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te bekom en weer terug te keer. Hy het tien van sy slawe geroep en aan hulle tien mina gegee en vir hulle gesê, ‘Gaan woeker daarmee, totdat ek terugkeer.’ Sy burgers het hom egter gehaat, en het 'n afvaardiging agter hom aangestuur om te sê, ‘Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons heers nie.’
“By sy terugkeer het hy, nadat hy die koningskap ontvang het, die slawe aan wie hy die geld gegee het, ontbied om uit te vind watter wins hulle gemaak het. Die eerste een het kom sê, ‘Meneer, u mina het 'n wins van tien mina opgelewer.’ Hy het hom geantwoord, ‘Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede. ’ Toe het die tweede slaaf gekom en gesê, ‘Meneer, u mina het vyf mina opgelewer.’ Vir hierdie man het hy gesê, ‘Jy moet vyf stede bestuur.’ Toe het die derde een gekom en gesê, ‘Meneer, kyk, hier is u mina, wat ek in 'n sweetdoek weggebêre het. Ek was bang vir u, omdat u 'n streng man is; u vorder in wat u nie belê het nie, en u oes wat u nie gesaai het nie.’ Toe sê die man vir hom, ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel, jou slegte slaaf! Jy het geweet dat ek 'n streng man is, wat invorder wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy nie my geld by die bank belê nie? Dan sou ek wanneer ek terugkom, dit met rente kon kry.’ Hy beveel toe die omstanders, ‘Vat die mina by hom weg en gee dit vir die een wat tien mina het.’ Maar hulle sê vir hom, ‘Meneer, hy het dan al tien mina!’ ‘Ek sê vir julle, aan elkeen wat het, sal gegee word, en van dié wat nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. En daardie vyande van my wat nie wou gehad het dat ek koning oor hulle moes wees nie, bring hulle hierheen en maak hulle hier voor my dood.’ ”
Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem.